Familielede stort harte uit oor die lang totsiens, plant forget-me-nots
Forget-me-nots geplant deur geliefdes by tehuis.
Alzheimer’s se Siekte en dementia vra nie vrae nie. Hy klop aan enige deur. Of jy nou ’n parlementslid, dominee, huisvrou, sakeman, of wie ookal is.
Nadat ’n Franzette van Niekerk verlede week haar hart uitgestort het oor haar pa, Albert Smit, wat Alzheimer’s het, het verskeie mense navore gekom om hulle worstelstryd te deel.
Sy het die dapper besluit geneem om mense oor die siekte in te lig en is uit verskeie oorde daaroor lof toegeswaai.
Skielik was daar nie net ’n siekte met ’n naam nie, maar ’n gesig wat alles daaroor verduidelik.
Albert was ’n geliefde sakeman op die dorp wat onthou word vir die puik videos wat hy gemaak het van troues tot skoolkonserte.
Sy gesin loop steeds ’n pad van daaglikse uitdagings nadat hy met Alzheimer’s gediagnoseer is.
Een van die persone is Loutjie Maritz wat 17 wedstryde vir Suidoos-Transvaal rugby gespeel het.
Sy vrou, Gerda, word in die SAVF Tehuis versorg.

Loutjie skryf:
Dit het alles begin by klein foutjies; sleutels weerlê, afsprake vergeet, name en mense vergeet, soutlose kos, onvolledige resepte.
’n Afspraak by ’n neuroloog het bevestig daar is verkalkte are en dit is die begin van dementia.
Die aanvanklike denkrigting was “ons sal dit oorkom en bestuur”.
’n Paar maande later moes ek die huishouding oorneem.
Langsamerhand begin sy haar balans verloor en val gereeld. Ek moes haar stort, aantrek, hare kam, grimering aansit.
Die kleinkinders sukkel om te aanvaar daar is nie meer sop of pannekoeke na skool nie.
Die dokter beveel later ’n versorgingsoord aan en so begin ’n nuwe hoofstuk in ons lewe by Middelburg SAVF siekeboeg.
Op ’n daaglikse basis vat ek haar vir ’n stappie om die perseel, sy gesels met ander pasiënte en stoot rolstoele rond.
Stelselmatig raak sy al swakker, die stappies droog op, die woordeskat droog op, vriende en familie word nie meer herken nie. Kommunikasie verander na geluide. Die liggaam gee in, sy kan nie meer staan of loop nie.
Die vrae word al meer, die verstaan van die siekte al minder.
Die liefdevolle etevoering word met ’ְn bekommerde gevoel vervang.
Ek probeer my ervarings en gevoel op papier vasvang en skryf:
Dit was verskriklik seer om jou so te sien wegkwyn.
Maar as daar een goeie ding hieruit gekom het, is dat ek God leer ken het tydens jou siektereis.
Net die Skepper sal weet hoe lank nog.
Die SAVF personeel se engele staan haar by, die pad sou veel moeiliker gewees het sonder hulle.
Nog ’n inwoner van die SAVF Tehuis se dogter skryf onder ’n skuilnaam:
Alzheimer’s word genoem “die lang totsiens”.
Wees bly jy het ’n kans om hulle nog bietjie lief te hê en te versorg, hoe moeilik dit ookal is.
Moenie alleen verantwoordelik voel nie, daar is versorgers wat opgelei is om te help.
Ek het skuldig gevoel om haar in ’n versorgingsoord te sit, maar weet nou dit is die beste.
Mamma se eie Linda skryf:
Wat ek nou sien is ’n totale ommekeer van die persoon wat mamma was. Ek krimp ineen en huil magteloos as ek mamma se verwarring, angs, onsekerheid en kinderlikheid ervaar.
’n Anonieme dogter skryf:
Die ma wat ons geken het, wat alles vir ons gedoen het, die suksesvolle vrou wat 50 jaar lank in die bank gewerk het, het verdwyn, haar hele menswees en lewe raak stuk vir stuk voor ons oë weg.
Sy het verander in ’n kind en ons is nou die ouers.
My enigste hoop is dat my ma nog kan droom en dat sy alles in haar drome kan onthou…al is dit net vir daardie paar sekondes, tot die droom eindig…
- Familielede het die afgelope naweek by die SAVF Tehuis vir Bejaardes saamgekom om ’n forget-me-not tuintjie aan te lê. Loutjie was ook daar en is deur die Middelburg Observer afgeneem waar hy saadjies vir Gerda geplant het.
