1975 matrieks van HGH beplan reünie
Die oudredakteur van die Middelburg Observer, Tobie van den Bergh, skryf met ’n tikkie nostalgie oor Hoërskool Generaal Hertzog se 1975 matrieks wat ’n reünie beplan, omdat hy self daar ’n leerling was.
Vyftig jaar gelede het matrikulante op die skoolbanke van Hoërskool Generaal Hertzog gesit vol verwagting van ’n blink toekoms en met grootmensdrome.
Nou is die meeste van hulle al ‘rumatiekulante’ wat beoog om dalk ’n laaste keer nostalgies te raak oor jare wat was en veral oor 1975.
Daar is die afgelope 50 jaar behoorlik gekap aan die 1975-bos met die hartseer nuus verlede jaar dat die geliefde veearts en klasmaat, Tobie Spies, weens ’n hartaanval oorlede is.
Om te besef hoe vinnig die jare verby gevlieg het, moet mens net in die geskiedenis gaan delf, met televisie wat nie vir daardie klas beskore was nie, Springbok Radio wat sy eerste Top 20 uitgesaai het gebaseer op verkope van kortspeler plate en Sonja Herholdt wat die treffer, “O ek verlang na jou”, opgeneem het.
Om die groep bymekaar te kry, gaan daar in April ’n grootste poging aangewend word om ’n naamlys saam te stel.
Die beplanning is om later die jaar dan ’n reünie te hou in die eMalahleni/Middelburg omgewing.
Die 1975 matrikulante word versoek om hulle:
Noemname en van (vroue ook nooiensvan)
Ja/of Nee ek sal graag so reünie wil bywoon.
Waar is jy tans woonagtig.
Te stuur na Sarel Kotze by 076 159 4425 of sarel.kotze1@gmail.com , Tobie van den Bergh tobievandenbergh@gmail.com of 072 220 1568, oudhoofseun Ferdie Truter by ferdiet@lantic.net 082 724 8337 of onderhoofseun Jan de Jager by 082 893 2784 of jantand@mweb.co.za.
Daar kan ook reageer word op die WhatsApp-groep Klas van 1975 .
Indien daar oudleerlinge is wat foto’s of ander interessanthede het van die 1975 klas kan hulle dit ook aanstuur.
