Wynand hou by sy woord oor onthullings in die Afrikaanse musiekbedryf, en wat agter die fluweelgordyn aangaan
Die storie van ’n man “wat alles gewaag en alles verloor het”.
Van gerespekteerde musiek en sport promotor tot openbare veragting. En nou is hy gereed om sy storie te vertel.
Vir meer as twee dekades was Wynand de Villiers een van die invloedrykste en toonaangewende figure in Suid-Afrika se vermaaklikheids- en massadeelname-geleenthede — die dryfkrag agter van die land se grootste en mees ambisieuse konserte en sportbyeenkomste.
Sy indrukwekkende portefeulje sluit in die monumentale Theuns Jordaan Tribute-konserte by Loftus Versfeld, DHL Stadion en Amsterdam; Steve Hofmeyr Ikoon by Moreleta Park; Steve Hofmeyr Live by die Taalmonument; Turn Back the Time; 100% Retro; asook groot sportgeleenthede soos die Emperors Palace Cycling Classic, Groot Trap, Tour du Cap, Run with Zola, Paarl Boxing Day en die Montecasino Classico.
As voormalige joernalis by die dagblad Beeld en ’n veteraan met meer as 25 jaar se ervaring in publikasie, gaan De Villiers nou sy groot val in ’n boek en YouTube-kanaal vertel. Hy noem dit “Wanneer die stilte breek”.
Sy loopbaan — van gerespekteerde organiseerder en skrywer tot openbare veragting — is wyd deur die land se media gevolg.
Nou, in sy onthullende nuwe dokumentêr en boek laat De Villiers self sy stem hoor.
’n Persverklaring noem dit “’n kragtige en onverskrokke blootlegging sowel as ’n persoonlike diep ondersoek na sy opkoms, ineenstorting en uiteindelike konfrontasie met ’n bedryf gedryf deur poortwagters, ego’s en stil ooreenkomste.”
De Villiers neem lesers agter die fluweelgordyne en in die raadskamers in — waar loopbane gebou en reputasies vernietig word, word onderneem.
“Wanneer die Stilte Breek ontbloot die ingewikkelde masjinerie van Suid-Afrika se Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf — die manipulasie, mededinging, agterkamertransaksies en die prys van lojaliteit — deur ontmoetings met van sy mees herkenbare figure, waaronder Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Arnold Coleske, Albertus Potgieter, Murray Lubbe, en ander wie se invloed ’n era definieer.”
Daar word onderneem dat die boek kyk oor landsgrense heen gaan kyk, met insigte oor samewerkings met internasionale kunstenaars en agente soos Blue, 2 Unlimited, Whigfield, Rednex, Vengaboys, Haddaway, Dr. Alban, Technotronic, Snap! en Milli Vanilli.
“Met die insig invalshoeke van ’n joernalis, sowel as die rou eerlikheid van iemand wat self oorleef het, vang Wanneer die Stilte Breek die menslike prys van ambisie én die emosionele tol van verraad vas.
“Die dokumentêr lê die stelselmatige beheer bloot wat deur sekere invloedryke rolspelers en mediakanale uitgeoefen word — hoe stories geskep word, reputasies as wapens gebruik word, en waarheid verdraai word vir openbare vermaak.
“In sy kern is dit nie net die verhaal van een man se val en opstaan nie — dit is ’n refleksie oor waarheid self, en wat gebeur wanneer daardie waarheid vir mense in mag ongemaklik raak.”
Die 20-aflewering YouTube-dokumentêr skop Saterdag 18h00 af, aangevul met beeldmateriaal, korrespondensie en eksklusiewe eerstehandse onderhoude.
“Met ’n gesamentlike sosiale aanhang van meer as 40 000 mense — en miljoene meer bereik deur die media en individue wat in die werk genoem word — verskyn Wanneer die Stilte Breek op ’n oomblik van intense nuuskierigheid en debat binne die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld.
“Onverskrokke en intiem, Wanneer die Stilte Breek is die onvertelde verhaal van die magtige Afrikaanse musiekbedryf — en van die man wat alles gewaag en alles verloor het.
“Dit is ’n reeks oor integriteit in ’n era van persepsie, oor moed te midde van isolasie, en oor die herwinning van waardigheid in ’n wêreld gebou op verdraaiing.”
*Daar is sonder sukses gepoog om De Villiers se persoonlike kommentaar te kry. Sedert sy laaste Afrikaanse musiekkonserte en fietsry byeenkomste gefaal het, het hy alle kommunikasie gestop.
Middelburg fietsryers is onder diegene wat hulle geld verloor het met die De Villiers debakel.
