News

‘Ek verloor my pa een dag op ’n slag…’

Die rou werklikheid van ’n siekte waaroor mense grappies maak.

Franzette van Niekerk stort haar hart uit…

Alzheimer het my pa se geheue gesteel, maar ook sy naam, sy respek en sy grappies.

Ek onthou hoe ons as kinders by die fotografiewinkel ingehardloop het om ons goed te red, kameras en alles wat waardevol was, uit te dra.

Buite het ons saam met my ouers gestaan en kyk hoe die Midpark-sentrum in die nag vlamvat.

Jy kyk net. Jy kan dit nie keer nie.

Die reuk van rook klou aan jou klere, en die swart roet teen die mure gaan nooit heeltemal af nie, al spuit jy dit ure lank met ’n hoëdrukspuit.

Daardie gevoel het by my gebly as kind, en nou voel ek dit weer. Net hierdie keer brand dit nie in ’n gebou nie, maar in my pa se brein.

My pa was ’n man van vele talente en hande wat altyd iets vasgevang het: beelde, musiek, klank, lig.

’n Kamera om die nek, altyd gereed om die perfekte foto vas te vang. Nie honderd probeerslae soos mense vandag doen nie. Net een, presies gestel, want hy het geweet hoeveel werk agter elke druk van die knoppie lê.

Albert en Jeanette Smit.

Hy het die eerste eenuur fotografie laboratorium in Suid-Afrika begin. Jy het jou rolfilm ingegee, en ’n uur later het hy dit aan jou teruggegee: herinneringe op glans- of matpapier.

Hy het kitaar gespeel, musiek opgeneem, en by feeste gesorg dat die klank reg is en die ligte mooi val. Hy was lewendig. Hy was kreatief. Hy was betroubaar. Hy was my pa.

En hy was snaaks. Hy kon altyd ’n grappie vertel om ’n kamer ligter te maak, selfs op dae wat swaar was. Sy humor was droog en slim, soms net ’n klein opmerking wat almal om die tafel laat huil het van die lag.

Ek onthou hoe hy met sy geselskap ’n vertrek kon vul met ligtheid. Nou is dit stil. Die grappies het saam met die woorde verdwyn.

Maar nou en dan, heel onverwags, gebeur dit steeds. Hy kyk op, sy oë kry daardie vonk wat ek so goed ken, en hy lag.

Net ’n slag of twee, soms sonder dat ons weet hoekom. Daardie lag is soos ’n sonstraal wat deur ’n wolk breek. Dit herinner my aan die man wat hy was, en dit hou my staande vir nog ’n dag.

En toe begin ons hom stadig verloor. Nie in een dramatiese oomblik nie, maar in klein, skerpsnyende stukkies.

So stadig dat jy eers dink jy verbeel jou: ’n verkeerde draai op pad kerk toe, ’n floute in my arms voor my kollegas terwyl ek skree dat iemand ’n stoel moet bring.

Daardie onseker kyk in sy oë sonder woorde om te verduidelik. Die dag toe die neuroloog die woorde uitspreek: Alzheimer’s. Demensie. Het ons wêreld ineen gestort.

Jy weet dit is ongeneeslik. Jy weet dit gaan net erger word. Jy weet jy verloor jou geliefde, stadig, bietjie vir bietjie, terwyl hy nog asemhaal.

Alzheimer’s voel soos ’n foto wat elke dag ’n bietjie vaaler word, totdat daar net dowwe kontoere oorbly van iemand wat jy liefhet.

Daarna het die aftakeling vinniger gekom. Ons moes sy kar wegvat. Sy vryheid. Sy trots.

Ek onthou hoe ek die sleutels in ’n laai weggesteek het, en die skaam-hartseer in sy oë toe hy besef dat hy koffie in die ketel probeer kook het. Sy beursie onder die matras weggesteek nadat ons almal gedink het dit was gesteel.

Hy het sy spaargeld in my hand kom druk en gefluister dat ek dit moet wegsteek, want hy vertrou nie meer die wêreld om hom nie.
Soms het ek hom met ’n roomys moes omkoop net om weer huis toe te kom.

En tog verstaan ek nie hoekom mense dink dat, sodra iemand oud word, hulle sommer net ‘oupa’ genoem kan word nie.

Net omdat iemand ouer is beteken dit nie sy naam, sy identiteit en sy respek moet verdwyn nie.

My pa is nie net ’n gesig in ’n rolstoel nie. Hy is nie net ‘oupa’ nie. Hy is Meneer Smit of Oom Albert: ’n man wat sy hele lewe gewerk het, ’n man wat sy gesin onderhou het, ’n man met trots en waardigheid.

Alzheimer’s vat al genoeg weg. Moet ons nou ook nog sy naam en sy menswees van hom wegvat?

Elke dag moes ons toekyk hoe die siekte stadig sy liggaam ook opeis. Eers het hy nog skuifelend geloop, maar in die aande wou hy altyd huis toe gaan.

Later het die rolstoel gekom. Nou dra hy doeke. Hy moet gevoer word. Hy sit ure lank in stilte, soms net starend in die niet.

En tog, dan gebeur dit: uit die bloute, op ’n dag wanneer ek self nie meer krag het nie, kyk hy my aan, sy oë blink-nat, en hy fluister: “Ek’s lief vir jou.”
Kort, eenvoudige woorde: kos vir my siel.

Want ek weet, môre kan hy vergeet wie ek is.

Alzheimer’s steel nie net ’n geheue nie. Dit steel waardigheid.

Dit steel ’n vrou se maat. Dit steel kinders se pa en kleinkinders se oupa.

Dit steel jou vreugde, jou geduld, jou krag. Dit los jou uitgeput, leeg, rou.

Dit laat jou in stilte skree, want jy sien hoe iemand wat jy liefhet stadig verdwyn, en jy kan dit nie keer nie.

Ek skryf dit nie om simpatie te vra nie. Ek skryf dit omdat mense moet weet: Alzheimer’s is nie net vergeetagtigheid nie. Dit is ’n genadelose siekte wat nie net een persoon tref nie, maar ’n hele gesin.

En agter elke pasiënt is ’n versorger wat ook stadig opbrand, emosioneel, fisies, finansieel. Ons het ondersteuning nodig. Ons het begrip nodig. Ons het mense nodig wat nie wegkyk nie.

Alzheimer’s is die langste afskeid wat jy ooit gaan neem…

Albert en Jeanette Smit was twee weke gelede 56 jaar getroud. Die foto is op hulle troudag geneem.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button