Dissiplinêre verhoor vandag na motorfietsongeluk wat jong man se lewe eis
Die jong mans wat saam met Kevin Myburgh was die aand van sy dood, sal vandag dissiplinêr by hul werk verhoor word.
‘n Dissiplinêre verhoor word vandag gehou by die besigheid waar Kevin Myburgh gewerk het. Kevin (23) het Maandagaand gesterf in’ n motorfietsongeluk.
Kevin was die afgelope vier maande werksaam by Dewatering Solutions Africa (DSA).
Carol Steenkamp het as woordvoerder van die maatskappy hul innige meegevoel met Kevin se familie betuig. “Ons is stukkend. Sy werk was altyd netjies en hy het met almal oor die weg gekom.”
Sy het gemeld dat sy hom nog Maandagoggend met sy goeie uitslae met die induksie wat gedoen is voor hulle by die myn moes gaan werk, gelukgewens het.
Hy het ook die standaard leuenverklikkertoets wat gedoen is met vlieënde vaandels geslaag.
“Die leuenverklikkertoets het net bevestig wat ons reeds geweet het. Dat Kevin ‘n goeie seun was.”
Sy sê hulle was baie opgewonde oor Kevin en die res van die jong dinamiese span wat almal net etlike maande werk. Dit was juis hulle wat saam met Kevin die aand was.
Sy sê sy sal nooit Maandagaand uit haar geheue kan wis nie.
Carol en haar man, Willie, een van die direkteure van DSA, is deur Mid Alarms gekontak met die nuus dat daar ‘n ongeluk was. Hulle het DSA se twee voertuie (die Hilux en Land Cruiser) op die ongelukstoneel herken.
“Ek sal nooit daardie silwer kombersie oor Kevin in die Land Cruiser vergeet nie, ” het sy hartseer gesê.
Hulle het op die toneel probeer uitvra wat gebeur het, maar Kevin se kollegas was te geskok om behoorlik alles weer te gee.
Carol het gesê dat daar ’n dissiplinêre verhoor gehou word na aanleiding van die gebeure.
“Ons gaan alles in ons vermoë doen om by die waarheid uit te kom.”
