Laver familie skenk skatkis van Middelburg geskiedenis
Vir erfenis jagters kom die skatte dikwels in kartondose!
Skattejagters gaan grawe gewoonlik rond vir versteekte goue munte of loop rond met ‘n metaal-verklikker opsoek na die Kruger-Miljoene, maar vir die erfenis jagters kom die skatte dikwels in kartondose! Die familieskat met al die inligting van die Laver-familie het pas by Middelburg Erfenis beland.
Inwoners het al gewonder wie was die Laver van Laverstraat. Ouer inwoners onthou die foto van die oom met sy ronde brilletjie wat die eerste Vryburger van Middelburg was. Wel in werklikheid was daar twee Lavers in Middelburg se geskiedenis Harry Laver senior en Harry Laver junior.
Henry Joseph Laver of Harry senior is in 1862 in Southampton, Engeland gebore en kom in 1882 na die Zuid-Afrikaanse Republiek om sy oom, Richard White, te help met sy winkel en meule by Witpoort naby Roossenekal. In 1888 tree hy in die huwelik met sy jeugliefde, Emma Bowman Hardiman. Hulle vestig hulle op Witpoort en het drie seuns Basil, Harry en Charles. Na die Anglo-Boereoorlog vestig hulle in Middelburg en woon in Highbury Hall, ‘n statige woonhuis in Walter Sisulustraat, waar die huidige Rinahof woonstelle gebou is.

Henry Joseph vestig sy besigheid in Walter Sisulustraat teenoor die huidige Van Blerkplein in die gebou bekend as Southampton House. Hy word verkies as die vyfde burgermeester van Middelburg, vir twee termyne 1907-08 en 1908-09. Laverstraat is deel van die Burgemeester-strate van Middelburg en is na Henry Joseph vernoem. Emma keer terug na Engeland en sterf in 1918. Henry Joseph is in 1938 oorlede en in die Ou Begraafplaas begrawe.
Hul seun Harry word op 21 Julie 1889 op Witpoort gebore en gaan aanvanklik vanaf 1896 skool in Engeland, maar keer in 1906 terug na die, ten tye, Transvaal Kolonie. Hy vestig hom in Middelburg waar hy hom bekwaam as rekenmeester en ouditeur. In Maart 1917 mobiliseer hy as deel van 1ste SA Brigade en ontplooi na die front. In Maart 1918 word hy krygsgevangene geneem in die gevegte in die Marrières bos in Frankryk en word aangehou in Duitsland, waar hy in ’n steenkoolmyn moes werk. Na die vrede word hy in Januarie 1919 eervol ontslaan uit die Weermag. Hy keer terug na Middelburg en tree in die huwelik met Gladys Henwood, dogter van die bekende handelaar JW Henwood van Middelburg. Hulle het drie dogters en ‘n seun. Die gesin woon in Cowen Ntulistraat oorkant die Katolieke Kerk.

Harry Laver (junior) volg sy vader en word in 1923 verkies as Stadsraadslid en dien 34 jaar op die Stadsraad van Middelburg. Hy dien ook 10 termyne as burgemeester van Middelburg. Op 23 Desember 1954 word hy as die eerste Ere-Vryburger van Middelburg vereer vir sy diens in die Stadsraad. Hy is op 29 Augustus 1957 oorlede en in die Ou Begraafplaas van Middelburg begrawe.
Een van Harry junior se dogters, Margaret, het besluit om die familie geskiedenis van die twee Lavers te orden en die familie se foto-versameling albums byeen te bring. Sy kleindogter, Rose Antrobus, het hierdie versameling van 25 foto-albums en ’n magdom briewe georden en bewaar. Unieke gebinde foto-albums met metaal knippe en dik karton blaaie vir foto’s wat met foto-hoekies gemonteer is! Bondels briewe met gekleurde toutjies vasgemaak en swierige handskrif dokumente in plastiek omhulsels.
Rose maak gelukkig kontak met Middelburg Erfenis, en vra vir Theo Ligthelm of hy sal belangstel in hierdie erfenis-skat van Middelburg. Na haar skielike dood, ontvang Middelburg Erfenis hierdie versameling oor meer as .‘n honderd jaar se geskiedenis van die dorp.

Wat is alles in hierdie skat?
Oor die onbekende handelspos Witpoort is daar ‘n detail stel van pragtige foto’s van die winkel en meule in 1890. Die meule is deur die boere gebruik om mielies te maal tydens die Anglo-Boereoorlog en toe opgeblaas deur die Britte. Die boere herstel die meule gou weer, en die Britte brand dit weer af. Die geskiedenis is in foto’s vasgevat. Henry Joseph se oorspronklike aanstellingssertifikaat as posagent vir Witpoort geteken deur president Paul Kruger persoonlik!
Oor die dorp is daar ’n magdom unieke foto’s. Henry Joseph se winkel in Walter Sisulustraat se konstruksie, voorkoms en winkelrakke met unieke kruideniersware is vasgelê in foto’s, met ’n unieke foto’s van hoe die winkel in Augustus 1902 versier is vir die kroning van Eduard VII as nuwe koning van die Kolonie en in die agtergrond steeds die konsentrasiekamp vol tente! ’n Panoramiese foto wys die kaal boomlose vlaktes om Middelburg en die klein dorpie met sy paar geboue om die Witkerk. ’n Unieke beeld van voor die Boereoorlog!

Die huise van die Lavers is in detail afgeneem. Harry Laver junior se vrou, Gladys se jeugjare is in The Oaks, die statige Victoriaanse dubbelverdieping wat in SADCstraat gestaan het. Hier wys foto’s die huis se vertrekke en die statige gedekte tafel vir Kersete, uit vervloë dae. Die geboue om die dorpsplein is vasgelê en die statige Imperial Hotel pryk langs a ongeteerde OR Tambostraat.
Die familie maak die Anglo-Boereoorlog mee. Die besetting van Middelburg is vasgevang in foto’s van kerkparades met Britse soldate voor die Witkerk en die massiewe kantonnemente kompleks van sinkgeboue, vir die Britse Garnisoen, wat die totale Clubville en Gholfsig beslaan het. Die enigste foto- sover bekend – van Highbury Hall waar lord Kitchener en genl. Louis Botha op 28 Februarie 1901 in Middelburg vergader het vir vredesamesprekings, kom uit een van die albums.

Die familie detail is enorm. So publiseer die Middelburg Observer op 6 Junie 1919 ’n gedetaileerede lys van al die trougeskenke wat Harry en Gladys ontvang het tydens hul huwelik en wie watter geskenk gegee het. Dit lees soos ’n Who-is-Who van Middelburg se gesiene inwoners. So gee mnr. en mev. JW Begbie – van Thos Begbie – ’n stel silwer koekvurkies, mnr. en mev. JP McLees – van Robb en McLees Apteek – ’n tjek, en mnr. en mev. L Brozin – van Brozin Meubels -‘n silwer botter en kaas bord.
Tussen die dokumente is Harry junior se eervolle ontslag sertifikaat na die Eerste Wêreldoorlog gedateer 15 Januarie 1919 en die Ere-Vryburger sertifikaat onderteken deur mnr. PP van Blerk – van Van Blerkplein – ten tye die burgemeester.

Unieke foto’s in die versameling sluit in die Middelburg Kadette van 1907 wat op Van Blerkplein dril, die Stadsraad van 1938 en al 14 die amptenare wat die totale munisipale dienste gelewer het! Die Middelburg Voetbalklub 1907, en die opening van die Wanderersgronde 1911 – die voorganger van die huidige Buiteklub en die Hospitaalraad van 1954.
Die Middelburg Koorvereniging se programme vir die “Grand Concert” in die saal van die Government Free School – later Laerskool Middelburg van 1907, uitvoering van die Messiah (Handel) in 1908 en ’n opvoering in die English Schoolroom van die operette Zurika met mnr. Begbie as die pianis en Harry Laver as die prins en mev. McLees as lady Globule. ’n Detail van die Vrymesselaarslosie en die Anglikaanse kerk in OR Tambostraat. Al die briewe wat Harry Laver uit die Krygsgevangenekamp in Duitsland gestuur het, het bewaar gebly.
Middelburg Erfenis is besig om die versameling te kategoriseer en te ontsluit vir gebruik, maar het reeds ’n aantal van die unieke foto’s uitgestal, tydens die Suid-Afrikaanse Erfenisvereniging se simposium in Middelburg.
’n Unieke tydkapsule-skat van Middelburg se geskiedenis!

