News

Nog ’n weergawe van motorfietsongeluk waarin 23-jarige sterf

Verskeie mense het die Observer geskakel met stukkies inligting oor wat Maandagaand tydens die ongeluk gebeur het, wat gelei het tot Kevin Myburgh se dood.

Die afgelope paar dae was daar talle bespiegelings oor wat Maandagaand gebeur het tydens die motorfietsongeluk in Cowen Ntulistraat.

Kevin Myburgh het gesterf in ‘n Toyota Land Cruiser.

Hy was kort voor sy afsterwe in ‘n motorfietsongeluk waar hy deur ’n voertuig getref is. Na die ongeluk is hy opgetel en in die Land Cruiser gelaai, waarna hy gesterf het.

‘n Bron, wat anoniem wil bly, het die grootste gedeeltes bevestig wat Louwtjie Swart (van Louws Towing & Recovery) vertel het.

Daar is egter bygevoeg dat Kevin nie op die motorfiets was tydens die eerste ongeluk nie.

Die bron sê die groep vriende (wat ook kollegas is) het wel vanaf ’n kuierplek gery in die Land Cruiser, ‘n Toyota Hilux en ‘n motorfiets.

Daar is gemeld dat Kevin in een van die ander twee voertuie was, toe hulle kort voor 23:00 by die kuierplek weg is.

Op die hoek van Samora Machel en Aquamarinestraat het die Land Cruiser klaarblyklik die motorfiets gestamp en het die persoon geval. Sy naam is genoem, maar word dit weerhou omdat die saak nog ondersoek word.

Die man was nerfaf en seer na die val, maar die motorfiets was nog rybaar.
Volgens die bron het Kevin, wat ‘n bedrewe motorfietsryer is, klaarblyklik aangebied om verder met die ander persoon se motorfiets te ry, omdat die ander man seergekry het.

Kevin het voor gery met die motorfiets, met die twee voertuie agterna in Samora Machelstraat, waarna hulle links gedraai het in Cowen Ntulistraat.

Dit blyk dat Kevin skielik gestop het vir iets en het die Land Cruiser ook gestop.
Daar is vertel dat die bestuurder van Hilux uitgeswaai het om nie die Land Cruiser te tref nie. In die daaropvolgende gebeure is die bewering nou dat die Hilux oor die motorfiets en Kevin gery het.

Ook is gesê dat die Hilux wel gestop het en dat een van die ander mense op die toneel daarmee weggery het. Die Hilux is later teruggebring na die toneel toe.

“Hulle wou nie vir Kevin verder beseer deur hom op te tel nie. Hulle wou omdat hy so erg beseer was, self met hom jaag hospitaal toe,” het een van die bronne gesê.

Daar is aanvanklik vir die Observer gesê dat drie persone gearresteer is. Twee is egter gearresteer.
Die saak is egter nie op die hofrol geplaas nie, omdat die dossier onvolledig was.

‘n Strafbare manslagsaak word ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button