Wanneer die Kat opdaag, hol die muise in alle rigtings
En wanneer die Kat weg is, wie is dan weer baas?
Wanneer die Kat opdaag, skarrrel die muise.
Die Kat is immers baas.
Dit was April 2022, president Cyril Ramaphosa besoek Middelburg.
Die Kat kom weer, want hy wou nie langer wag…
Inwoners staan verstom.
Daar waar die president op 27 April sy rede lewer, word van hoek tot kant skoongemaak.
Om die Kees Taljaard Stadion word paaie geverf en slaggate reggemaak.
Te netjies!
Selfs die walle van die Klein Olifantsrivier kry ’n “face lift”.
Spring kêrels, die Kat is op pad.
Haweloses se tentjie, met al hulle besittings, word summier gekonfiskeer.
Hulle murmurering val op dowe ore.
Toe die president en sy gevolg met groot fanfare na die Kees ry, is die “window dressing” gedoen.
“Middelburg is darem ’n mooi, skoon dorp, sonder slaggate, waar al die straatligte brand”, moes die president gedink het.
En toe die Kat weg is, wie is weer baas?
Ja, reg geraai, die muise.
Inwoners se geveg teen agteruitgang word voortgesit.
Kees Taljaard Stadion verval so, dat die rugbyklub ’n ander tuiste soek.
Ry die einde Oktober na Johannesburg, skielik, op die besige hoofweg, staan die karre, botstil.
Daar word geoefen vir die G20 beraad.
Die Katte van reg oor die wêreld is op pad.
Muise op aandag, dis Vrydag, maar ons oefen nou.
Die Katte kom oor drie weke op die OR Tambo Lughawe aan, die swart karre, Katte, in gelid.
Ons oefen om met loeiende blou ligte na Nasrec te ry.
Magsvertoon, my maat!
Muise, julle wag, al is dit Vrydagmiddag en die verkeer hoop kilometers op.
Die muise oefen!
Want die Katte kom weer!
Ry die afgelope week deur Johannesburg se strate.
Orals is daar werkers besig om bossies uit te skoffel en rommel op te ruim.
Daar word naarstigtelik gewerk.
Die vervalle, moeë ou stad, moet blink gepoets word, voordat die Katte opdaag.
Saterdagoggend word hoofweë weer gesluit.
Nog ’n oefening om te sien of die Katte veilig van OR Tambo na Nasrec vervoer kan word.
Nog ontwrigting, nog frustrasie.
Intussen stry Afriforum en Lesufi oor ’n kennisgewingbord.
Infrastruktuur op die Katroete word gevandaliseer.
Besoekers aan die stad is al G-vol vir die G20.
Mens dink onwiilekeurig aan daai spotprent nadat Suid-Afrika nie die Olimpiese Spele bod gekry het nie.
’n Bergie wat deur ’n vuil Kaapse plein stap met plakkaat: “Olimpiese Spele se ma se m…”.
G20 se ma se voet!
Ja, Gee, Gee ons elke dag diens.
Nie net wanneer die Katte opdaag nie.
