News

Duur fietse uit motorhuis in Kanonkop gegaps, na soortgelyke inbraak in Aerorand laasweek

Twee inbrake, een in Kanonkop en een in Aerorand, geteiken vir fietse.

’n Geskatte R160 000 is die waarde van drie fietse wat vanoggend voor 05:00 uit ’n motorhuis in Meidoringstraat gesteel is.

Die motorhuis is oopgebreek nadat die hekmotor op selfskuif gesit is.

Daar was verlede week amper ’n presiese inbraak en diefstalpoging in Sneeubergstraat, Aerorand, waar fietse ook geteiken is.

Die motorhuis in Sneeubergstraat is oopgebreek en daar is dadelik vir die fietse gegaan.

Die huiseienaar het die diewe net na 04:00 verlede Donderdag onderbreek toe hy opgestaan het.

Daar is die hek van sy spoor gelig voordat daar by die motorhuis ingebreek is.

 Melt, Johan, Abigail en Ruaan Annandale
Melt, Johan, Abigail en Ruaan Annandale tydens die Alzu Tour de Farm.

’n Fiets is gelukkig agter op ’n bakkie in die motorhuis gekry waar die inbreker hom neergegooi het aan’t vlug.

In die Meidoringstraat voorval vanoggend, het die huiseienaar ook die strooptog onderbreek.

Lesers moet maar self besluit of dit bloot toeval was, en of daar dalk iets meer georganiseerd agter die inbrake sit.

Meidoringstraat se Annandale’s het twee weke gelede nog die Alzu Tour de Farm saam gedoen.

Drie generasies was saam op die fietse, die tweelingbroers Johan en Melt Annandale, Melt se seun Ruaan en Ruaan se dogter Abigail.

Net Johan se fiets is nie vanoggend gesteel nie, en is langs die huis gevind.

Ruaan Annandale op sy fiets.
Ruaan Annandale op sy fiets.

Juanitta Annandale sê nadat Ruaan 05:00 vanoggend werk toe is, en sy die agterdeur omstreeks 05:20 oopgesluit het vir Abigail wat in ’n aangeboude woonstel woon, moes die inbrekers toegeslaan het.

Sy het agter om die huis geloop om die honde, ’n Jack Russel en worshond, te voer.

In die voortuin het sy gesien die hek staan oop en gedink dat die hek met Ruaan se vertrek dalk nie mooi toegegaan het nie.

Toe sy die hekknoppie druk het hy bly stilstaan.

Sy het hek toe geloop en gemerk dat die hekmotor na selfskuif gestel is en hom weer outomaties gestel.

Dis eers toe sy later die fiets langs die huis gewaar dat sy besef het daar’s fout.

By die motorhuis gekom was een van die ruite uitgeslaan en is die motorhuis van binne oopgetrek.

Sy sê haar seuntjie se kinderfiets was nog in die motorhuis, en het die fiets langs die huis geëien as Johan s’n.

Die polisie is gebel en sommer die assuransie ook.

Juanitta sê dat sy die inbrekers moes geonderbreek het.

Sy vermoed hulle het vir die ‘duur fietse gegaan’ omdat haar seuntjie se fiets onaangeraak was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button