Video: Honde en ‘hok’ oor hekmotor laat diewe spaander
Was dit nie vir 'n behoorlike 'hok' en drie honde nie, sou nog 'n hekmotor in die slag gebly het.
Twee hekmotordiewe het moed opgegee in Leydslaan (Dennesig) toe hulle vasgeloop het in ‘n behoorlike ‘hok’ om ‘n hekmotor en drie kwaai honde.
Jaco Breytenbach se honde se geblaf het hom vanoggend om 01:47 wakker gemaak en het hy dadelik opgevlieg.
Hy het sy kringtelevisiekameras se beeldmateriaal teruggespeel en gesien dat hy twee ‘besoekers’ in sy erf gehad het.
“Gelukkig het hulle nie weggekom met my hekmotor nie!” sê hy verlig en voeg by dat ‘n goeie hekmotor al by die R8 000 beloop.
Hy was al voorheen ‘n slagoffer van hekmotordiewe en het dadelik die sekuriteit by sy huis opgeskerp. Hy het ‘n staalpenne bo-op sy hening gesit en ook ‘n staalhok om die hekmotor gebou.
“Een van die diewe het egter by die bure oorgeklim en van daar af in my erf ingekom!”
Die dief het met die hekmotor begin peuter, maar kon dit nie regkry om dit uit te breek nie.
Die volgende oomblik het sy honde egter op hom afgestorm en het hy in die hoek van die erf weer teen die muur oorgeklim. ‘n Mens sien hoe die honde retireer en is daar ‘n beweging asof die persoon iets na hulle swaai. Dit het hulle ietwat laat skrik en kon die boef vinnig uitklim.
Jaco meld dat daar sowat 20 minute later ‘n wit voertuig sonder ligte in die straat afgery het en net nadat dit verby sy huis is, weer die ligte aangeskakel het.
Hy glo dat die diefstal van hekmotors nou al ‘n sindikaat geword het. Hy het besluit om dit nog moeiliker vir die diewe te maak, deur ook ‘n alarm op sy hekmotor te installeer.
Hy noem dat die D5 Smart hekmotor so ontwerp is, dat daar ‘n 12 volt alarm daaraan gekoppel kan word. “Sodra daar net effens aan die hekmotor geruk word, gaan daar dan ‘n alarm af! Dit is al wat ons nou kan doen om dit moeiliker vir hulle te maak!
In die laaste paar maande het daar nou al tientalle hekmotors regdeur die dorp, veral in Kanonkop, Dennesig en Gholfsig verdwyn. In duidelike videomateriaal wat verskaf is, kon ‘n mens sien hoe diewe vroeër die week binne sekondes ‘n hekmotor uitgeruk het in Impalastraat, Kanonkop.
As die booswigte jou hekmotor steel, stuur vir die Middelburg Observer ‘n WhatsApp by 072 248 3855 met die straatnaam en wanneer dit was, sodat ons die gemeenskap op hoogte kan hou waar die diewe opereer. Foto’s en videos kan ook na die bogenoemde nommer gestuur word.
@middelburgobserver Gate motor thieves strike again in Middelburg! This time, a bracket and guard dogs in Leyds Street, Dennesig stopped them in their tracks.
