Andru hou hoop aan die gang kilometer vir kilometer
Van Middelburg na Middelburg op pad na Jeffreysbaai
“As jy kan lewe moet jy lewe!”
Toe Andru van Zyl (18) op Polokwane weggespring het, vir ’n epiese fietstoer na die Kaap, was hierdie woorde in sy geheue vasgebrand.
Op 18 Desember het vier fietsryers van Middelburg Fietsryklub hom van Loskopdam na Middelburg af vergesel en gister het nog fietsryers saamgery van Middelburg (Oos-Kaap) af na Nieu-Bethesda.
Hy sê vanoggend telefonies vanaf die klein Karoo dorpie dat hy gedink het dit sal nogal cool wees om met sy fiets Kaap toe te ry, maar hy het nooit verwag dit gaan so “pretty spesiaal” wees nie.

“Op Bethulie het niks aangegaan nie. Toe ons op 31 Desember vanaf Smithfield daar aankom, was dit doodstil. Kolonel Anton Crafford het vir ons ’n ete die aand geborg by ’n restaurant, Die Ou Kar. Later die aand was die plek stampvol van die dorp se inwoners.”
Andru sê Suid-Afrikaners se gasvryheid is oorweldigend.
Hy het afgewyk van die hoofweg af en ry nou grondpaaie deur die Karoo en die natuurskoon is asemrowend mooi.
“Ons het die laaste drie dae net grondpad gery en ’n anderste natuurskoon beleef, veral wanneer die son sak.”

Die Karoo grondpaaie en ’n fiets is egter nie maats nie en hy moes al ’n hele paar speke vervang. Dit het hom genoop om nou ’n dikker agterwiel te kry, waarmee hy vandag tussen Nieu-Bethesda en Graaff-Reinet ry.
Daarna is dit Jansenville, Dorschfontein, Bucklands, Patensie voordat hy die kus tref.
“Ek is darem al halfpad, maar het nog ’n lang pad voor. Ons het uitgewerk dat ek reeds 1370 kilometer afgelê het.”
Ervare fietsryers sal kan getuig dat ’n fietssaal en sitvlak nie goeie vriende is nie.
Andru sê egter dat hy sy sitvlak al “ingery” het, maar dat sy liggaam die lang trap begin voel. Veral sy rug, hande en bene begin protesteer teen die daaglikse fietstrap.
“Daar is nie omdraaikans nie, ek gaan klaartrap”.

En na Jeffreysbaai lê Stormsrivier, Plettenbergbaai, Sedgefield, Mosselbaai, Stilbaai, Riversdal, Swellendam, Montagu, Worcester, Paarl en Seepunt nog voor.
Maar wanneer dit swaar gaan dink hy aan die kinders wat met kanker gediagnoseer is en die leuse van Choc Foundation, die rede waarom hy die tog aangepak het: “Where we keep hope alive”.
Lees ook:
Fietsryer veilig in Groblersdal op pad na die Kaap vir kanker
KYK: Affie se oudhoofseun trap Kranspoort met gemak uit
KYK: Fietsryers begelei Andru van Zyl op die pad vanaf Kranspoort na Middelburg
