News

Negejarige moet gaan vir HIV-toetse na sy in dwelmnaald trap

'n Dogtertjie wat vrolik van die naskool afgekom het, moes dokter toe gevat word nadat sy in 'n dwelmnaald getrap het.

‘n Negejarige dogtertjie het in ‘n dwelmnaald net buite ‘n naskool getrap en moet sy vandag gaan vir HIV- en ander bloedtoetse.

Diie dogter wie se naam weerhou word omdat sy minderjarig is, het Donderdagmiddag in die naald getrap en het dit só diep ingesteek dat haar ma dit versigtig moes uittrek.

“My kind se voet het gebloei en sy het vreeslik gehuil! Ek is woedend!” het haar ma kwaad uitgeroep oor die gebeure.

Die plek waar die dwelmnaald in die dogter se voet ingesteek het. Foto: Verskaf.

Sy het haar kind gaan haal by die naskool (die naskool se naam word ook weerhou, omdat dit nie op die perseel was nie, maar buite op die sypaadjie).

Hulle was reeds naby die kar, toe die dogtertjie skielik begin huil het terwyl sy oor die gras op die sypaadjie stap. Haar ma het dadelik die naald in haar voet gesien.

“Ja hier is baie mooi in die dorp, maar saam met dit is die donkerste wolk wat oor hom hang, die dwelmwolk! Ek is keelvol dat hierdie mense dag en nag net spuit waar hulle wil en hulle gemors neergooi waar hulle wil!”

Sy weet baie mense sal dink sy oorreageer, maar sy het dadelik dokter toe gejaag, aangesien die kind se voet erg gebloei het.

Die voet is skoongemaak en het sy ‘n klem-in-die-kaak inspuiting gekry.

Hulle is ook aangesê om vandag te gaan vir HIV- en Hepatitus B-toetse. Drie weke later moet die toetse weer herhaal word. Die ma moet ook die voetjie dophou vir enige infeksies.

“Hierdie maak my mamma-hart seer. My kind weet nie eers wat daardie goed is nie en nou moet sy op nege gaan vir sulke toetse!”

Sy het die naskooljuffrou van die gebeure vertel.

Die ma wil graag alle ouers aanraai om seker te maak dat kinders skoene aanhet as hulle aan die buitekant van naskoolsentrums en selfs skole stap. “Die dwelmverslaafdes is oral! Ons kindertjies loop almal altyd kaalvoet en nou het die verslaafdes dit by hulle kom steel!

Sy wil graag die Familiedokters bedank vir hul besondere hulp en vriendelikheid.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button