Vrou met septisemie gediagnoseer na sy by drie staatshospitale was
'n Vrou kry tans behandeling in 'n privaat hospitaal nadat sy septisemie opgedoen het en boonop 'verkeerd gediagnoseer' is deur 'n dokter by die King Nyabela Hospitaal in Middelburg.
‘n Inwoner van Middelburg kry tans behandeling vir septisemie in die Life Midmed Hospitaal nadat sy by drie staatshospitale was na ‘n ongeluk en ‘verkeerd gediagnoseer’ is.
Mandy Mortelmans is nog baie siek en alhoewel sy more ontslaan word, is sy nog nie buite gevaar nie. Die mediese uitgawes is egter al meer as R70 000 en kon hulle eenvoudig net nie bybly daarmee nie.
Haar lewensmaat, JJ Potgieter, het hierdie week vertel dat hy en Mandy op 22 Desember in ‘n baie ernstige ongeluk met twee trokke betrokke was tussen Pongola en Piet Retief. Een trok het ‘n ander een verbygesteek, waartydens die bakkie (waarin JJ en Mandy was), asook die ander trok getref is.

JJ het geringe beserings opgedoen, maar die ernstig beseerde Mandy is na die Piet Retief Provinsiale Hospitaal afgevoer. Dieselfde nag om 23:00 is sy per ambulans na die Witbank Hospitaal geneem vir skanderings en later die nag weer teruggeneem.
Sy het ‘n ernstige sny aan die kant van haar buik opgedoen en dit is toegewerk by die Piet Retief Hospitaal.
Na ‘n paar dae is sy oorgeplaas na die King Nyabela Hospitaal in Middelburg, omdat sy in Middelburg bly.
Worstel met erge pyn, huis toe gestuur
Mandy het die hele tyd baie sleg gevoel en geweldig pyn ondervind. Sy is egter na ‘n paar dae ontslaan en aangesê om om terug te wees op 8 Januarie vir ‘n opvolgondersoek.
Op 7 Januarie het sy onuithoudbare pyn gehad en is hulle na die ongevalle van die King Nyabela Hospitaal vir hulp. “Hulle was ongeskik en het vir ons gesê om die volgende dag, wanneer dit haar afspraak is, terug te kom,” vertel JJ. Sy moes regdeur die nag die geweldige pyn deurstaan.

Die volgende dag was hulle vroeg daar, maar daar is vir haar ‘n nommer gegee en sy moes wag. Vier ure later het die dokter haar eers gesien.
‘Verkeerde diagnose’, tweede opinie
Tydens die ondersoek het die dokter klaarblyklik aangedui dat sy lug het onder haar diafragma en dat sy moet gaan vir ‘n operasie na die Witbank Hospitaal.
Mandy en JJ het besluit om haar te neem vir ‘n tweede opinie na ‘n privaat dokter. Sy is dadelik in die Life Midmed Hospitaal opgeneem waar toetse aangedui het dat sy septisemie het.
Steeds siek, moet geopereer word
Mandy het vanoggend vir familie en vriende laat weet dat sy more ontslaan word, omdat hulle eenvoudig nie kan bybly met die kostes nie. Sy sal egter weer een of ander tyd moet terugkeer hospitaal toe om haar galblaas te laat verwyder. Sy is steeds koorsig en het baie pyn en sal volgende week die spesialis sien om te hoor wanneer die operasie gedoen moet word.
BackaBuddy geopen
Om te help met die hoë mediese uitgawes, is daar intussen ‘n BackaBuddy profiel begin. Persone wat hulle wil ondersteun kan ingaan op die profiel deur op die SKAKEL te kliek.
- Die afgelope paar weke stroom die klagtes in oor diens en ander probleme by die King Nyabela Hospitaal. ‘n Vrou is etlike ure later dood dood nadat die hospitaal geweier het om haar op te neem, omdat sy klaarblyklik ‘nie ‘n noodgeval was nie.’ Daar is ook talle ander bewerings gemaak.
- Die bewerings wat gemaak is, is vir die Departement van Gesondheid gestuur. Daar is nog nie terugvoer ontvang nie en sodra ons ‘n antwoord kry, sal ons daaroor berig.
- Die Mediese Ombudskantoor, asook die Menseregtekommissie wie gekontak is, het bevestig dat hulle die klagtes ontvang het en besig is met ondersoeke.
