Rudi is dood
Nie ’n naam en dood wat jy in dieselfde sin wil noem nie.
Dit is onwerklik.
Rudi kan mos nie dood wees nie?
Rudi du Plessis was een van daardie mense wat jy nie met die dood vergelyk nie, maar met lewe.
Een van daardie mense wat jy gevoel het maar altyd daar sal wees.
’n Sagte diep siel.

En nou is hy Woensdagmiddag oorlede aan iets wat jy nie met ’n Comrades goue medalje wenner sal vergelyk nie, vermoedelik sy hart.
Die gewese Laerskool Middelburg onderwyser het die laaste klompie jare sy brood en botter verdien, deur skopfietse uit te verhuur by Kaapse Hoop.
Hy was een van die gereelde besoekers aan die gewilde Nagkantoor kuierkroeg by die bergdorpie.

Saam met skrywers Dana Snyman en De Wet Potgieter het hy vele aande saam met besoekers aan die kroeg omgekuier.
Hy het op 2 Mei 2024 uit die vuis ’n roerende huldeblyk gelewer by die begrafnisdiens op Nelspruit van De Wet se vrou Alita, wat aan kanker oorlede is.
Sosiale media is sedert sy afsterwe oorstroom deur huldeblyke aan die gewilde en geliefde Rudi.

Snyman skryf: “Nou is jy weg Rudi tussen gistermiddag en vanoggend. In jou 56ste jaar. Jy het so vredig gelyk daar op jou bed, maklik Kaapse Hoop se bekendste inwoner, ’n legende van die Laeveld. Lyk of dit ’n hartaanval kon wees. Jy was baie meer as my buurman. Baie mense het saam met jou bergaf gery op een van die scooters, wat aangedryf word deur gravitasie, jou onderneming.”
Snyman sê “hy het nog gisteroggend saam met Rudi koffie gedrink op sy stoep.”
“Ek gaan nie verder skryf nie, my woorde het tydelik in ’n bos herinneringe verdwaal.”
Hy sluit af met: “Maroné, Ruan en jou ander mense treur oor jou. Ons is nog nie gereed om te sê rus in vrede nie.”

Rudi het in die 1993 Comrades Marathon vyfde geëindig in ’n tyd van 5:52;21. In dieselfde wedloop was die gewese HTS Middelburg onderwyser, Deon Holtzhausen agtste in 5:52:29.
Hy was ’n mentor vir die jong Rudi wat in die kleure van Ngodwana gehardloop het.
Die bekende sportskrywer, Sarel van der Walt, het gesê as Rudi se rug hom nie so gepla het nie, kon hy die Comrades gewen het.
Nagkantoor was Woensdagaand gepak met Kaapse Hoop inwoners wat Rudi se onthou gaan haal het…’n onthou wat jare op die berg sal voortleef…
Begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.
