Kerke in die kollig – Kerkleiers stem saam, Afrikaanse kerke loop leeg
Daarom smelt gemeentes al meer saam.
Kerkleiers is dit eens, Afrikaanse kerke het die afgelope paar jaar lidmate in groot getalle verloor en is onder geweldige finansiële druk.
Die Middelburg Observer het by hulle gaan kers opsteek.
Die volgende vrae is gestel: Hoeveel NG Kerke is die afgelope vyf jaar verkoop of is gesluit? En, is daar nog kerke wat die gevaar loop om te sluit?
Prof Cobus van Wyngaard – Assosiaat Professor in Sistematiese Teologie, Unisa – Voorsitter van die Algemene Taakspan Navorsing van die NG Kerk:
Ek het ongelukkig nie vir jou ’n antwoord nie. Dis moontlik dat ek oor so ses tot nege maande ’n prentjie sal hê vir die 2022-2026 periode, maar dis nie tans op die tafel nie.
Daar word geen sentrale rekord gehou van aan wie die kerke verkoop is nie, omdat elke gemeente ’n eie regspersoon is wat met sy eie eiendom handel. Alle kerkgeboue wat ek van weet wat verkoop is, is weer aan ander kerke verkoop.
Dit sal sekerlik altyd ‘n risiko bly, maar daar is ook interessante stories van gemeentes wat nie toemaak nie, al verwag mense dat hulle sou. Die onlangse publikasie by CLF, Bakengemeentes, vertel iets van hierdie stories.
Dr Déwyk Ungerer – aktuaris van die NG Kerk se algemene sinode:
Inderdaad het die NG Kerk (soos ander Afrikaanse kerke) oor die afgelope jare lidmate as gevolg van verskeie redes verloor. Naas lidmaattal wat daal, het die gemeentes ook finansiële uitdagings as gevolg van die land se ekonomie.
Dr. Wymie du Plessis – Administratiewe Bestuurder Gereformeerde Kerke:
Daar is van die kerkgeboue verkoop, soos byvoorbeeld in Middelburg Mpumalanga was daar twee Gereformeerde gemeentes waar die een gemeente, Middelburg-Noord, weer saamgesmelt het om een gemeente te vorm. Daarom het hulle besluit om die een gebou te verkoop, en glo my dit was blykbaar nie ’n maklike besluit nie – veral van die ouer lidmate het heftig beswaar gemaak.
Maar die werklikheid is, die lidmate word ouer en minder en die oorblywende lidmate kan nie groot kerkgeboue/eiendomme onderhou nie.
Dr Wouter van Wyk – Sekretaris: Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Hervormde Kerke:
Dit is inderdaad so dat ons land se demografie oor die afgelope drie dekades dramaties verander het. Die geboortesyfer onder lidmate van die Afrikaanse hoofstroomkerke het met tussen 75 en 80% afgeneem, en dit wys natuurlik ’n geslag later in die veel kleiner getalle studerende en werkende jongmense in ons gemeentes.
Dieselfde tendens kan natuurlik by Afrikaanse skole en tersiêre instellings waargeneem word. Emigrasie en ’n groter mate van kerkloosheid het verder bygedra tot krimpende lidmaattalle in ons gemeentes.
’n Verdere belangrike faktor is die ontvolking van die platteland, wat onder meer met die sluiting van myne, fabrieke, poskantore, banktakke en kleinhandelwinkels saamhang.
Dit het tot gevolg dat jongmense wat op die platteland grootword, vir studie- en werkgeleenthede stad toe trek en nie weer terugkeer nie. In die stede het die middestadgebiede toenemend vuil en onveilig geword, sodat ons lidmate al meer na nuwe voorstede getrek het.
Die gevolg is dat ons ou kerkgeboue het waar ons lidmate nie meer woon nie, en lidmate wat nou op plekke woon waar ons dikwels nie kerkgeboue het nie.
Daar is ’n konsolidasie van lidmate in gemeentes van ’n ekonomiese grootte nodig.
Daar is nie meer regverdiging vir vier Hervormde gemeentes op Witbank of twee op Brits of Louis Trichardt of waar ook al nie. Die konsolidasie is veral nodig sodat ons ’n meer lewenskragtige bediening kan hê (kategese, jeug, uitreik, barmhartigheid, ensovoorts) en sodat ons die beperkte getal predikante wat ons beskikbaar het, produktief kan aanwend.
Daarom is daar inderdaad deurlopend gemeentes wat oortollige geboue vervreem, veral waar die instandhoudingskoste van die geboue ’n las eerder as ’n bate maak. Twee voorbeelde: Gemeente Newlands in Johannesburg en Gemeente Pretoria-Wes.
In albei gevalle is daar behoorlike kerkordelike prosesse gevolg waar gemeentes met mekaar saamgesmelt het om die voortsetting van ’n effektiewe bediening te verseker.
Ek het nie getalle vir die hoeveelheid kerkgeboue wat verkoop is nie, maar so ver ek weet, is die geboue in alle gevalle aan ander kerke verkoop (kerke wat wel nou lidmate in die betrokke gebied het, en dus die verkondiging van die evangelie daar voortsit).
Pastoor Renier Pelser – Sekretarisgeneraal van die Volle Evangelie Kerke:
By die Volle Evengelie Kerke gebeur die teenoorgestelde en een van die redes is omdat die Volle Evangelie Kerk werklik ’n diverse kerk is.
Ons het gemeentes waar Engels, Afrikaans en talle ander tale, sterk verteenwoordig is.
Met meer as duisend gemeentes landwyd is ons wydverspreid en stewig gevestig.
Hoewel dit finansieel nie met al die gemeentes ewe goed gaan nie, hoofsaaklik weens die uitdagings van die ekonomie, is ons dankbaar dat daar steeds nuwe gemeentes in verskeie dorpe geplant word.
- Daar is ook navraag gedoen by die Apostoliese Geloofsending, wat nie gereageer het nie.
