Angs toe ‘polisie’ skakel, vrou beskuldig van mensehandel en ‘borg’ eis
’n Vrou is vir meer as drie ure geïntimideer deur mense wat hul voorgedoen het as polisielede
’n Vrou het vertel van angsvolle drie ure toe mense wat hulle voorgedoen het as polisielede haar geskakel het en van ernstige misdrywe beskuldig het.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, sê haar man is die oggend gou Gauteng toe en was sy alleen tuis. Die volgende oomblik het die selfoon begin lui en het haar dag in ’n nagmerrie ontaard.
Sy meld dat hulle haar per video-oproep gekontak het, maar dat sy hulle nie kon sien nie, maar dat hulle kon alles sien wat sy doen.
“Hulle het gesê hulle is van die Bloemfontein polisie en dat hulle ’n pakkie gekry het met dwelms wat ek versprei het! Ook dat daar 118 mense is wat teen my sal getuig dat ek ook betrokke is by mensehandel.”
Daar het verskillende mense met haar gepraat en het deurentyd vir haar gesê dat sy haar hande moet hou waar hulle dit kan sien. Sy moes ook die videokamera in die rondte om haar draai sodat hulle kan sien daar is niemand anders by haar nie.
“’n Vrou het tot op ’n stadium vir my gesê hoe sal ek voel as hulle my kind vat en haar verkoop en ek sien haar nooit weer nie! Sy het aanmekaar gevra hoekom ek geld gevat het vir kinders!”
Sy het die foon doodgedruk en haar man geskakel, wat dadelik vanaf Gauteng na Middelburg gejaag het.
Minute later het die foon egter weer gelui en het die ‘polisielede’, wat baie oortuigend was, vir haar gesê dat hulle al hul bates gaan vries en is daar selfs vir haar ‘polisiedokumente’ gewys dat hulle by magte is om dit te doen.
“Ek kan nie glo dat ek hulle begin glo het nie, maar hulle was baie intimiderend en daar was die hele tyd ’n polisiewapen op die video.”
Wat haar ontstel is dat hulle haar naam, ID-nommer en ander persoonlike inligting van haar gehad het.
Daar is verder vir haar gesê as sy vir enigiemand sou vertel dat sy gekontak is, gaan hulle haar dadelik gaan kom arresteer.
“Een van hulle het selfs gesê hulle is hoër as die Valke in die polisie!”
Na sowat drie ure se intimidasie, het die groep vir haar gesê sy kan R3 000 borg vir hulle oorbetaal en dan sal sy nie gearresteer word nie.”
Haar man was teen daardie tyd al in Middelburg. Hy het gery polisiestasie toe en hulle vertel van die oproepe na sy vrou toe. Die Bloemfontein polisie is gekontak, wat hulle verseker het daar is géén sake teen sy vrou nie.
Hulle is meegedeel dat daar tans verskeie swendelaars is wat duisende rande maak deur mense met bangmaakstories oortuig om geld oor te betaal.
- Die Observer het die voorval onder die aandag van die polisie se provinsiale mediakantoor gebring, wat dit duidelik gemaak het dat die polisie beslis nie per selfoon sal vra dat borg oorbetaal moet word nie. As mense onseker is oor enigiets wat per selfoon vir hulle gesê word rakende polisiesake, is hulle welkom om die naaste polisiestasie te kontak.
