News

Die week in Middelburg se geskiedenis

Die Joodse gemeenskap en bou van die sinagoge

In die Tsaris Rusland met die serfdom, was die Joodse-gemeenskap erg onderdruk. Joodse eiendomsregte was beperk tot die Pale-area in Wes Rusland met sekere stede, selfs in die Pale-areas, buite perke vir Jode.
Onder die bewind van Tsaar Alexander II word serfdom afgeskaf en word Jode meer vryhede toegelaat. In 1881 word Tsaar Alexander II egter in ’n sluipmoordaanval vermoor. Joodse sameswerings word geïmpliseer by die moord en daar vlam anti-Joodse sentimente op in Rusland.

Verslapte maatreëls herroep

Onder Tsaar Alexander III, wat teenwoordig was tydens die sluipmoord op sy vader, word die verslapte maatreëls van sy vader teen die Jode herroep. Die sogenaamde Mei-wette beperk Jode weer tot die Pale-areas – Belarus, Moldowa, Oos-Sentraal Poland, Lithuanieë, Oekraïne en deel van Latvia, en word Jode gestroop van hulle burger-regte.

Daar is ’n aktiewe veldtog teen Jode in Rusland, met brutale pogroms van anti-Joodse betogings, dikwels aangevoer deur die Polisie, wat dan op geweld en vernietiging van eiendom uitgeloop het. Verdere beperkende wetgewing word ingestel. Hierdie geweld teen Joodse-families en hul tradisies vorm die basis van die bekende rolprent Fidler on the Roof. Joodse mans word ook gedwing tot verpligte lewenslange diensplig in die Imperiale Leër, waar hulle as “kanon-voer” gedien het.

Uitgebreide armoede

Binne die Shtetis (klein Joodse dorpie) ontstaan uitgebreide armoede, soos verwoord in die bekende lied “If I were a rich man” uit die film Fidler on the Roof en ervaar veral Jiddisj-sprekende Jode erge armoede met verwoesting van tradisionele sinagoges en gebruike. Die situasie word vererger deur die Russiese hongersnood van 1891-92 en ’n cholera uitbraak met tussen 375 000 en 500 000 sterftes.
Onder hierdie omstandighede begin ’n massiewe emigrasie-dryf uit Rusland na onder meer Amerika en Europa, dikwels deur mense-smokkelaars vanaf verskeie Baltiese Seehawens. Alhoewel die Russiese regering dit nie erken nie, word die emigrasie ooglopend toegelaat om die Jode-vraagstuk op te los. Hierdie emigrasie sou die totale Joodse gemeenskap in veral Amerika vestig. Meeste van hierdie Joodse gesinne het of al hul besittings verloor in die pogroms-geweld, (onthou Fidler on the Roof se perderuiter aanvalle) of moes dit agterlaat toe hulle gevlug het/gesmokkel is na Europa.

Ekonomiese redding

Vir hierdie Joodse mans en hul gesinne bied die ontdekking van goud en diamante in Suider-Afrika ’n groen weiveld van ekonomiese redding. Verskeie Joodse gesinne emigreer veral via London na Suider-Afrika, waar hulle aanvanklik in die Kaap aankom. Hulle vestig geleidelik in die Boere Republieke, en na die Anglo-Boereoorlog verhuis hulle na die noordelike Britse kolonies. Baie word die spreekwoordelike Boere-Jode.

Plaque with Star of David on a stone wall reads: "Foundation stone laid by Rabbi Dr. J.L. Landau, M.A. PhD, on 12th Aug. 1914, 20th day Ab 5674."
Hoeksteen van die Sinagoge. FOTO: Rudi van Wyk.

In Middelburg ontstaan ’n groeiende Joodse gemeenskap met ‘n behoefte aan tradisionele gebruike en geleenthede om saam te aanbid.
Joodse gemeenskap in Kaap, Natal, Vrystaat en Transvaal kolonies.

“’n Kolonie van Luitianë”

As gevolg van die massa immigrasie na eers die Kaap en Natal Kolonies, en dan geleidelik na die Vrystaat- en Transvaalse kolonies, neem die Joodse bevolking tussen 1980 en 1900 met ongeveer 52% toe tot ongeveer 38 000. Voor 1900 was die Joodse bevolking in die gebiede hoofsaaklik uit Wes Europa, met Jode uit Brittanje en Holland wat na die kolonies geïmmigreer het. Die nuwe aankomelinge is hoofsaaklik uit Oos-Europa, sodat die kolonies beskryf word as “’n Kolonie van Luitianë”. Alhoewel beide groepe Joods is, is daar groot verskille tussen hierdie groepe ten opsigte van taal, kultuur en godsdienstige gebruike. Dit lei na antagonisme tussen die twee groepe.

Deel van opbou

In die Transvaal en Vrystaatse Kolonies begin ’n massiewe heropbou van die ekonomie na die Anglo-Boereoorlog, met baie min plaashuise wat nog bestaan en in groot areas is die totale vee-kuddes uitgewis. Terselfdertyd is daar pogings om die ekonomie te stimuleer en die goudmyn bedryf weer aan die gang te kry. Dit is in hierdie klimaat waar immigrerende Joodse gesinne nou in Middelburg begin aankom om deel te wees van die opbou van die plaaslike ekonomie. Die Boere-gemeenskap is brandarm en die Joodse handelaars word in baie gevalle lewensreddend deurdat krediet toegestaan word vir noodsaaklike lewensmiddele. Plaasprodukte word as betaling aanvaar vir klere en ander noodsaaklikhede.

Maar, vir die Joodse gemeenskappe in die areas is die gemeenskapslewe ook ontwrig deurdat daar met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog ’n massiewe eksodus van uitlanders, insluitend Jode uit die twee voormalige Republieke was na die Kaap en Natal, en selfs terug na Europa. Na die vredesluiting op 31 Mei 1902 wou baie terugkeer na die kolonies, maar Lord Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris, beperk die proses deur ’n spesiale komitee onder leiding van Sameul Goldreich aan te stel wat alle aansoeke moes oorweeg.

Stigting van die Joodse Raad van Afgevaardigdes

In hierdie periode ontstaan die behoefte vir ’n enkele liggaam wat namens die Joodse gemeenskap met die koloniale owerhede onderhandel, en dit lei tot die stigting van die Joodse Raad van Afgevaardigdes (Board of Deputies) in April 1903 vir Transvaal en Natal. Konflik ontstaan nou tussen die bestaande Sioniste Federasie en die nuwe liggaam, aangesien nie alle Jode Sioniste (wat vir ’n Joodse staat streef) was nie. Die Yeddishsprekende immigrante en die ou Engelssprekende leiers verskil ook.

Aanvanklik bestaan die gemeenskap uit die Ou Witwatersrand Hebreeuse Gemeente, en die gemeentes in Johannesburg, Pretoria en Durban. Dit word egter uitgebrei na die gemeentes in Jeppestown, Klerksdorp, Boksburg, Potchefstroom en Heidelberg. Die gemeentes kom saam in ’n openbare vergadering op 28 Julie 1903 in die Wanderers Saal wat toegespreek is deur Lord Milner. Geleidelik word ook die Kaap en Vrystaat betrek en kulmineer met Unie-wording in 1910.

A commemorative stone plaque with Hebrew and English text, including a Star of David. It marks the consecration of Middelburg Taharah House on August 25, 1974, by Chief Rabbi B.M. Casper. The tone is respectful and solemn.
Hoeksteen van tweede Taharah huis. FOTO: Rudi van Wyk.

Onderhandelings

Onder leiding van die Raad van Afgevaardigdes word daar met die koloniale owerheid en daarna die Uniale Regering onderhandel om sinagoges en Joodse skole vir Joodse gemeenskappe te vestig.
Die uitbreek van die Eerste Wêreld Oorlog (1914 – 1917) ontwrig hierdie proses, en die Joodse gemeenskappe is aktief betrokke by die oorlog. Ongeveer 3 000 Jode uit die Unie mobiliseer vir die Wêreld Oorlog. Tog begin daar sterk Anti-Semitiese stemme opklink na die Eerste Wêreld Oorlog, maar die Botha en Smuts Regerings bly positief georiënteer tot die Joodse gemeenskap.

Alhoewel daar reeds in 1904 ’n Chevrah Kadisha in Middelburg gestig is om begrafnisse te hanteer, word die tradisionele vereisde Minyan van 10 volwasse Joodse mans skynbaar eers later bereik en fondse word, na die Unie-wording, ingesamel om ’n sinagoge in Middelburg op te rig.

Middelburg sinagoge

Tydens ’n vergadering wat op 13 Maart 1904 plaasgevind het, bespreek die Joodse gemeenskap die stigting van ’n Joodse gemeente, en word die vergadering ingelig dat die regering toegestem het tot die beskikbaarstelling van ’n stuk grond waar ’n sinagoge gebou kan word. Die privaat woning op die stuk grond is omskep in die sinagoge, maar geen inligting kon opgespoor word oor waar hierdie sinagoge was nie. Daar word net genoem dat die materiaal van hierdie gebou later gebruik is om Tahara huis (lykshuis) in die ou begraafplaas op te rig.

Dit blyk dat die eerste genotuleerde algemene vergadering van die Middelburg Joodse Vereniging plaasgevind het op 26 September 1906. Die verkose voorsitter tydens die algemene vergadering was ’n prominente sakeman, E Formund. Tydens hierdie vergadering is die noodsaaklikheid vir die bou van ’n sinagoge bespreek. Daar is eenparig besluit om die nuwe sinagoge te bou aangesien die ou sinagoge wat op daardie stadium in gebruik was, in ’n baie slegte toestand was en buite die dorp geleë was.

Die res van die verkose komitee was: Mnre. A Schmahmann (President van die komitee), A Goldman (Vise president), A Bloom (Sekretaris), J Schmahmann (Tesourier), M Birman (Lid), D Schnald (Lid) en E Formund (Lid).

Bronze mezuzah affixed to a doorpost, adorned with intricate designs and colorful jewels. Background shows a softly blurred interior room.
Mezuzah aan die regterkantste deurkosyn, by die ingang na die Sinagoge. FOTO: Theo Lighthelm.

Alhoewel vergaderings op ’n ongereelde basis plaasgevind het, is daar in alle erns begin om geld in te samel vir die bou van die nuwe sinagoge. Die volgende jaarvergadering is gehou net voor die Rösch Hashonnah (nuwe jaar) waartydens daar weer aandag gegee is aan die bou van die sinagoge, die insameling van fondse daarvoor asook ’n geskikte perseel. Die onderrig van Joodse kinders in Hebreeus was ook ’n aangeleentheid wat ernstige aandag geniet het.

Lykshuis gebou

Tydens ’n algemene jaarvergadering gehou op 28 Julie 1907 deur die Middelburg se Joodse gemeente onder voorsitterskap van Mnr. A Goldman (Verkose President), is daar eenparig besluit om die lykshuis te bou langs die Joodse begraafplaas in Gholfsig.

Eerste Rabbi aangestel

’n Spesiale gemeente vergadering word op 13 September 1912 gehou waartydens die aankoop van erfnommer 126, Coetzeestraat vir die bou van die nuwe sinagoge goedgekeur word. Mnre. Arthur Schmahmann en Joe Epstein, twee trustees, onderteken die Akte van Oordrag aan die gemeente. Wat interessant is, is dat generaal Jan Smuts as staatsprokureur, die Akte onderteken het namens die Registrateur van Aktes. Die eerste aangestelde Rabbi van die gemeente is eerwaarde J Pasvolsky, maar hy het spoedig bedank oor verskille oor sy vergoeding. Sy opvolger was eerwaarde M Taylor.

Hoeksteen gelê

Tenders vir die bou van die nuwe sinagoge word aangevra en na aanpassings van die bou-planne is die tender van mnr. J van Rooyen vir die bedrag van £760 pond (ongeveer R 17 000 in 2026 wisselkoers) aanvaar. Die hoeksteen van die nuwe sinagoge word op 12 Augustus 1914 deur Rabbi Doktor JL Lanau gelê.

Joodse gemeenskap in Middelburg

’n Nuwe Tahara huis (lykshuis) word in 1974 naby die Joodse Begraafplaas in Gholfsig gebou en word amptelik op 25 Augustus 1974 in gebruik geneem. Die hoeksteen van die Tahara huis word deur hoof Rabbi BM Casper gelê. Die eenvoudige gebou met ’n spitsdak, het bestaan uit dubbel sinkdeur aan die pad kant, ’n sentrale ruimte waar die liggaam op ’n baar voorberei is, ’n stoorkamer en dan dubbel deure na die begraafplaas. Daar is ongelukkig geen foto of verdere inligting oor die Tahara huis beskikbaar nie, en die gebou bestaan ongelukkig ook nie meer nie.
’n Woning vir die geestelike bediener van die sinagoge word in 1977 langs die sinagoge gebou maar geen foto’s daarvan is beskikbaar nie.

Aerial view of a cemetery with numerous rows of gravestones and tombs on a grassy field. The layout is orderly, evoking a solemn, peaceful atmosphere.
Joodse begraafplaas by Gholfsig Kerkhof. FOTO: Rudi van Wyk.

Die Joodse begraafplaas is in Gholfsig, en volgens inligting is die oudste graf dié van mnr. Elias Cohen wat in 1903 daar begrawe is. Alhoewel die graf nie ’n steen op het nie, wil dit voorkom of dit graf nommer 1984 is. Die oudste graf met ’n steen op is dié van ’n seun met die naam Harry Cinamon (oorlede Mei 1904).

Toekoms van die sinagoge na 2000

Aangesien die gemeente getalle bly daal het, is die sinagoge in 2004 gesluit en in 2006 aan ’n bekende Middelburg sakeman, mnr. Issey Moshe, verkoop. Alhoewel dit as besigheidsperseel gebruik word, is daar steeds tekens van die Joodse gemeenskap se betrokkenheid in die gebou.

Gewel bokant die hoof ingang van die Joodse Sinagoge. FOTO: Rudi van Wyk.

By die hoofingang aan die buitekant van die gebou is die David-ster teen die gewel, en bokant dit is ’n Hebreeuse spreuk aangebring wat beteken “ Hoe wonderlik is dié plek. Hierdie is niks anders as die huis van God en die poort van die Hemel”.

God se beskerming oor die gebou

Binne-in die voormalige Sinagoge, teen elke deurkosyn is ‘n Joodse “Mezuzah”.  Die houer bevat ‘n miniatuur boekrol met verse uit die Torah (Hebreeuse Bybelboeke) en simboliseer God se beskerming oor die gebou, asook die inwoners se Verbond met God.  Die Mezuzah word skuins gemonteer en wys in die rigting wat ‘n persoon deur die deur beweeg.

Met erkenning en dank aan Rabbi Moshe Silberhaft (National Director and Spiritual Leader – Small Jewish Communities Association of South Africa) en Dr. H Bernitz vir inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button