Verslaafde Nico sterf, ma praat oor haar pyn: ‘hy was nooit ‘n las nie’
Elke keer wat 'n dwelmverslaafde gesterf het, was die vrees daar dat dit dalk haar Nico kon wees en dié keer was dit.

Nico Smit (33) die dwelmverslaafde man wat welbekend was by die verkeerslig by die Middelburg Mall is dood.
Hy is op 7 Oktober, oomblikke nadat hy vir die dokter gesê het hy, “wil net ‘n bietjie slaap, die dokter kan later terugkom,” oorlede.
Barmhartige samaritaan bel ambulans
In die nag van 5 Oktober het barmhartige samaritaan Bernard van der Berg ‘n ambulans geskakel nadat Nico in die gietende reën, ernstig siek op ‘n sypaadjie gelê het. Sy ma het tyd gehad om nog die Maandag by haar uitgeteerde kind te gaan kuier. Dinsdagoggend het sy die boodskap gekry, Nico is dood.
Petro le Roux het vanmiddag haar kind se verhaal vertel. ‘n Gebroke ma wat tot in sy laaste dae probeer het dat hy die dwelms moet los.
Heroïnedraak en handelaars het kind se lewe gesteel
Die vervloekte heroïnedraak en dwelmhandelaars het haar pragseun se lewe kom steel. “Ek wens ons kon die dwelmhandelaars uitwis! Dit is nie maklik vir ‘n ma om haar kind te begrawe nie,” het sy vanmiddag hartseer gesê, nadat sy Nico vir ‘n laaste keer by Roseleigh Begrafnisdienste gaan groet het.
“Hy het nie gelyk soos my kind toe ek hom daardie laaste keer in die hospitaal gesien het nie. Dit was nie my Nico soos ek hom geken het nie, sy lyf was net ‘n vel oor ‘n geraamte. Dit is wat dwelms doen!”
Pyn weens verslawing en longkanker
Buiten die heroïne wat sy organe een vir een laat gaan staan het, het hulle onlangs ook gehoor dat hy longkanker het. “Hy was in soveel pyn, nie net van die dwelms nie, maar ook van die kanker.”
Sy onthou hoe hy onlangs vir haar gesê het: “Moeksie ek is moeg. Ek het so seer. Ek veg teen die pyn.” Haar moederhart het swaar gekry, maar sy het hom probeer bemoedig deur te sê: “Ek sal bid, as dit jou tyd is, sal Hy jou kom haal, maar as dit nie is nie, sal Hy jou nie vat nie.”
Petro se verhaal is dié van so baie ouers wie al ‘n kind weens dwelms verloor het.
Die ander verslaafde op die sypaadjie
Sy onthou die yshand om haar hart toe sy die berig gelees het van die jong man wat ‘n maand gelede op ‘n sypaadjie gekry is.
“Nico het ook altyd so ‘n oorpakbaadjie gedra en ons het gedink dit is hy.”
Hulle is na die forensiese afdeling toe om hom te gaan uitken, maar dit was nie haar kind nie. Later het hulle gehoor dit is JC Lusse, ook ‘n dwelmverslaafde, wat onder ‘n warm kombers op die sypaadjie gesterf het.
“Elke keer as een van die dwelmverslaafdes gesterf het, was die vrees daar dat dit dalk Nico kan wees.”
Talentvolle seun begin op 14 gom snuif
Haar talentvolle seun, “het weens hartseer in sy jong lewe” op 14 begin petrol snuif, daarna oorgeslaan na gom en uiteindelik heroïne begin rook. “Later was dit nie meer genoeg nie en het hy die heroïne begin spuit.”
Hy het talle kere probeer ophou en was hy selfs ‘n keer vir behandeling, maar dan het die dwelmhandelaars hom weer ontdek en het hy teruggeval.
Nico en vriende was nie ‘n las nie
Petro het nooit haar seun of sy vriende versaak nie. “Nico was nooit vir my ‘n las nie. Hy het gereeld by die huis kom eet, gebad, ‘n paar dae gebly en is dan weer terug strate toe. Sy vriende, baie van hulle verslaafdes, het my naderhand ‘Ma’ genoem, want ek het altyd vir hulle plek gemaak in my huis.”
Ten minste 14 al dood weens dwelms
Soms het Nico geryloop na Emalahleni, “waar hy saam met vele ander verslaafdes in ‘n afgebrande ou huis gebly het. Ek weet van ten minste 14 van sy vriende, van veral daardie area, wat al gesterf het weens dwelms!”
Laat in September was Nico weer baie siek, maar omdat hy ‘n vorige keer behandeling geweier het by die Middelburg Hospitaal, het hulle gewonder of die hospitaal hom weer sou help.
Onbekende vrou help met naam, ‘n kussing en ‘n kombers
“‘n Vrou, ek weet tot vandag toe nie wie sy was nie, het my kind ingevat hospitaal toe onder die naam, Dean Dannhauser. Sy het ook vir hom ‘n kussing en kombers gevat terwyl hy daar was. Ek wil so graag vir haar dankie sê, maar ek weet nie wie sy is nie.”
Dit is in hierdie tyd dat Nico met longkanker gediagnoseer is.
Uiteindelik tuis, maar weer terug strate toe
Nadat hy ontslaan is, het Petro haar siek seun met ope arms weer in haar huis verwelkom en hom versorg. Na ‘n paar dae het hy weer beter begin voel.
“Ons krag was een spesifieke dag af en het Nico aangebied om vir die munisipale werkers, wat laer af in die straat gewerk het, te gaan vra om die krag aan te sit. Nico het egter weer verdwyn…tot die aand wat hy op die sypaadjie gekry is.”
Dalk ure in koue op sypaadjie
Sy noem dat hy die laaste paar maande as hy so siek was, soms sommer net omgeval en sy bewussyn verloor het. “Ek weet nie hoe lank het my seun verlede week in die reën gelê het nie. Dit kon drie tot vier ure gewees het! Ek het eers die volgende oggend gesien hulle soek na ‘Jaco’, ‘n naam wat hy homself soms genoem het, se ma.”
Verslaaf, maar baie talentvol
Al was haar kind ‘n dwelmverslaafde, onthou sy trots hoe handig en talentvol hy was. “Jy kon enigiets vir Nico gee en hy kon dit doen. Hy kon karre regmaak en selfs elektriese goed wat nie wou werk nie, weer regkry. Hy het ook goed geteken.”
Boonop was hy baie trots as hy rukkies ‘skoon’ was en in die gimnasiumm geoefen het. “Hy het altyd baie vinnig spiere gebou!”
Nico se droom, ‘n blou manspak
Haar kind het altyd daarvan gedroom om eendag ‘n netjiese blou manspak te dra. “Ons het met kunsmatige intelligensie onlangs ‘n foto saamgestel met sy gesig waar hy so ‘n pak aanhet.”

Petro wou haar kind se laaste droom bewaarheid en het hulle kruis en dwars deur Middelburg gery om ‘n pak te kry. “Hy is vandag in sy netjiese manspak veras.”
Nico word oorleef deur sy ma, Petro, suster Zandalee, en twee kinders.
Nie fondse vir roudiens, BackaBuddy begin
• Petro wil graag op ‘n gepaste wyse afskeid neem vir haar kind deur ‘n roudiens te hou, maar daar is op hierdie stadium nie fondse beskikbaar daarvoor nie.
‘n BackaBuddy-profiel is Maandag begin om te kyk of hulle genoeg geld kan insamel vir ‘n roudiens. As daar genoeg fondse inkom, kan hulle eers reëlings begin tref.
Persone wat ‘n bydrae wil lewer, kan op op dié skakel ingaan: https://www.backabuddy.co.za/campaign/funeral-for-nico
Hoop vir ander ouers