Aerorand huiseienaar jaag inbrekers skrik op die lyf
Diewe verdwyn leë hande die nag in na Aeorand inbraak.
Daar is vanoggend net na 04:00 by ’n motorhuis in Sneeubergstraat, Aerorand, ingebreek.
Vier mans was glo betrokke by die inbraak.
Mid Alarms se reaksiemanne was binne twee minute vandat die inbraak deur die huiseienaar gerapporteer is, by die betrokke huis.
Die huiseienaar het kort na 04:00 die mans in sy erf gewaar.
Hy het Mid Alarms dadelik geskakel en ook die inbrekers laat weet hy’s bewus van hulle in sy erf.
Hulle het dadelik op die vlug geslaan.
Die boewe het die hek van sy spoor af gelig en is so die erf in.
Daarna het hulle die motorhuis oopforseer en twee fietse probeer steel.
Hulle het egter leë hande gevlug toe die huiseienaar hulle strooptog onderbreek het.
Mid Alarms het in die area gesoek vir die onwelkome besoekers, maar hulle het die nag in verdwyn.
