Die Karoo is nie ’n man se maat nie.
Daar is dalk al vele liedjies geskryf oor die Karoo; die natuurskoon en stilte het mense al tot digkuns gedryf.
Maar vra die dorp se Munga deelnemers, die Karoo is ongenaakbaar.
Wanneer jy hom met ’n fiets aandurf, kan jy soos Cobus Fourie na sy Munga skof verlede jaar net prewel: “Ek lewe”.

Nou het die agttienjarige Andru van Zyl, oud Afrikaans Hoër Seunskool hoofseun, vir dae deur die Karoo se grondpaaie geworstel in sy tog vanaf Polokwane na die Kaap.
Daar is foto’s waar ’n kennisgewingbord waarsku die pad is nie rybaar nie en nog ander waar hy gedaan in ’n grondpad sit.
Maar wanneer Jeffreysbaai jou volgende stop is, het jy ’n ekstra huppel in jou trap.

Andru het op 10 Januarie in Jeffreys aangekom en twee dae daar spandeer, voordat hy vanoggend weggespring het op pad na Stormsrivier.
Dan lê Plettenbergbaai, Sedgefield, Mosselbaai, Stilbaai, Riversdal, Swellendam, Montagu, Worcester en Paarl nog voor.
Sy traptog eindig op 22 Januarie in Seepunt.

En dan is dit die Universiteit van Pretoria waar hy medies gaan studeer.
Middelburgers volg sy avontuur met groot belangstelling, nadat lede van die fietsryklub hom by Loskopdam gaan haal het en hy ook op die dorp oorgeslaap het.
Die afgelope twee weke het fietsryers in groot getalle by hom aangesluit ter ondersteuning van sy poging.
