Bakkies Botha en Hammie Wessels.
Nie ’n kombinasie wat jy in ’n skrum sal sien nie.
Nie ’n kombinasie wat jy op ’n musiekverhoog sal sien nie.
Tog trap die twee vanoggend saam in die eerste skof van die Munga bergfiets uitdaag.
Ja, daardie fietswedren wat die land aaan die gons het.
Byna 1200 kilometer
Die een tussen Bloemfontein en Wellington oor byna 1200 kilometer.
Die Springbok slot soek nog na ’n fiets wat daardie groot lyf kan dra, maar dit is eintlik ’n rugbesering wat hom uit die volle wedren hou.
Hy gaan wel vandag se eerste skof saam met Hammie Wessels begin, maar net 60km trap.
Munga nie grappies nie
Daarna is dit die skreeusnaakse musikant, seremoniemeester en natuurlik boetie van Robbie Wessels wat gaan agterkom dat die Munga nie grappies is nie.
Hy trap die eerste skof se 230km tussen Bloemfontein en Vanderkloofdam.
Daarna neem die driekamp atleet, Magda Nieuwoudt oor en ry 198km tot in Britstown.
Haar tweeling suster, Rika Calitz trap 194km vanaf Britstown tot in Loxton.
Christian Calitz, Rika se man, sit die geveg teen die Karoo voort en trap die skof tussen Loxton en Sutherland wat 230km is.
Tot in Wellington
Dinge raak hierna interessant want Magda trap die lang 251 kilometer skof tussen Sutherland en Ceres en moet ook die laaste 48.5 kilometer saam met die res van die span tot in Wellington trap.
Die span se kaptein is Breyton Paulse wat een van die skofte sou ry maar tydens die Wines2Whales bergfietswedren beseer is.
*Magda was voorheen aan Hoërskool Middelburg verbonde en Bakkies is ’n oud HTS Middelburg leerling.
