KYK: Twee sluip deur bosse, steel duisende rande se buit
In ander ontbosde areas het misdaad reeds gedaal
Die gemeenskap se hulp word gevra om nóg ’n nes vir kriminele in die dorp te help skoonmaak, sodat die bosse waaruit hulle besighede en die ou spoorweghuise in Cowen Ntulistraat dophou verwyder kan word, na nog diefstalle by besighede en huise die afgelope naweek.
Me. Yvette Visagie wat in een van die spoorweghuisies tuisgaan, se eiendom is beide Saterdag en Maandag deur diewe geteiken.
Die besigheid langs haar het ook Saterdagaand deurgeloop.
Sy sê dat videomateriaal wys hoe die diewe op die besigheid se muur na haar erf loop, nadat hulle ook artikels by die besigheid gesteel het.
@middelburgobserver Historic Middelburg railway properties, neighbouring businesses a target for criminals.
Sy en haar dogter het Sondagmiddag, toe die beeldmateriaal nagegaan is, gemerk dat daar by die Wendy-huis in hul erf ingebreek is.
Panele van die Wendy-huis is verwyder en die artikels binne die huisie is weg gedra.
Visagie sê dat die Wendy as stoorplek vir huishoudelike artikels gebruik is, en van haar oorlede man se besittings is ook daarin gestoor.
Ma en dogter het Sondag houtpanele teruggekap by die gat in die Wendy, en ook ’n metaalplaat daaroor gemonteer.
Maandagmore het sy gou op die CCTV-kameras gekyk waar is haar hond, en toe weer op vroeëre beeldmateriaal twee diewe in haar erf opgemerk.
Sy het dadelik gaan ondersoek instel, en gesien dat ’n sinkstoor op haar erf dié keer oopgebreek is.
Tydens Maandag se diefstal is duisende rand se toerusting gesteel.
Die diewe het onder meer weg gekom met ’n Weber-braai, grassnyer, rantsnyer, elektriese gereedskap soos sae, ’n hoeksnyer, asook ander handgereedskap.
Daar is ’n groot oop veld vanaf die huise en besighede tot by die treinspoor.
Die veld is toegegroei en bied skuiling vir kriminele.
Visagie sê die enigste manier om die kriminele te stuit, is om die area skoon te maak.
Die area se raadslid sal nou genader word vir ingryping.
In ander areas van Middelburg waar die gemeenskap ingespring het om ooptes te ontbos, het misdaad reeds skerp gedaal.
