“Siddie, Siddie, Siddie… ai, maar dis mooi”, rugby was só mooi
Nou is dit skrum, skrum, skrum... nóg ’n skrum en ’n geelkaart.
“Dawie de Villiers kry die bal in die hande. Hy laat loop na Piet Visasie (Visagie), Visasie na Joggie Jansen, Jansen na Syd Nomis. Siddie, Siddie, Siddie….ai dis mooi, dis mooi.!” Rugby kommentator Gerhard Viviers 1970.
Ons sit vasgevang voor die draadloos, dis die All Blacks teen die Bokke, Piet Greyling, Jan Ellis, Mof Myburgh, Frik du Preez, ons helde.
Dis die jaar 2025 van onse Liewe Heer.
Die Bokke is op die aanval.
Die skrum val.
Nog ’n skrum.
Strafskop.
Weer ’n skrum.
Nog ’n skrum.
Nog ’n strafskop.
Geelkaart.
Skrum.
Nou begin die agttal stadig maar seker vorentoe beweeg.
Hier kom ’n drie.
Die voorrye sak inmekaar.
Jou gemoed sak.
Jou lus vir rugby kwyn.
Wanneer laas het ons ’n volle agterlynbeweging gesien?
Andre The Giant Esterhuizen word vanaf senter na flank geskuif. Wanneer hy nie in die middelveld in spelers vashardloop nie, moet hy dit tussen die voorspelers doen. Botsing op botsing. Geen Danie Gerber wat grasieus deur die verdediging kerf nie. Geen Boerpens Strydom wat hier trap, daar trap en om sy man hol nie. Nee, raak nie nostalgies hier aan die einde van die jaar nie. Dit kom al ’n lang pad.
Moet vandag ruiterlik erken, het van rugby ’n afgod gemaak.
Het al as negejarige tussen my boeties gesit waar die Johan van Riebeeck Stadion se B-veld vandag is. Witbank het in swart truie gespeel. Op haker was Dominee van Rensburg van die Hervormde Kerk. Kort-kort het jy gehoor: “Kom dominee, mooi dominee”.
Iets van die atmosfeer daardie aand het my ’n rugbyverslaafde gemaak. Die reuk van jaffels en pannekoek wat in die lug hang. Die voorspelers se gestoei en die bal wat moet vleuel toe was dopamine op sy beste.
Lekker!

Saterdae het ons op die telbord gewerk. Baljoggie gewees saam met Eric Heyns en die La Grange tweeling Gert en Klasie, programme verkoop tydens provinsiale wedstryde, later van daar saam met Heinrich Marnitz oor die radio uitgesaai, somtyds oorskakelings na Leon Schuster in die ateljee gedoen, koerantman gewees en sekretaris van Witbank Rugbyklub geword.
Kon nie genoeg van rugby kry nie.
Was Dinsdae en Donderdae by die oefeninge en Saterdae was dit wedstryde. Sondae moes ons die saal na ’n wedstryd gaan skoonmaak. Saterdagoggende het Suidoos se laerskole span gespeel, dan die hoërskole, Blesbokke en Suidoos se uitsoek span wat in die Sport Pienaar-beker meegeding het. Voor die eerste afskop was ons al by die veld.
Nóg ’n bieg. Het vele aande in die vroeë oggendure eers huis toe gery.
My verwronge sin van verantwoordelikheid het gemaak dat ek te bang was een van die ander joernaliste scoop my. Jy moes ook eers wag dat die span aangekondig word. Dit was altyd ’n groot storie en debat. Gestry met die keurders, veral Gerrie Gerrits en Pikkie Coetzee
Die Johan van Riebeeck Stadion se onthaalsaal was ons speelplek en kuierplek. Een aand ’n kolf en paaltjies gepraktiseer en sommer daar in die saal, nadat die tannies teen die mure weg is, krieket gespeel.

Ons was een groot familie.
Toe Vleis van Zyl vir die eerste keer vir Suidoos gekies is, na sy Nedbank-woonstel gery om vir hom die nuus te gee. Nadat ’n slot nie opgedaag het by ’n oefening nie, vir Bertus van Eeden by sy woonstel gaan haal om te speel. Vir keurder Pikkie Coetzee in 1979 oortuig om Boerpens Strydom teen Oos-Transvaal te kies, in ’n Curriebeker uitspeelwedstryd en toe druk hy die wendrie. Het in 1976 die eerste keer saam met die Suidoos-Transvaal span na Oos-Londen getoer.
Die Suidoos span in ’n Curriebeker wat met 24 elk gelykop gespeel het was: China Vorster, Boerpens Strydom, Willie Meintjies, Chris Botha, Dirk Pretorius, Harry Muller, Koos Coetzee, Martin van Eeden (k), Piet Cloete, Polla Fourie, Johan Spies, Ben Badenhorst, Jerry van Rooyen, Richard Cooke, Jan Loubser. Daarna die land vol gery agter rugby aan: Bloemfontein, Kaapstad, Upington, Windhoek, Bethlehem, Pietersburg, Newcastle, Welkom…
Die laaste paar jaar hoor jy al meer, “ek kyk nie meer rugby nie”. En dit kom van fanatiese rugby ondersteuners af.
Kan dit nie verstaan nie.
Iemand wat nie rugby kyk nie?
Onmoontlik!
Het nou daardie punt bereik. Sit dit af, sit dit af!
Die frustrasie het net te groot geword. As dit nie vir die stampkarre is nie, is dit die televisie skeidsregter. ’n Kommentator merk verlede week op nadat ’n drie gedruk is en die televisie skeidsregter wil eers sy eiertjie lê: “Hier kom die party pooper!” Jy sidder wanneer ’n duikslag uitgevoer word. Of soos in Jan-Hendrik Wessels se geval ’n speler uit ’n losskrum opstaan. Jy vrees ’n balleseverwarring of iemand wat witkant met nouja, witkant, verwar.
Die party poopers beheer die spel. Die intimiteit van rugby is weg. Kry ’n uitnodiging om die Bulle se oefening by te woon. 15 minute, dan moet jy weg.
Die deure na spelers is toe.
Die lekker stories weg.
Die menslike gedeelte daarmee heen.
Jy kan nie meer oor spelers se beserings en hoe lank hulle herstelproses is berig nie. Jou toegang tot nuus is nou ’n hoogsbetaalde kommunikasie man.
Die publiek ly rugby honger. Rugby is dood, lankal dood, soos ons dit geken het. Ontoeganklike miljoenêrs speel nou die spel.
Ja, dikwels prima donna ouens in rugbytruie.
Ai, ou Kat Smit, Boerpens Strydom, Vleis van Zyl, Fanie Vermaak, Jerry van Rooyen, Polla Fourie, Daan en Ben Badenhorst, Kallie Grobler, Brian Clarke, Robert Brandt, Hans la Grange, ek verlang na julle.
Ek verlang na lemoenskyfies rustyd, ’n vleuel wat die bal by die lynstane ingooi, ’n skopper wat sommer met sy stewel ’n gaatjie maak en dan die bal stel, ek mis onthale na wedstryde, waar ons lekker eet en lekker kuier, ek mis rugby.
Ek mis rugby toesprake.
Rugby is dood.
Rugby van Siddie, Siddie, Sidddie…
…ou Frik du Preez…
…Danie Gerber…
…en Danie Craven!
