Niemand is gyselaar gehou nie!
'n Boodskap wat sê dat iemand moontlik as gyselaar aangehou word, is onwaar.
Daar was beslis nie ‘n gyselaarsdrama in Meyerstraat nie!
Facebook en WhatsApp boodskappe is vanaf 05:00 vanoggend rondgestuur dat “‘n vriend ‘n boodskap gestuur het dat hul dringend hulp benodig.” In die plasing is ‘n gastehuis se naam genoem en die persoon het ook geïmpliseer dat die vriend moontlik as gyselaar aangehou word.
Daar is gevra vir enige hulp, hetsy van die gemeenskapspolisieringsforum (GPF) of ander noodgroepe. Op Facebook is die persoon aangesê eerder die polisie te skakel as om so-iets op Facebook te plaas.
Mark Salzwedel, voorsitter van die AfriForumtak in Middelburg, en ‘n polisielid is dadelik na die adres wat opgegee is, maar met hul aankoms is hulle verseker dat daar niks fout is nie. Hulle is ook na die gastehuis om die hoek, maar ook daar kon niks gevind word nie.
“Ek dink iemand is besig om ‘wolf-wolf’ te roep. Ons het niks fout gekry nie!”
Hy het ook op die Facebook-plasing waarin daar vir hulp gevra is, kommentaar gelewer en gesê dat onwaar boodskappe soos hierdie maak dat vrywillige lede nie meer sal wil uitgaan nie.
