News

Middelburg Erfenis – Reeks 4: Krygsgevangene kunsskatte agtergelaat in Middelburg

Engel beeldhouwerke deur die beroemde beeldhouer Edoardo Villa hier agtergelaat.

Tydens die Tweede Wêreld Oorlog wou Generaal Jan Smuts poog om te bewys dat die Unie van Suid-Afrika – ten tye nog ’n lid van die Britse Gemenebes van Nasies – sy deel sal bydra om die sekuriteit van die Empire te beskerm.

Smuts weier Duitse krygsgevangenes

Een aksie was om krygsgevangenes vanaf die front te akkommodeer. Smuts het egter geweier om Duitse krygsgevangenes te akkommodeer as gevolg van die pro-Duitse sentimente van die Ossewa Brandwag en dan veral die Stormjaers. Hy willig egter in om Italiaanse en Vichy Franse krygsgevangenes te akkommodeer. Die Franse is gou gerepatrieer.

Italiaanse gevangenes arriveer in die Unie

Na die Afrika offensief is groot getalle Italiaanse krygsgevangenes na die Unie van Suid-Afrika afgevoer. In Februarie 1941 word die eerste Italiaanse krygsgevangenes in Durban aan wal gebring en word vandaar per trein na Pietermaritzburg, as ’n transitokamp, vervoer.

Hierdie krygsgevangenes was veral van die Woestyn Offensief en is gevange geneem in Italiaans Somaliland, Etiopië, Egipte, Libië, Cirenaika en Tripolitanië (huidig deel van Libië).
Met hul aankoms was hulle in ’n baie swak fisiese en higiëniese toestand, veral weens die toestande op die transport skepe onder Keniaanse Kikuyu wagte.

Suid-Afrika was ’n ondertekenaar van die Geneefse Konvensie (1929) en dus gebonde aan die minimum standaarde vir die behandeling van krygsgevangenes. Die Unie tree in die Oorlog, volgens die bepalings van die konvensies, op as agent vir die Aanhoudings Owerheid (Detaining Power) – in hierdie geval Groot Brittanje en handhaaf die beginsels van die Konvensies.

Aanvanklik was die akkommodasie en hantering van hierdie massas chaos. Die Unie was nie gereed om sulke groot getalle gevangenes so gou te moes huisves nie. Hulle word aanvanklik by verskeie sentra aangehou. Geleidelik kom daar struktuur en orde en word die hoof Krygsgevangenekamp in Maart 1941 gevestig by Zonderwater by Cullinan buite Pretoria.

Zonderwater – die grootste geallieerde krygsgevangenekamp

Die kamp kom aanvanklik onder bevel van kolonel Rennie en dan kolonel De Wet, totdat die legendariese Kolonel Hendrik Fredrik Prinsloo, OBE, ED, van die Unie Verdedigingsmag, oorneem. Hierdie kamp ontwikkel onder sy leiding tot die grootste krygsgevangenekamp van die Geallieerde Magte met akkommodasie vir 112 000!

Die krygsgevangene-dorp het 44 blokke met 8 000 gevangenes per blok. Elke blok het beskik oor kliniekfasiliteite, ontspanningsgeriewe en ’n teater waar opvoerings gehou is. ’n Hospitaal is ook spesiaal by die kamp opgerig. Skoolopleiding vir geletterdheid en ambag opleiding word gebied, aangesien ’n groot persentasie krygsgevanagenes ongeletterd was en geen ambagte gehad het nie. In totaal word ongeveer 63 000 Italiaanse krygsgevangenes in die Unie aangehou.

As deel van die ambagopleidingsprogram word van die krygsgevangenes by verskillende fasiliteite uitgeplaas. Van hulle het oor ambagte beskik wat dan aangewend is, terwyl ander ambagte en vaardighede aangeleer het. Verskeie is by boere gesinne op plase geplaas en het baie hegte bande met die boer-gesinne opgebou.

Die grootste persentasie van die krygsgevangenes was Rooms Katoliek en is bedien deur 24 Katolieke kapelane. Maar as deel van die program raak hulle betrokke by Katolieke aktiwiteite in die Unie.

Italiaanse gevangenes help bou St. Joseph’s-kerk

’n Groepering van die krygsgevangenes word aan Middelburg toegedeel om te help met die bou van die nuwe St. Joseph’s Katolieke Kerk in die dorp. Suster Ambrosia, ’n Oostenrykse sendeling-non van die gemeente, het sketse van ’n kerkgebou gemaak en die sketse word gebruik vir die ontwerp. Die ontwerp stem merkwaardig ooreen met die van die Katolieke Katedraal in Lorenzo Marques (Maputo).

Onder die leiding van eerw. Anthony Reiterer, ’n Oostenryks-Italiaanse Sendeling word die kerk beplan. Met die hulp van Br Lamprecht, Stengel en Ruper word ’n nuwe kerk ontwerp en gebou in ’n tipiese Art Deco-styl met ’n besonder hoë toring.

Dit is onbekend hoeveel krygsgevangenes aan die gemeente toegeken is en verdere navorsing word oor die projek gedoen. Hulle word in Middelburg gehuisves en bou goeie verhoudings op met die plaaslike gemeenskap.

Kerk voltooi en ingewy

Op 26 Augustus 1945 word die hoeksteen van die kerk gelê deur Eerwaarde Montsinore J Riegler en op 20 Mei 1946 vind die inseëning van die kerk plaas deur die Apostoliese Afgevaardigde Martin Lucas.

Die Zonderwater kamp het in Januarie 1947 gesluit, so dit kan aanvaar word dat die krygsgevangenes toe almal gerepatrieer is en Middelburg verlaat het. Verskeie van hulle het egter in Suid-Afrika gebly, is hier getroud en in die gemeenskap opgeneem. Of enige van die krygsgevangenes betrokke by Middelburg agtergebly, het is onbekend.

Kunsbydrae in die kerk

Die krygsgevangenes maak ’n massiewe verdere bydrae tot die kerk met die kunswerke in die kerk! Een van die Italiaanse Krygsgevangenes, L Finelli, was ’n talentvolle kunstenaar en is verantwoordelik vir die besondere muurskilderye in die kerk. In die alkoof agter die altaar skilder hy die kruisigingstoneel, met Moeder Maria en Johannes aan die voet van die kruis, die twee gekruisigde misdadigers en ’n Romeinse soldaat op ’n perd, lewensgroot. In die boog bo die altaar is ’n voorstelling van die wederkoms en die Goeie Herder. Hierdie muurskilderye is voltooi in 1946 en is in die 1960’s gerestoureer.

Altaar en Alkoof in die St. Joseph’s Kerkgebou. Foto: Rudi van Wyk.

 

Muurskilderye binne die Kerkgebou. Foto: Rudi van Wyk.

Aan die kante van die kerk is 14 geraamde skilderye van die 14 stasies van die kruisiging, volgens die Katolieke-oorlewering uit die antieke kerk, ook geskilder deur Finelli. Hierdie unieke tonele staaf die talent van Finelli.

Dan die absolute verrassing! Aan beide kante van die altaar is twee reliëf engel beeldhouwerke, volgens oorlewering, deur die beroemde beeldhouer Edoardo Villa. Hierdie werke is uniek en van die vroeë werke van Villa.

Villa (1915-2011) sluit aan by die Italiaanse Weermag as vrywilliger en na verskeie ontplooiings bereik hy die rang van kaptein tydens die Tweede Wêreld Oorlog. Hy word op 9 Desember 1940 krygsgevange geneem en word afgevoer na Zonderwater Krygsgevangekamp by Cullinan. Na die oorlog bly hy in Suid-Afrika aan vir ’n loopbaan as beeldhouer. Waar sy aanvanklike kunswerke konvensionele figure en borsbeelde insluit, ontwikkel hy gestileerde abstraksie in die 1950’s met werke in brons en staal. Van hierdie kunswerke, soms in helder kleure, is massief groot. Hy stal wêreldwyd uit en sy kuns bydrae word bewaar in die Edoardo Villa Museum aan die Universiteit van Pretoria.

Twee engelfigure in reliëf deur Edoardo Villa in die Kerk. Foto: Rudi van Wyk.
Een van die engele van nader gesien. Foto: Rudi van Wyk.

Dit is onbekend of die reliëf beelde by Zonderwater of eers na die oorlog geskep is. Dit is ook onbekend of hy self in Middelburg was om die beelde te plaas. ’n Beroemde kunstenaar se werke in Middelburg!

So het die slagoffers van ’n Fascistiese regering en ’n Wêreld Oorlog bygedra tot ’n unieke gebou-skat en besondere kunsskatte in Middelburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button