GEMEENSKAP: Geliefde oud-Middies onnie Elsie Bardner oorlede
Middelburg groet ’n geliefde wiskunde-onnie wat meer as 30 jaar duisende leerders gevorm het.
Elsie Bardner (61), gebore Sadie, was vanaf 1987 tot 2023 ’n gerespekteerde wiskunde onderwyseres by Hoërskool Middelburg.
Sy is gebore en het grootgeword op Groblersdal en het haar BSc-graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. As jong onderwyseres het sy aangesluit by Hoërskool Middelburg toe mnr. Ockert Nel nog skoolhoof was. In daardie tyd het sy ook haar man, Llandy, ontmoet en is later met hom getroud.
Elsie was wyd bekend vir haar uitstaande matriekuitslae en en het self ook vir die provinsie matriekvraestelle gemerk.

Vroeër jare was sy ’n top netbalspeler en onder haar leiding het talle spelers provinsiale kleure verwerf. Sy het ook klubnetbal in Middelburg gespeel.
Hoërskool Middelburg se personeel het hierdie week in ’n huldeblyk haar beskryf as ’n vrolike, energieke kollega en onnie wat kampe, veldskole en klaskamers met humor en lewenslus gevul het.
“Elsie laat ’n groot leemte, maar ook ’n nalatenskap van liefde, harde werk, integriteit en onmeetbare invloed. Sy sal diep gemis word deur almal wat die voorreg gehad het om haar te ken.”
Sy word oorleef deur haar man, Llandy, en dogter, Elmaine.
• Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
