Plaaslike onderwyser geskors ná seksuele aanranding
Die strafsaak waarin hy beskuldig word, hervat op 2 September.
’n Plaaslike mansonderwyser se skorsing uit die beroep het gister opslae gemaak nadat hy deur ’n tribunaal van die Onderwys Arbeidsverhoudingsraad skuldig bevind is aan die seksuele aanranding van ’n 15-jarige skooldogter.
Hy is tydens die tribunaal, waar sy vrou ook getuig het, summier uit die onderwys geskors en mag nooit weer in ’n klaskamer staan nie.
Die onderwyser is ook vroeër vanjaar gearresteer en op borg vrygelaat. Alhoewel die dissiplinêre verhoor tot ‘n skuldigbevinding en ontslag gelei het, duur sy strafregtelike vervolging voort. Die man sal volgens die Nasionale Vervolgingsgesag weer op 2 September in die hof verskyn.
Die dissiplinêre klagte het gespruit uit ’n voorval in 2024 waartydens hy die graad agt dogter gevra het om papierwerk by sy huis, op die skoolterrein te gaan haal, waar die gewraakte voorval plaasgevind het.
Middelburg Observer identifiseer nie die slagoffer, onderwyser of die betrokke skool nie, maar het verneem dat gemeenskapslede betrokkenes met onder andere foto’s identifiseer.
Die publikasie het insette van mediaregprokureur, Helene Viljoen, bekom.
Viljoen het beklemtoon dat die identifisering van die slagoffer op enige platform, vermy moet word.
“Wanneer kinders deur voorvalle soos hierdie geraak word, vereis die Grondwet dat Suid-Afrikaners die belange van ons kinders eerste stel,” het sy verduidelik.
“Enigeen wat op die onderwyser se skorsing reageer deur sy slagoffer te identifiseer, se optrede druis lynreg in teen hierdie grondwetlike bepaling.”
Dit is ook, volgens Viljoen, belangrik om te onthou dat minderjarige slagoffers wat betrokke is by strafregtelike vervolging nie in die openbaar geïdentifiseer mag word nie. “Dit is in terme van die Strafproseswet wat in 2019 deur ‘n Konstitusionele Hof uitspraak sodanig gewysig is.”
Hierbenewens, verduidelik Viljoen, verbied die Strafproseswet die identifisering van ‘n beweerde seksuele oortreder voordat hy op die aanklagtes teen hom, gepleit het. Die Nasionale Vervolgingsgesag kon nie teen druktyd bevestig of die beskuldigde reeds gepleit het nie.
Jasper Zwane van die departement het wel bevestig dat die onderwyser geskors is en kriminele klagtes in die gesig staar.
- Die skokgolf wat die spogskool getref het, volg op ’n soortgelyke voorval waar ’n wiskunde onderwyser by Kwazamokuhle Secondary ook vanjaar strafregtelik skuldig bevind is aan seksuele aanranding op ’n leerling in sy klas. Leonard Soviya is ook uit die onderwys geskors nadat hy skuldig bevind is aan seksuele aanranding. Die Middelburg Observer het net verlede week oor dié saak berig. Dit word beweer dat beide onderwysers hul slagoffers versoek het om nie oor die voorvalle te praat nie.
