’n Ma, ’n maat, ’n mens van liefde: Middelburg eer Sonnet Faure
Middelburg rou oor die afsterwe van ’n geliefde inwoner wat hierdie week na ’n moedige stryd teen maagkanker oorlede is.
Die gemeenskap sê totsiens aan Sonnet Faure (62), ’n vrou wie se lewe getuig het van liefde, moed en geloof. Haar familie deel die roerende verhaal van haar laaste maande, waarin beide Sonnet en haar man, Willem, met kanker gediagnoseer is.

Die Faure-gesin is die afgelope tyd dubbel getref met die nuus van albei se kanker. Sonnet is in Mei vanjaar met maagkanker gediagnoseer en het behandeling in Richardsbaai ontvang. Ná haar laaste chemoterapie het hoop weer opgevlam toe die spesialis bevestig het dat die kanker uit haar maag verdwyn het.
Haar simptome het egter bly vererger. Verdere ondersoeke by Kosmos Hospitaal het uiteindelik gevorderde buikkanker aan die lig gebring. Die mediese span het bevestig dat daar geen verdere behandelingsopsies beskikbaar was nie.
Kort daarna is Willem ook met kolonkanker gediagnoseer. Die gesin beskryf die tydperk as ‘uiters uitdagend,’ maar het vasgehou aan hul geloof terwyl hulle albei ouers ondersteun.

Willem vertel dat Sonnet in Mei met kanker gediagnoseer is en sedertdien rondte ná rondte bestraling en chemoterapie ondergaan het tot vier weke gelede. Hy sê hulle het nooit besef dat sy saggeaarde vrou en hul ma se tyd só min sou wees nie.
Willem en Sonnet is in 1987 in Middelburg getroud en was sedertdien onwrikbaar deel van die gemeenskap. Die paartjie het deur die jare talle ander egpare berading en ondersteuning gebied. “Ons twee was beste maats – soos vinkel en koljander, nooit die een sonder die ander,” sê Willem. Hy voeg by dat hulle nooit kwaad gaan slaap het nie, en dat dit die geheim agter hul 38 jaar se liefdevolle huwelik was. Die verlange na sy sielsgenoot is hoorbaar in elke woord.

Sonnet se dogter, Zanje, het ’n roerende huldeblyk op sosiale media gedeel waarin sy die afgelope maande beskryf as ’n tyd van hartseer, geloofsdruk en vasbyt. Sy het geskryf dat die aanvanklike nuus haar ‘reg deur’ gesny het. Sy het die pad daarna as ’n ‘geestelike oorlog’ beskryf, ’n uitputtende maar heilige stryd om vas te staan in geloof te midde van hartseer, vrees en twyfel. “Asof die storm nog ’n groter tol wou eis, het my pa ook die nuus ontvang dat hy kolonkanker het. Die steunpilaar van die huis, die man wat alles dra, moes nou self gedra word,” het Zanje gesê.

Te midde van hierdie swaar tyd onthou familie en vriende Sonnet as ’n vrou van buitengewone sagtheid en vasberadenheid – iemand wat nooit haar geloof of haar liefde vir haar gesin prysgegee het nie. Haar moed het ’n spoor gelaat wat nie maklik sal vervaag nie. Sy het elke dag met waardigheid in die oë gekyk en haar mense met ’n standvastige, liefdevolle hart beskerm.

Willem beskryf sy vrou in een woord: “Liefde”. Liefde vir haar kinders, vir haar kleinkinders en vir elke dier wat op haar pad gekom het. Sonnet laat ’n groot leemte, maar ook ’n nalatenskap van hoop, liefde en geloof. Sy word oorleef deur haar man Willem, haar kinders Zanje en Dewan Faure, en haar kleinkinders Livan, Lika, Danré en Ewan.

Die begrafnis vind Dinsdag om 10:00 plaas by die Corpus Christi-gemeente in Middelburg. ’n Aanlyn Facebook-uitsending sal beskikbaar wees vir dié wat nie die diens kan bywoon nie.
“Dit is die verhaal van ’n ma wat bly veg het, ’n pa wat bly staan, en ’n gesin wat hul hoop weier om prys te gee – selfs in die middel van die donkerste nag,” het Zanje op haar Facebook afgesluit.

