Sewe jaar na Maryka Kleinhans in poort sterf – steeds geen antwoorde
Sewe jaar nadat ’n vrou in Kranspoortpas gesterf het, is daar steeds meer vrae as antwoorde.
Op 27 Januarie was dit sewe jaar dat Maryka Kleinhans in Kranspoortpas gesterf het, nadat sy op een of ander manier uit die voertuig gekom het, waarin sy saam met oudpolisieman Awie Geldenhuys, gery het.
’n Mens kan duidelik die spanning in Maryka se ma, Petro Bezuidenhout, se stem hoor wanneer sy sê dat “die rou seer weer oopgeruk word.”
Die geregtelike doodsondersoek hofverrigtinge word hierdie week voortgesit.
Alhoewel daar al getuienis aangehoor is in die saak om te bepaal of Geldenhuys vervolg gaan word of nie, weet haar ma steeds nie presies wat die aand van haar dood gebeur het nie.
Van die bewerings wat gemaak is, is dat sy uit die voertuig gestamp is of self kon gespring het.

Petro en haar man, Johan (wat in die Covidtyd oorlede is) het van die begin af gesê dat hul dogter nooit sou gespring het nie, “want sy het te veel gehad om voor te leef!”
Verskeie getuies het al hul weergawes van wat die aand gebeur het, waaronder personeel van Forever Resorts Loskopdam, wat beweer het dat Maryka en Awie die aand voor hul vertrek gestry het.
Ander getuies was dr. Solomon Mahlangu (patoloog), Tanya van Niekerk (’n vriendin van Maryka), adj. Andre van Struyp (wat die aand op die toneel was), sers. William Kekane (was ook op die toneel) en Awie se broer, Jakobus Hendrik Geldenhuys. Hy het in sy getuienis gesê dat Awie op die toneel vir hom gesê het dat Maryka agter gesit het en skielik ‘weg was’ toe hy omgekyk het.
Deur die jare is daar etlike kere berig dat Maryka se ouers nie haar verhouding met Awie goedgekeur het nie.
Petro en haar ander dogter, Winnie, het gehoop die getuienis wat al gelewer is, hulle nader aan die waarheid sou bring, maar nou is daar net méér vrae. “Ons wil net weet wat regtig gebeur het,” het Petro vanoggend hartseer gesê.
