Al meer kerke is te koop, gemeentes smelt saam
Die fliek van ds Tienie Benade word ’n werklikheid.
“Kerk te koop”.
Ondenkbaar?
Glad nie!
Die fliek van ds. Tienie Benade is lankal meer net ’n fliek nie, dit is ’n werklikheid.
Kerkleiers het die afgelope week bevestig dat al meer kerke verkoop word, omdat gemeentes ter wille van oorlewing saamsmelt.
Die Middelburg Observer het al in Oktober 2019 berig oor twee kerke wat op die dorp in die mark is en Netwerk24 het verlede jaar berig dat tot soveel as 50 NG Kerke gesluit of verklein is.
Alhoewel daar nie inligting beskikbaar is vanaf kerkgroepe aan wie die kerke verkoop is nie, is ten minste een kerk behou en ’n restaurant langsaan gebou en nog een is aanvanklik vir ’n hoërskool se kultuursentrum gebruik.
In die fliek “Dominee Tienie” is ds. Benade ’n middeljarige predikant van die Moedergemeente. Die gemeente se getalle daal drasties, die skuldlas groei en sy senior kerkraadslede is dwarstrekkerig en te oud om van hulp te wees.
Die vraag is of daar nog ’n plek is vir die kerk en ’n dominee.

Na ’n voorval met ’n sterwende hawelose man kom dominee Tienie voor ’n kruispad en hy twyfel of hy nog ’n doel dien. Sy onsekerheid word in hoop omgeskakel en hy glo uiteindelik weer dat hy wel geroep is en dat die gemeente hulle deure vir “almal” moet oopgooi.
Die radikale verandering in die demografie waar gemeentes geleë is, het veroorsaak dat ds. Tienie se verhaal ’n werklikheid geword het.
Dit het tot gevolg dat die voortbestaan van die land se oudste kerke bedreig word.
Die meeste is Afrikaanse kerke.
Die geskiedkundige Witkerk op Middelburg, wat in 2017 sy 150ste bestaansjaar gevier het, is een van hulle.
Die kerk is deesdae omring deur taxis, haweloses, ’n vervalle Van Blerkplein en het ’n voedingsbron van bejaardes.
Daar is al voelers uitgesteek om saam te werk met die NG Dennesig-gemeente, wat self die laaste paar jaar ’n dalende gemeentetal het, maar daar het niks van gekom nie.
Ds. Jaco van Rooyen, van die Witkerk, sê die NG Kerke op die dorp gaan volgende jaar vergader om te besluit “hoe gaan die NG Kerke op die dorp voortbestaan”.
Die Klipkerk in eMalahleni, wat in November 1920 al sy hoeksteenlegging gehad het, moes behoorlik planne beraam om te oorleef, waaronder uitverhuring van parkeerplekke en ’n Engelse gemeente wat van die fasiliteite huur.
Die kerk was eens op ’n tyd een van die grootste gemeentes op Witbank maar is soos die Witkerk nou in ’n see van die nuwe onvriendelike Suid-Afrika vasgevang.
Ds. Jim de Villiers van die Klipkerk sê “mens moet besluit hoe oorleef jy?”
“Die demografie om die kerk is nou Nigeriërs, Ethiopiërs en ander bevolkingsgroepe.”

’n Voorbeeld van hoe ’n veranderde Suid-Afrika kerke op ’n eiland van prostitusie, dwelmhandel, leeglêery, drankmisbruik, misdaad en wanorde gelaat het, kan by die Witbank NG Suid Kerk, Trappies Kerk, gesien word. Die demografie het handomkeer verander en daar is van die vier predikante nou net een oor, met aandaktiwiteite onmoontlik weens die agteruitgang van die omgewing.
Die Vallei NG Gemeente op die dorp het in dieselfde dilemma beland, met die meeste inwoners om die kerk wat nie meer Afrikaans was nie. Die kerk, het met Klipfontein saamgesmelt en die kerkgebou is verkoop.
Inwoners op Middelburg was ses jaar gelede geskok toe ’n eiendomsagent se bordjie voor die Gereformeerde Kerk in Kanonkop sy verskyning gemaak het. Die kerk is intussen ook verkoop en die gemeente het met die Moedergemeente saamgesmelt.
Dr Francois Kruger, wat 33 jaar ’n leraar van die gemeente was voor sy aftrede, het destyds gesê dit is vir hom hartseer dat die kerk verkoop is.
Volgens ’n internet soektog het dieselfde met die Gereformeerde gemeentes op eMalahleni gebeur, ’n jaar nadat Suidoos en Witbank saamgesmelt het as die Gereformeerde Kerk Hoëveld het die enigste oorblywende gemeente op Witbank se belydende lidmate 609 getel en die dooplidmate 135.
Die syfers in 2015 was 361 en 70. Die Gereformeerderse Kerk op Witbank se getalle het van 2001 tot 2015 met amper 49 persent afgeneem, die belydende NG lidmate met 20 persent en die belydende Hervormde lidmate met net meer as 33 persent, volgens die Google-soektog.
Die Hervormde Kerk langs Hoërskool Generaal Hertzog in eMalahleni was in die sewentig- en tagtigerjare Sondae volgepak, maar predikante op die dorp sê die getalle het so gedaal dat daar skaars 20 lidmate oorgebly het.
Die kerk is aan die skool geskenk, wat dit later teruggegee het, weens die hoë onderhoudskostes. Die kerk is intussen ook verkoop.
Nog ’n Hervormde Kerk wat sy deure gesluit het is die een op Stoffberg, terwyl Belfast sy deure nouliks oop hou met lidmaatgetalle wat van ongeveer 200 na sowat 20 gedaal het.
Maar dit is die storie van Afrikaanse Kerk in Suid-Afrika.
Ds. Tienie Benade kon darem sy kerk se deure oophou.
Honderde ander predikante kan nie meer nie.
En nou staan daar al meer te koop-bordjies voor kerkgeboue.
