News

Getuienis in geregtelike ondersoek aangehoor

Daar is getuienis aangehoor in die geregtelike ondersoek van Maryka Kleinhans se dood.

Die geregtelike ondersoek om te bepaal of Awie Geldenhuys vervolg gaan word na die ongeluk waarin Maryka Kleinhans gesterf het, het begin.

Maryka het die aand van 27 Januarie 2019 in Kranspoort gesterf.

Van die bewerings wat gemaak is, is dat sy uit die voertuig gestamp is of self kon gespring het.

Awie Geldenhuys. FOTO: verskaf.

• Die eerste getuies was personeel van Forever Resorts Loskopdam, wat beweer het dat Maryka en Awie die aand voor hul vertrek gestry het.
Daar is videomateriaal gewys wat aangedui het hoe ’n voertuig elke keer vorentoe gery het as Maryka nader gekom het om die deur oop te maak.

• Dr. Solomon Mahlangu (patoloog) het aangedui dat Maryke ernstige beserings aan veral die linkerkant van haar liggaam gehad het. Sy het verder ’n ernstige kopbesering met breinbloeding gehad wat die hoofoorsaak van haar dood was.
Van haar tande was los aan die regterkant in haar mond.

• Dr. Mahlangu het ook gesê dat die aard van haar beserings ’n moontlike aanduiding is dat die voertuig vinnig beweeg het.
Bloedtoetse het aangedui dat haar bloedalkoholvlak baie hoog was.

• Tanya van Niekerk het in haar getuienis gesê dat sy en haar man vriende was met Awie en Maryka en dat hulle daardie betrokke naweek voor haar dood saamgekuier het.

Sy het gemeld dat Maryka ongelukkig was omdat sy en haar ouers baklei het voor sy en Awie daardie naweek soontoe is.

Sy het erken dat hulle almal drankies gedrink het die Saterdag en dat sy en haar man vroeër vertrek het die Sondag.

Volgens haar was daar nie op enige stadium ’n bakleiery tussen Awie en Maryka nie.

Op adv. JJ Venter (wat optree vir Awie) se vraag of sy dink dat Maryka uit die voertuig sou gespring het, het sy ‘ja’ gesê.
Sy het genoem dat sy nie glo dat Maryka selfmoord wou pleeg nie, maar dit dalk op die ingewing van die oomblik gedoen het. “Ons het voor haar dood tydens ’n vorige gesprek oor so iets gepraat en het sy gesê sy sal uit ’n kar uit spring.”
Sy het ook aanmekaar gesê hoe gelukkig Awie en Maryka was en dat Maryka daardie naweek vir haar gesê het dat sy en Awie trouplanne het.

• Adj. Andre van Struyp het gesê dat hy deur kapt. Geldenhuys na die toneel ontbied is. Volgens hom het hy die toneel beveilig tot die plaaslike kriminele rekordsentrum (PKRS) opgedaag het om foto’s te neem en hul ondersoek te doen.
Hy het melding gemaak dat Awie baie emosioneel was op die toneel.

• Sers. William Kekane het ook getuienis gelewer oor sy pligte op die toneel soos om die PKRS tot hulp te wees.

• Awie se broer, Jakobus Hendrik Geldenhuys, het getuig dat hy sy broer ondersteun het op die toneel omdat hy so emosioneel was.

Daar is vir al drie laaste getuies gevra of Awie vir hulle gesê het waar Maryka gesit het en almal was dit eens dat hy gemeld het dat sy agter gesit het.

Adj. Van Struyp het getuig dat Awie aan hom gesê het dat hy die deur hoor oopgaan het en probeer uitreik het om haar te keer.

Awie se broer het getuig dat Awie vir hom op die toneel gesê het dat hy die deur hoor oopgaan het en toe hy omkyk, was sy weg.

Beide het ook genoem dat Awie ’n ent verder op gery het in Kranspoort, omdat dit te gevaarlik was op die toneel om om te draai. Hy het daarna voor Maryka se lyk gaan stop sodat voertuie nie oor haar kan ry nie.

Daar is gevra hoekom Maryka agter sou sit, en het Awie se broer gemeld dat hy altyd gesien het hoe Maryka agter gesit het as sy en Awie iewers heengaan. Hulle het by hom op die plaas gebly.

Die saak is uitgestel na later die jaar vir Maryka se ma, Petro, asook Awie se getuienis.

Lees ook: Familie hoop geregtelike ondersoek bring antwoorde na Maryka se dood

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button