News

Ingenieur se oorskot by damwal ingebou

Loskopdam se ryk geskiedenis en die vraag of ’n skool onder die watermassa verdwyn het

Daar is min damme in die land met die ryk geskiedenis van Loskopdam.

’n Geskiedenis wat weer opgediep is, noudat dit bekend geword het dat Loskopdam een van die Forever-oorde is wat aan Benus Trade and Invest verkoop is.

Benus Trade is ’n beleggingsmaatskappy wat regstreeks gekoppel is aan Community Investment Holdings (CIH), ’n beleggingsgroep onder swart beheer.

Inryteater op die bouterrein

Oor die bou van die damwal is daar vele staaltjies, soos die inryteater wat op die bouterrein was en die storie van die hoofingenieur, lt.kol. D.F. Roberts.

Roberts se as is ná sy afsterwe oorspronklik op ’n eiland in die dam begrawe. Toe die damwal egter in die laat-1970’s met nege meter verhoog is, sou die eiland heeltemal onder die water verdwyn. Sy as is toe verwyder en binne-in ’n spesiale nis aan die linkerkant van die damwal ingemessel, waar dit vandag nog is.

Adré Schoombee van die gewilde Explore Loskop Facebookblad het ook die week gevra of ’n skool dalk verdwyn het na die damwal verhoog is.

Sy sê lank voordat Loskopdam die landskap geword het wat ons vandag ken, was die Loskopvallei vol klein plaasgemeenskappe en kinders het plaasskole bygewoon. Volgens die geskiedenis van skole in die Loskop-distrik is die Tweefontein-skool in 1922 gestig. Langs die skool se naam staan ’n stukkie geskiedenis: “Nou onder Loskopdam-water.”

Loskopdam is ’n indrukwekkende gesig wanneer hy oorloop. FOTO: Middelburg Observer-webwerf

Met die bou en vul van die dam is dele van die plaas Tweefontein deur die damwater oorstroom.
Een van die omgewing se raaisels is waar presies Tweefontein-skool gestaan en wat van die gebou geword het.

Enige foto van die skool?

Is dit afgebreek voordat die water gekom het of lê iets daarvan dalk steeds onder die water? En bestaan daar êrens ’n foto van die skool?

Dan is daar die omstrede toespraak wat eerste minister HF Verwoerd op 4 September 1965 gehou het voor die Nasionale Jeugbond, die jeugbeweging van die Nasionale Party. Verwoerd het die jeug toegespreek oor die eise van leierskap. Hy het tydens die rede streng standpunt ingeneem teen gemengde sportspanne en verklaar dat enige buitelandse sportspan wat Suid-Afrika besoek, hom aan die land se apartheidswette en gebruike sal moet onderwerp, wat later gelei het tot die kwessie rondom die Maori-spelers in die All Black-rugbyspan.

Boot bo-oor damwal gejaag

’n Voorval wat inwoners steeds aan die praat het, het op 26 Desember 2000 plaasgevind.
Die 27-jarige polisiespeurder, Morné Beukes van Meyerton, is dood nadat sy boot teen ’n hoë spoed bo-oor die damwal gejaag het.

Die dam was destyds 100,8% vol, wat beteken het dat die damwal onder die watervlak was. Die waarskuwingsboeie in die water was as gevolg van die hoë waterwal nie sigbaar nie. Beukes het die boeie misgekyk en reguit op die damwal afgestuur.

Die boot het oor die damwal gestort en saam met Beukes ver tot onderaan die damwal na benede getuimel. Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood.

Na aanleiding van die tragedie het die Departement van Waterwese destyds die kabels van die waarskuwingsboeie stywer getrek en meer boeie aangebring, om te verhoed dat bote weer te naby aan die gevaarsone beweeg.

Met die hand gebou

Die damwal is oorspronklik tussen 1934 en 1938 gebou, geheel en al met die hand.
Die bouwerk aan die Loskopdam op die plase Loskop en Vergelegen het in 1934 begin. Soos die geval was met baie ander staatsprojekte in daardie tyd, is slegs getroude wit mans in diens geneem. Hulle is vyf sjielings per dag betaal en het gratis huisvesting, voedsel en mediese sorg ontvang.

Teen die einde van Maart 1935 was daar 440 arbeiders in diens.
In Junie 1935 is daar begin met die kanaalstelsel, wat uiteindelik in 1948 voltooi is na ’n onderbreking in die werk weens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog.

In 1978/79 is die dam leeggemaak en met nege meter verhoog tot by sy huidige hoogte van 54 meter.
Volgens die Middelburgse Kamer van Koophandel is die kanaal, wat aan die linkerkant van die rivier loop, 480 km lank.

Die kanaalstelsel besproei ongeveer 1 600 hektaar landbougrond.
Op 15 Februarie 1996 om 03:00 het die damvlak op 117,63% gestaan. Op daardie stadium het water teen ’n tempo van 3,2 miljoen kubieke meter per uur uit die Olifantsrivier ingestroom.

Teen 100%-kapasiteit hou die dam 348 miljoen kubieke meter water, met ’n oppervlakte van 2 385 hektaar.

Damwal verhoog

Ontwikkeling in die Witbank-Middelburg-gebied het dit genoodsaak om die damwal te verhoog, sodat die gedeelte van die gewaarborgde opbrengs – wat intussen geraak is deur die bou van damme stroomop soos Rondebosch-, Witbank- en Doornpoortdam – herstel kon word. Teen 1971, toe die aanbeveling gemaak is om die damwal te verhoog, het Loskopdam se kanaalstelsel ongeveer 25 000 hektaar landbougrond bedien.

Tussen 1974 en 1980 is die damwal met nege meter verhoog tot ’n hoogte van 54 m bo die laagste fondamentvlak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button