Wit afleweringstrok moontlik gebruik om gesteelde buit te vervoer
'n Wit afleweringstrok is waarskynlik deel van 'n sindikaat wat toeslaan by besighede en hul buit in die trok laai.
Mid Alarms is warm op die spoor van rowers wat by besighede toeslaan en hul buit waarskynlik in ‘n wit afleweringstrok laai.
Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) sê hulle het die afgelope drie maande by ten minste drie van hul kliënte wat onder rooftogte en diefstalle deurgeloop het, agtergekom dat ‘n wit afleweringstrok by die tonele was.
Tydens twee gevalle is die wagte van die besigheide vasgebind om by die buit uit te kom en by die derde geval het hulle net in die perseel ingekom en bande gesteel.
Terwyl hulle CCTV videomateriaal in die omgewing van die voorvalle nagegaan het, het hulle agtergekom dat daar ‘n wit afleweringstrok met ‘n GP-registrasienommer elke keer waarskynlik deel was van die gebeure. Die trok het geen kenmerkende kentekens op nie.
In die jongste voorval in Uitbreiding 33 (nuwe industriële area oorkant die Middelburg Mall) het vyf verdagtes oor die muur geklim en die sekuriteitswag by die waghuisie oorval en vasgebind. Skote is ook afgevuur.
Die ander sekuriteitswag was nie in die waghuis ten tyde van die roof nie en het dadelik die paniekknoppie gedruk toe hy die skote hoor.
Een van Mid Alarms se reaksielede, JP Janse van Rensburg, het dadelikk gereageer op die paniek, maar buite die perseel gebly om te wag vir ondersteuning van hul ander reaksielede.
Terwyl hy gewag het, het hy besluit om buite om die perseel te loop om te kyk of alles reg is. Op dieselfde oomblik het die booswigte oor die muur gespring en weg gehardloop. ‘n Wit afleweringstrok het ook vinnig die toneel verlaat.
JP het die verdagtes agterna gesit, een van hulle in ‘n bos vasgetrek en aan die polisie oorhandig.
• Johan noem dat hulle intussen met ‘n informant gepraat het, wat vir hulle baie belangrike inligting verskaf het oor wie deel van hierdie spesifieke sindikaat is wat besighede in Middelburg teiken.
Hy doen ‘n beroep op ander besighede (al is dit nie van Mid Alarms se kliënte nie) wie moontlik ook slagoffers was van die bende en die wit afleweringstrok (of soortgelyke afleweringstrok) in die omgewing van die inbrake of rooftoge gesien het, om hom te skakel by 082 802 6399.
