News

Die Week in Middelburg se Geskiedenis – 21 September 2026 – Dominee se seun word ’n “terroris” in Middelburg

Carl Cremer, ’n jong Pruisiër wat hom tydens die Anglo-Boereoorlog by die Boere geskaar het, het bekend geword vir sy rol in treinsabotasie voordat hy in 1901 gesterf het.

Op die Burgermonument voor die Witkerk in Middelburg staan die naam C. Cremer tussen dié van die burgers uit die Middelburg-omgewing wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gesneuwel het.
Wie was hierdie Carl Cremer, en hoe het hy in Middelburg beland?

In moderne terme kan hy beskryf word as ’n jong Pruisiese “terroris” en bomplanter wat die Britte tydens die oorlog heelwat frustrasie besorg het.

Burger Monument voor Witkerk se oorspronklike brons plate voordat dit geplunder is (Foto: Yolande Koelemans-Van Rooyen)

Biografiese Data

Carl Heinrich Wilhelm Cremer was ’n 31-jarige Pruisiese jongman. Hy is op 29 November 1867 in Ostönnen, Westfalen, gebore, wat destyds deel van die Koninkryk van Pruise was. Hy is op 29 Desember 1867 in Westfalen, Pruise, gedoop.

Sy ouers was prof. August Hermann Cremer (1834-1903), ’n bekende Duitse Protestantse teoloog uit die laat 19de eeu, en Maria Louise Huelsman (1841-onbekend).

Carl was die tweede jongste van vyf kinders. Een van sy susters is kort ná haar geboorte oorlede, waarna sy broer op tweejarige ouderdom gesterf het. ’n Alternatiewe biografie maak egter melding van agt kinders.

Professor August Hermann Cremer (1834-1903) – Carl se vader (Foto: Universität Greifswald)

Die bekende kinders was:

  • Ernst Friedrich Martin Cremer (1863-1922)
  • Johanna Maria Luise Cremer (1865-1865)
  • Johannes Marcus Hermann Cremer (1866-1869)
  • Carl Heinrich Wilhelm Cremer (1867-1901)
  • Anna Amalie Meta Cremer (1869-?).
Inskrywing uit die Doopregister vir Carl Heinrich Wilhelm Cremer gedoop op 29 Desember 1867 in Westfalen (Foto: Family Search)

Min is bekend oor Carl se skoolopleiding. Aangesien sy vader in 1870 as professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Greifswald, Pruise, aangestel is, kan aanvaar word dat Carl sy skoolopleiding in Greifswald voltooi het.

Carl se oudste broer, Ernst, het ook sy skoolopleiding daar ondergaan en later professor in teologie geword. Daar kan dus aanvaar word dat opvoeding en akademiese opleiding ’n belangrike rol in die gesin gespeel het.

Ná 1871 het Greifswald deel van die Verenigde Duitse Keiserryk geword.

Die streng Pruisiese onderwysmodel is ook in Greifswald toegepas, met verpligte onderwys vir kinders tussen ses en 14 jaar. Kinders uit meer gegoede gesinne het onder meer aan die Friedrich-Ludwig-Jahn-Gimnasium in Greifswald skoolgegaan, waar daar sterk klem gelê is op die ontwikkeling van gehoorsame, gedissiplineerde burgers en lojale soldate.

Die kurrikulum aan die Gimnasium was sterk humanisties, met ’n fokus op Latyn, Grieks, geskiedenis en filosofie. Dit was destyds die enigste onderwysroete wat toegang tot universiteitstudie gebied het.

Carl sou waarskynlik in 1873 sy skoolopleiding aan die laerskool, of Vorschule, begin het. Ná drie jaar sou hy sy opleiding met nege jaar aan die Gimnasium voortgesit en dit moontlik in 1885 voltooi het. Hy het daarna moontlik verder in die natuurwetenskappe studeer.

Die Friedrich-Ludwig-Jahn-Gimnasium in Greifswald waar Carl Cremer waarskynlik sy skoolopleiding voltooi het (Foto: Gimnasium)

Carl Cremer in Suider-Afrika

Omstreeks 1898 was Carl as natuurkundige betrokke by ’n grootwildjagtog deur Suider-Afrika, moontlik in Zimbabwe, waartydens hy monsters vir museums versamel het.

Hy het op ’n onbekende datum na die Zuid-Afrikaansche Republiek gekom en waarskynlik na die Berlynse Sendinggenootskap se Duitse sendingstasie by Botshabelo gereis.

Sy vader was die skrywer van die standaard teologiese werk van sy tyd, ’n Duitse verklarende woordeboek van Grieks in die Nuwe Testament (1866), en was ook die grondlegger van ’n homiletiese benadering tot praktiese teologie. Onder sy leiding het die Teologiese Skool van Greifswald van 17 tot 400 studente gegroei.

Daar kan dus aanvaar word dat sommige van die sendelinge van die Berlynse Sendinggenootskap met prof. Cremer bekend was en moontlik selfs aan Greifswald studeer het.

Die Duitse konsul skryf op 4 April 1903 dat Carl voor die oorlog in Middelburg gewoon het – waarskynlik in Botshabelo.

Duitse Imperiale Konsul se aanduiding dat Carl voor die Oorlog BY Middelburg gewoon het – waarskynlik Botshabelo  (Foto: TAB Theo Ligthelm)

Carl het egter ’n probleem gehad: hy was erg bysiende en moes permanent ’n bril dra. Volgens Hindon het hy dit swaar gehad as gevolg van sy swak sig. Soos destyds gebruiklik was, het hy ’n ronde knypbril met sterk lense gedra. Tog was hy ’n dodelike skut op kort afstand.

Die foto is waarskynlik Carl Cremer (Foto: Tinus le Roux – Tian Schutte – Foto KI gerestoureer en aangepas)

Die dominee se seun word ’n “terroris”

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 was Carl reeds in die gebied en was hy moontlik reeds by Botshabelo.

Die sendelinge by Botshabelo het tydens die oorlog ’n neutrale houding ingeneem, hoewel daar wyd bespiegel is dat sommige van hulle, soos tydens die Eerste Vryheidsoorlog, pro-Brits gesind was. Tog het verskeie van hulle by die kommando’s aangesluit.

Carl het egter ’n totaal ander benadering gevolg. Hy was pro-Boer en bereid om saam met die Boere te veg.

Dit is nie bekend wanneer Carl by die Boere aangesluit het nie. Dit blyk wel dat hy blootstelling aan die Middelburg Kommando gehad het en moontlik daarby betrokke was. Die eerste vermeldings van hom dateer uit die tyd nadat hy omstreeks Julie 1900 by Machadodorp met generaal Louis Botha kontak gemaak het.

Ná Augustus 1900 het Jack Hindon toestemming gekry om sy Verkenningskorps, die Transvaalse Vrywilligerkorps, te stig. Die korps het vinnig van verkenning na aktiewe sabotasie ontwikkel en daarop toegespits om spoorverbindings te ontwrig en logistieke voorrade van treine te buit.

Die korps was egter ook tydens die guerrillafase van die oorlog by verskeie skermutselings betrokke, dikwels saam met die Middelburg Kommando.

Ander bekende Middelburgers in die korps was Henri Slegtkamp en Petrus (Jack) de Wit. Slegtkamp het by Doornkop/Botshabelo met Carl kontak gemaak, waarna hy ’n lid van die korps geword het.

Hindon beskryf Carl as iemand wat vlot Nederlands en Engels gepraat het en een van die begaafdste jong manne in die korps was. Sy opvoeding en onweerstaanbare sin vir humor het hom een van die gewildste lede van die Hindon-korps gemaak.

Hy was by uitstek in staat om die komiese kant van dinge raak te sien, wat tot die goeie stemming onder sy kamerade bygedra het.

Op die vraag of hy die Engelse haat, was sy antwoord: “Nee, ek kan nie sê dat ek die Engelse haat nie, maar ek veg uit simpatie en liefde vir die Boere-nasie, in hul regverdige saak. Ek veg vir ’n klein maar simpatieke nasie, teen hul magtige oorweldiger.”

Kaptein Jack Hindon – Middelburger en Bevelvoerder van die Transvaalse Vrywilligerkorps – hy woon in Middelburg en word in die Ou Begraafplaas begrawe (Foto: Johan van Niekerk)
Lede van die Middelburg Kommando met waarskynlik Carl Cremer aand die regterkant (Foto: Tinus le Roux / Tian Schutte)

Carl Cremer ontwikkel die “Spoormyn”

Om spoorlyne met dinamiet op te blaas, was relatief oneffektief en gevaarlik. Die ontploffing kon ver gehoor word, waarna die Britte pantsertreine uitgestuur het om ondersoek in te stel en die spoorlyn te verdedig. Dit is dikwels gevolg deur konstruksietreine van die Royal Engineers, wat die skade so gou moontlik herstel het.

Carl het begin dink aan ’n meer praktiese oplossing wat die Boere in staat sou stel om ’n trein tot stilstand te bring terwyl die burgers op ’n veilige afstand kon skuil.

In die proses het hy ’n ploftoestel ontwikkel wat in moderne terme as ’n IED (improvised explosive device) beskryf kan word en wat in wese ’n primitiewe voorloper van latere land- en seemyne was.

Die term “myn” sou egter eers later, onder meer tydens die Eerste Wêreldoorlog, algemeen in dié konteks gebruik word. Dit het oorspronklik verwys na fisiese myntonnels wat onder vyandelike stellings gegrawe is, waarna plofstof onder die vyand se loopgrawe ontplof is.

Carl se toestel was ontwerp om outomaties onder die gewig van ’n trein te ontplof.

’n Ou Martini-Henry-geweer se loop is afgesaag en die kolf verwyder. Die beul is aan weerskante van die sneller afgesaag sodat die sneller ontbloot was. ’n Eenvoudige houtkissie is gemaak waarop die geweer gemonteer is.

’n Loskruitpatroon is in die geweerslot geplaas en ’n sakkie met dinamiet aan die voorkant van die loop vasgemaak. Verdere dinamietkerse en slagdoppies is by die dinamiet geplaas.

Die ballas onder die spoor is verwyder en die toestel met die sneller na bo onder die spoor, tussen die dwarslêers, geplaas.

Model van die Cremer Ploftoestel (Foto: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke)

Wanneer die swaar gewig van die lokomotief oor die spoor beweeg het, het die spoor, wat nie meer deur die ballas ondersteun is nie, afgebuig. Dit het druk op die sneller uitgeoefen, waarna die geweer ’n loskruitpatroon in die dinamiet afgevuur en die toestel laat ontplof het.

Die ploftoestel was besonder effektief omdat dit onder die swaar gewig van die lokomotief ontplof het en nie onder die trokke wat vooraan die trein as buffer gehaak was nie.

Die Boere kon daarna vanuit beskutte posisies op die begeleidende troepe vuur, wat dikwels tot die spoedige oorgawe van die eskort gelei het. Die lokomotief het gewoonlik ontspoor of omgeslaan, terwyl lede van die Military Railway se siviele personeel ongelukkig dikwels gedood is.

Carl het die ontwerp tydens sy kontak met genl. Louis Botha by Machadodorp, waarskynlik voor die Slag van Bergendal, aan hom verduidelik. Botha het hom versoek om agter die Britse linies werksaam te wees.
Dit blyk dat Carl daarna na Botshabelo/Doornkop teruggekeer het, waar Henri Slegtkamp hom opgespoor en by die Hindon-korps betrek het.

Alexander Max Beuster (1881-1951), wat saam met Carl by die plasing van ploftoestelle betrokke was, was ook van Botshabelo naby Middelburg afkomstig. Hulle het besluit om die toestel saam te toets.

Moderne Geïmproviseerde Ploftoestel (IED) gebaseer op Cremer  ontwerp 125 jaar gelede in Middelburg

Gebruik van die Cremer-myn

Op 6 September 1900 is die ploftoestel op die plaas Doringkop getoets, moontlik Doornbult (530), oos van Balmoralstasie.

’n Groep bestaande uit lt. Henri Slegtkamp, Carl, Lucas Johannes van As en Alexander Max Beuster het die spoor daardie nag genader en die ploftoestel onder die spoor geplaas.

Kort daarna het ’n trein aangekom en ’n ontploffing het gevolg – die toestel het gewerk.

Volgens inligting van swart inwoners in die omgewing het die trein omgeslaan en is verskeie Britte beseer.

Luitenant Henri Slegtkamp (1873-1951) – Hy woon na die Oorlog in Middelburg en is in die Ou Begraafplaas begrawe (Foto: KI Gerestoureer en gekleur)
Lucas van As (1881-1946) en Petrus (Jack) de Wit (1880-?)  – Middelburgers en die mede-ploftoestel-plasers saam met Carl Cremer (Foto’s: Tian Schutte– KI Gerestoureer)

Op 23 Januarie 1901 is ’n gekodeerde boodskap na die Britse garnisoen in Middelburg gestuur dat die Britse opperbevelvoerder, lord Horatio Kitchener, na Middelburg sou reis vir samesprekings met genl. Lyttelton, die Britse garnisoenbevelvoerder met sy hoofkwartier in Highbury Hall in Walter Sisulustraat.
Die spoor moes beveilig word.

Kitchener en ’n begeleidingstrein het tot by Olifantsrivierstasie gevorder en daarna in die rigting van Uitkyk beweeg. Die Boere het ’n Cremer-ploftoestel onder die spoor naby Uitkykstasie geplant.

Die groep, bestaande uit die Hindon-verkenners en veldkornet Piet Minnaar met ’n deel van die Middelburg Kommando, het naby die spoorlyn geskuil en vir die trein gewag.

Hoewel ’n skermutseling by Uitkykstasie plaasgevind het, het die eskorttrein wat Kitchener se trein begelei het, steeds vorentoe gestoom en die ploftoestel geaktiveer.

Die trein het ontspoor. Hoewel Kitchener tot by die toneel gekom het, was hy verplig om na Pretoria terug te keer omdat die spoor eers herstel moes word.

Veldkornet Piet Minnaar – Middelburg Kommando (Foto: Tinus le Roux)

Op Sondag 10 Februarie 1901 het lt. Henri Slegtkamp, Carl, Lukas van As en Petrus (Jack) de Wit ’n ploftoestel naby Uitkykstasie, net buite Middelburg, geplant.

’n Ploegbaas met ’n spoortrollie en vier werkers, wat die spoorlyn geïnspekteer het, het ongelukkig die ploftoestel geaktiveer. Die spoorlyn was nog onder herstel en die ballas was nie behoorlik gekompakteer nie.

Die ploegbaas, A.W. Nelson, en een werker is kort ná die aankoms van die Boere oorlede. Nelson is in Middelburg se Ou Begraafplaas begrawe. Drie ander werkers is op slag gedood en erg vermink. Dit is onbekend waar dié swart werkers begrawe is.

Ploegbase G Peters en AW Nelson se grafte in die Imperiale Grafte Blok in die Ou Begraafplaas Middelburg (Foto’s: Rudi van Wyk)

Verskeie treine is hierna met behulp van die ploftoestel ontspoor

Britte besig met opruiming na trein ontsporing buite Middelburg (Foto: Tian Schutte – Foto KI gerestoureer)

Die toestel is later verder verfyn deur ’n dun koperdraad aan die sneller vas te maak. Die draad kon van ’n veilige afstand getrek word om die toestel op die optimale tyd onder ’n trein te laat ontplof.

Carl se laaste operasie

Omstreeks 03:00 op 10 Augustus 1901 het kapt. Jack Hindon, lt. Henri Slegtkamp, Carl, Petrus (Jack) de Wit en Lucas van As ’n ploftoestel onder ’n spoorduiker oor die Hartbeesspruit by Hartbeeslaagte, naby Warmbad (Bela-Bela), op die noorderspoor geplant.

Die Boere het naby en onder die spoorduiker geskuil.

Teen 14:00 het ’n goederetrein vanuit die suide aangestoom. Voor die lokomotief was ’n gepantserde trok met 14 lede van die 2nd Battalion Gordon Highlanders as beskerming.

Toe die lokomotief oor die ploftoestel was, het Carl die koperdraad getrek en die toestel het ontplof. Die ontploffing het die lokomotief laat ontspoor en van die brug af laat stort. Die siviele stoker, A.H. Lakeman, is gedood.

Die Boere het dadelik begin vuur.
Vanuit een van die goederetrokke is ’n swart doek gewaai. Daar was vroue en kinders in die trok net agter die pantsertrok, op pad na die konsentrasiekamp in Pietersburg (Polokwane).

Die Boere was nie van hul teenwoordigheid bewus nie en het die doek as ’n teken van oorgawe vertolk. Hulle het die trein bestorm, waarop die Britte vanuit die pantsertrok swaar geweervuur op hulle gerig het.
Tydens die aanval op die trein het Carl gesneuwel.

Die verduideliking was dat hy sy bril verloor het en nie sy weg na veiligheid kon vind nie. Daar word beweer dat hy oorgegee het nadat hy sy bril verloor het en dat hy ná sy oorgawe met sy hande in die lug doodgeskiet is.

Hindon het beweer dat die Britte Carl doelbewus doodgeskiet het omdat hulle bewus was van sy rol in die treinsabotasies.

Ses verdere Boere is ook in die aanval dood en ses is gewond.
Die Britte het Carl en die ander gesneuweldes langs die spoor begrawe.

Kapt. Hindon het daarna Carl se persoonlike besittings vir £32 verkoop. Op 30 Oktober 1902 het hy die bedrag in ZAR-note, die sogenaamde Blue Backs, aan prof. Cremer in Duitsland gestuur.

Die eis is egter deur die Central Judicial Commission afgekeur omdat lord Roberts die note op 6 Junie 1900 waardeloos verklaar het. Aangesien Carl vir die Boere geveg het, is hy ook nie as ’n neutrale persoon beskou nie.

Kaptein Jack Hindon se verklaring dat Carl Cremer ‘n lid van sy Korps was en ook dat £32 wat geïn is deur die verkoop van Carl se persoonlike besittings, as ZAR goewermentnote na sy pa in Duitsland gestuur is (Foto:  TAB – Theo Ligthelm)
Kompensasie eis namens  sy vader  in 1903 om die £32 te verdiskonteer. Dit word afgekeur deur die Central Judicial Commision (Foto: TAB – Theo Ligthelm)

Eer aan Carl Cremer en ander gesneuweldes

Op 10 Augustus 1930 het adv. Oswald Pirow, destyds minister van Justisie, ’n monument langs die spoor onthul op die plek waar die burgers gesneuwel het.

By dié geleentheid is ’n groeteboodskap van mej. Anna Amalie Meta Cremer, Carl se suster, oorgedra. Sy was die enigste oorlewende van die gesin en was op daardie stadium 61 jaar oud.
’n Krans is namens haar by haar broer se graf gelê.

Onthulling van die monument by Hartbeesfontein (Foto: Tian Schutte)
Oudstryders tydens die onthulling van die monument (Foto: Tian Schutte)
Mev HC Malan van Bethal, Presidente van die Eer Ons Helde Komitee, bring ‘n groete boodskap van Mej. Anna Cremer, Carl se suster, tydens die onthulling van die monument op 10 Augustus 1930  (Foto: Tian Schutte)

Hiermee het die verhaal van ’n Pruisiese “terroris” tot ’n einde gekom – ’n man wat met sy lewe betaal het vir sy steun aan die Boere.

Carl was ’n unieke karakter wat waarskynlik weens sy swak sig gesterf het nadat hy sy bril verloor en nie kon sien waarheen om te vlug nie.

Carl Cremer se graf langs die spoorlyn naby Naboomspruit (Foto: Hetta Scholtz

Ons onthou die dapper jong man uit die trotse Pruise, met sy sin vir humor en sy verbintenis met Middelburg.

Bibliografie beskikbaar van die outeur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button