Brescia Bianco-Badenhorst se lewensverhaal is ’n tragiese spiraal van verlies en vergryp.
Dwelms was haar toevlug toe selfmoorde in haar huishouding lewens gesteel het.
Dit het haar na verkeerde vriende, drank en eindelaaste dwelms gelei.
Sy hoef nie ver te gesoek het vir hulle nie, maar haar soeke na God en verlossing sou heelwat langer neem.
Vandag het Brescia die swaar kleed van verslawing afgeskud.
Sy is en bly egter ’n verslaafde.
Haar verhaal vertel sy om ander bewus te maak van dwelms en hoe vinnig dit ’n houvas op jou lewe kan kry.
Middelburg is vrot van die dwelms.
Almal ken iemand wat deur dwelms geraak word.
Niemand kan sê daar is nie ’n probleem in Middelburg nie.
Ons sien die verval op ons straathoeke, bakhand, rukkend van onttrekking, liggame afgetakel.
Die week is daar ’n geleentheid vir inwoners om te gaan luister hoe Brescia haar lewe gered het.
Dit is die geleentheid om wapenrusting te bekom teen die dwelmdraak wie se warm asem aan honderde plaaslike voordeure lek.
Inwoners is almal welkom om haar praatjie gratis by te woon.
Brescia sal om 19:00 Woensdagaand by Corpus Christi gemeente, in Aerorand, op die verhoog wees.
Toegang is gratis, maar daar sal wel geleentheid wees vir inwoners om ’n vrywillige donasie te maak met opbregste wat vir rehabilitasie, insluitende alkoholisme, deur die Chainbreakers aangewend word.
Die aand word aangebied deur die Chainbreakers wat Maandae aande tussen 18:00 en 19:30 by Corpus Christi by mekaar kom.
Die Chainbreakers ondersteun tans talle verslaafdes wat deur rehabilitasie gaan.
Naas die Chainbreakers sal daar ook ander kerke inskakel en sal hul beraders ook Woensdagaan beskikbaar wees vir families in krisis.
Dit is ’n aand wat beslis nie gemis moet word nie.
Vir meer besonderhede skakel Elna Lewis by 082 556 4467.
