Middelburg se kolgansfamilie stap almal in ’n ry
’n Kolgansfamilie het inwoners se aandag getrek toe hulle deur Middelburg se Seringstraat gestap het.
Op Middelburg is dit nie “Eendjies, eendjies, stap in ’n ry” nie, maar eerder “Kolgansies, kolgansies, stap in ’n ry … een, twee, drie, vier, gaan hulle verby”.
’n Kolgansfamilie het vanoggend deur Seringstraat gestap op pad na Kleuterskool Kabouterland.
Toe ma- en pakolgans met hul ses kleintjies by die palissadeheining gaan staan en loer, het dit sommer gelyk asof hulle ook deel van die kaboutertjies wou wees.

Mnr. Arthur Hill van die Dagpatrollie-veiligheidsgroep het ’n beroep op inwoners gedoen om die kolgansfamilie mooi op te pas. “Ons het dit verlede jaar gedoen en ek vra inwoners om hulle weer hierdie jaar te beskerm.”
Middelburg is bekend vir sy dierefamilede, en by die Sterkfontein-gastehuis in Sipresstraat is daar selfs padtekens vir die dorp se hasies, uile en tarentale opgesit.