
Danie Botha sing:
Jy sal altyd val en seerkry
Sonder dat jy werklik sal verstaan
As jy val dan moet jy gou weer opstaan
Uithou, aanhou, altyd voortgaan
En die seerkry mens se lewens baan
Wie kan dit verstaan?
Maggie Smit (42) weet van val. Maar sy weet ook van opstaan.
Terug in die saal
Drie maande nadat sy ernstig beseer is tydens die RideJoburg fietswedren deur die strate van Johannesburg, is sy more weer terug in die saal.
Sy moes plastiese sjirurgie ondergaan in die Netcare Garden City-hospitaal en is vir twee weke daar behandel.
Sy het haar bewussyn verloor
Die vrou van Middelburg Fietsryklub voorsitter, Johnny Smit, het sowat vyf kilometer na die wegspring geval en onder andere haar neus gebreek, haar bolip het gate in gehad, daar was ’n gat in haar kop, waar haar valhelm haar beseer het en sy het krake aan haar pelvis gehad.
Nadat sy geval het, het sy haar bewussyn verloor en dit eers weer in ’n ambulans herwin.
Mede-fietsryers uitgenooi
Die herstelproses was lank maar nou nooi sy mede-fietsryers uit om moreoggend, 24 Januarie 2026, om 7:00, by GoCycle byeen te kom, vir ’n rustige rit van so 30 tot 40 kilometer om die dorp.
“Ek is so opgewonde om more weer op my fiets te klim,” sê sy.
Intussen het Rudy Projects vir haar ’n nuwe valhelm en bril wat sy stukkend geval het, vervang.
Sy skryf die feit dat sy nie ernstige hoofbeserings opgedoen het nie, aan die gehalte van die valhelm toe.
