News

Ons erfenis: Verraad en die gevangeneming van die Middelburgse kommando op Bothasberg

Die week in Middelburg se geskiedenis

Gedurende die guerrillafase van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) was die bergreekse noord van Middelburg gewilde wegkruipplekke vir Boere-kommando’s en selfs die Transvaalse Regering. Baie kommando’s het uit die Steenkampsberge, Tautesberg, Mapochsberg en Bothasberg geopereer en gereeld aanvalle op Engelse kolonne geloods. Die Transvaalse Regering het juis op 11 Februarie 1902 in die klowe in Bothasberg geskuil.

Daarom het die Engelse op die gebied noord van die Oosterspoor gefokus. Daar was ‘n massiewe Britse mag onder bevel van Genl.-maj. R.S.R. Fetherstonhaugh in Middelburg beskikbaar vir operasies, met ongeveer 3000 berede soldate, 1600 infanterie soldate, 18 kanonne en 12 masjiengewere. So ook is verskillende afdelings van die “National Scouts” (of Rooikoppe soos die Boere hulle in hierdie geweste genoem het – ondermeer burgers wat oorgegee het en as Joiners vir die Britte geveg het) van Februarie 1902 af aan hom toegesê.  Hierdie kolonne het deur middel van nagtelike aanvalle en dryfjagte gepoog om die Transvaalse Regering en die kommando’s onder kmdt.genl. Louis Botha gevange te neem.

Die Middelburg Kommando was ten tye onder bevel van kmdt. SPE (Fanie) Trichard met verskeie veldkornette as deel van die mag. Ds Alewyn Burger die predikant van die NG Moedergemeente (Witkerk) het die kommando vergesel en was ten tye in die hooflaer. Die Kommando kamp op die plaas Nooitgedacht in die Bothasberg. Genl. Chris Muller was baie onrustig omrede die Middelburg se kommando staties was en het daaroor gewaarsku, maar is meegedeel dat hy verniet bekommerd is en dat kapt. Carel Trichardt in die Middelburg se omgewing besig is om te spioeneer en hulle dus veilig is. Die verkenningskorps van kapt. Jack Hindon was ongeveer ‘n 1,2 km noord van die hooflaer agter ‘n randjie en kapt. Carel Trichardt se kommando ongeveer ‘n 1,6 km oos van die hooflaer ook in die Bothasberg.

Four vintage portraits of men with mustaches, each in distinct attire: a suit, a cowboy hat, military uniform, and a simple jacket, conveying a historic tone.
VLNR.: VK. PIET MINNAAR, KAPT. JACK HINDON, KMDT. FANIE TRICHARDT EN SY SEUN, KAPT. CAREL TRICHARDT WAT OP 20 FEBRUARIE 1902 TE NOOITGEDACHT, BOTHASBERG TEENWOORDIG WAS TYDENS DIE AANVAL OP HULLE LAERS. Foto: Verskaf

Eerstelig-aanval op die Middelburgse laer op 20 Februarie 1902

Volgens ds. Alewyn Burger wat ook in Februarie in die hooflaer was, was die gewoonte dat die wagte elke aand teen sononder verwissel word tot die volgende môre. Hy merk die aand van 19 Februarie op dat die nuwe wag wat moes uitgaan vir die nag, eers wag totdat die dagwag in die kamp aangekom het voordat hulle vertrek. Hy konfronteer toe vir kmdt. Fanie Trichardt oor sy waarneming, maar dié stel hom gerus dat die Boere weet wat hulle doen en so ook as hulle aangeval sou word. Die vyand was mos vêr en alles is rustig! Kmdt. Trichardt se twee seuns, kapt. Carel en Loekie, was omtrent 2 km buite die kamp, maar hulle het ook versuim om addisionele wagte uit te sit. ‘n Entjie van die Boere se laer was daar ‘n paar groepies burgers met hulle beeste terwyl hulle perde in die landerye gekniehalter of uitgespan was. Van die kommandolede het tussen die perskebome op die plaas gekamp. Beide die boord en die kamp het ‘n groot klipmuur om gehad.

A sepia-tone photo shows 14 soldiers in rugged uniforms and hats, holding rifles. They stand and kneel in front of white tents, conveying a historical military scene.
LEDE VAN MIDDELBURG KOMMANDO VOOR DIE SLAG VAN COLENSO (15 DESEMBER 1899)
VVLNR: N PRINSLOO; PIET MINNAAR; JAN SCHABORT; JAPIE SCHABORT*;T BOSMAN; JAPIE MARÉ*;
AVLNR: PIETER SCHABORT; KOOS SCHABORT; WESSELS; ISAAC MINNAAR; P BOSMAN; T BOSMAN; A SMIT *: SNEUWEL IN OORLOG
(FOTO GEKLEUR MET GEMINI AI) Foto: Verskaf.

Nadat die Boere se nagwag die oggend van Donderdag, 20 Februarie reeds voor 05:00 in die laer aangekom en afgesaal het en voordat hulle aflossings vertrek het, begin almal wakker word. Ds. Burger se maat, Christiaan Marthinus Eksteen (wat later die dag sou sneuwel), het koffie gemaak toe die dagwag vertrek. Een van die jong burgers, Retief Koch, adjudant van vk. Piet Minnaar, vertel dat hy soos gewoonlik vroeg opgestaan en solank sy en die veldkornet se perde gaan vang en aan ‘n perskeboom in die laer vasgemaak het. Hy was juis besig om ‘n vuurtjie aan die gang te kry om die ketel te laat kook, toe daar ‘n paar geweerskote uit die rigting van kapt. Carel Trichardt se kamp uit die ooste weerklink en die brandwagte ingejaag kom met die woorde dat die Engelse naby is!

Wat hulle nie geweet het nie is dat die Engelse onder aanvoering van kol. Cecil Park en lt.kol. Edward Ingousville-Williams begelei deur 300 “National Scouts” (met 200 kleurlinge en swartmense) en drie kolonne Engelse soldate bestaande uit 2 000 soldate van die Devonshire Regiment en twee Australiese Regimente, om 06:00 vanuit die ooste ‘n aanval op die kamp gaan loods. Hulle het al langs die Steelpoortvallei afbeweeg gelei deur die “National Scouts”, die buiteposte beset en agter die terugkerende nagwag ingeval en op die dagwag afgekom toe die eerste skote gewissel is. Toe word die hooflaer uit drie rigtings bestorm en ontsnaproetes afgesny.

Four black-and-white portraits of military men in uniforms, each with distinctive mustaches, exuding authority and solemnity. A small UK flag is visible.
VLNR: KOL. C.W. PARK, LT.KOL. E.C. INGOUSVILLE-WILLIAMS, LT.KOL. E.B. URMSTON EN LT.KOL. E.H.H. ALLENBY. Foto: Verskaf

Vk. Piet Minnaar en Retief Koch probeer opsaal. Oral is daar Boere wat hardloop om perde te vang. In die geharwar sien Retief Koch hoe ds. Burger verbydraf met ‘n toom en ‘n halter in sy hande, terwyl hy roep: “Het julle nie my perde gesien nie?”

Die meeste burgers het nog nie hulle perde in die hande gehad nie en het posisie agter die klipmuur ingeneem om die Engelse terug te hou, maar dit was tevergeefs. Op daardie tydstip het ‘n groot aantal Engelse ruiters uit verskeie rigtings aangejaag gekom.

Vk. Minnaar het teruggejaag gekom en geskree: “Kom as julle wil uitkom!” en met ‘n vaart in ‘n westelike rigting weggejaag.  In die paar oomblikke sien hy Kakies en ‘n klomp “National Scouts” besig om die Middelburgers wat moes oorgee, te ontwapen.  Intussen wou kmdt. Fanie Trichardt ‘n klompie burgers bymekaarkry om vanaf die nabygeleë hoogte teenvuur op die Engelse te rig, maar sonder sukses. Die boere probeer nou vlug in die kloof af in ‘n westelike rigting. ‘n Nuusberig uit Lydenburg van 24 Februarie 1902 het die getal Boere krygsgevangenes as 164 aan gegee terwyl 72 perde, 170 gewere, 12 000 rondes ammunisie, waens en muile ook gebuit is.

Ontsnaproete

Vk. Piet Minnaar, Retief Koch, Hendrik van der Nest, Piet Schabort en Lodewyk Bothma bereik die kloof. Op die grond lê-sit Japie Schabort, broer van Piet Schabort met ‘n koeël deur die rug (Minnaar sê dit was hoog deur die heupe). Sy perd staan ‘n paar treë weg met ‘n morsaf agterbeen. Hy probeer nog aansukkel saam met Minnaar en hy probeer om op sy handperd te klim, maar hy was te swaar gewond. Hulle oortuig hom om daar te bly en oor te gee.  Vk. Minnaar kom toe op die identiese tweelingbroers, Piet en Karel Erasmus af, wat in daardie geweste grootgeword het en die kloof goed ken. Hulle dui aan dat daar is net een uitweg is; oor ‘n baie steil rand vol los klippe, aalwyne en doringbome. Terwyl die koeëls om hulle fluit, vlug die boere nou te perd of te voet oor die rand.

A lush green valley stretches between two rolling hills covered in shrubs. The sky is overcast, casting a serene, muted light over the landscape.
WESTELIKE AANSIG VAN DIE KLOOF WAARIN DIE BOERE PROBEER WEGKOM HET. DESTYDS WAS DAAR NIE WATTELBOME IN DIE KLOOF NIE EN DIE GROOT KLIPPE WAAROOR DIE BOERE SE PERDE GESTRUIKEL EN HULLE BENE EN RÛE GEBREEK HET, IS OOR DIE HELE GEBIED SIGBAAR. LT.KOL. URMSTON HET ‘N HINDERLAAG VERDER AF IN DIE KLOOF VIR ONTSNAPPENDE BOERE GELÊ. FOTO: PEET SCHABORT

Adolf Johannes Crafford Gouws en sy seun, Pieter Marthinus Gouws, was net halfpad teen die berg uit toe hulle al twee swaar gewond is en hulle perde ook doodgeskiet word. Adolf Gouws se onderkaak was afgeskiet en ook vele ander koeëlwonde opgedoen onder meer deur die been terwyl sy seun ook lelik deurgeloop het. Beide het oorleef en het na die oorlog die militêre toekenning, Lint voor Wonden ontvang.

A split image shows two vintage portraits. Left: A man in a wide-brimmed hat and bandolier, conveying a rugged intensity. Right: A suited man with a mustache looks composed and formal.
JACOB PHILIPPUS MARÉ SCHABORT (JAPIE) (2/7/1880 – 27/2/1902) WAT BY NOOITGEDACHT GEWOND IS EN LATER IN BRITSE HOSPITAAL IN MIDDELBURG, AAN SY WONDE OORLEDE IS (FOTO: PEET SCHABORT- FOTO VERBETER MET GEMINI AI )

Piet Schabort en Hendrik van der Nest ontdek dat hulle koeëlgate deur hulle klere het! Verder was almal ongedeerd. Selfs vk. Minnaar se agterryertjie, Timan, het saam met hom ontsnap (sy regte name was Stephanus Ngomezulu; hy was ‘n Zoeloe en is oorspronklik deur vk. Vercuiel opgekommandeer teen 2/6- per dag en het die hele oorlog aan vk. Minnaar se sy deurgebring).

Van die Australiërs wat die Boere van die opstal in die kloof af agtervolg het, noem dat die kloof waarin hulle af gevlug het, vreeslik klipperig was.

Die klompie Boere het die plaas Avontuur (135) omtrent 12:00 bereik waar hulle afgesaal het om hulle arme perde ‘n blaaskans te gee. Een vir een het daar ander ontvlugtendes bygekom. Teen 17:00 was hulle 23. Hulle is toe verder die berge en klowe in en het die aand op die punt van ‘n hoë berg teenoor Kranspoort geslaap (waar die Loskopdam later gebou is). Die volgende dag (21 Februarie) is die oorblywende lede van die kommando terug Nooitgedacht (12) toe. Daar tref hulle die enigste oorblywende burger, Gert Bothma aan. Kapt. Jack Hindon wat ten noorde van die hooflaer uitgekamp was, kon ook veilig met al sy verkenners ontsnap, buiten vir Schalk van der Merwe wat daardie nag in die hooflaer oornag het en saam met die ander gevang is.

Krygsgevangenes

Volgens die Rooi Kruis verslae is 162 lede van die Middelburg Kommando gevange geneem by Bothasberg.

Twaalf van die gevangenes was gewondes. Japie Schabort, Marthinus de Jager en oom Frans Beetge, wat deur sy maag en arm gewond was, was swaar gewond. Johannes Nicolaas Hermanus Grobler was in sy rug gewond. Die gewondes is deur die Britse mediese personeel en deur ds. Burger behandel en is toe afgevoer. Ou vader Beetge was besig om te sterf en roep na sy seuns, ds. Burger bid vir hom, maar kry toestemming dat sy 17-jarige seun by sy sterwende vader mag sit. Frans Beetge sterf in die Veldhospitaal oppad na Middelburg.

A black-and-white portrait of a solemn man with a thick beard and mustache, wearing a formal suit with a bow tie, gazing directly at the camera.
FRANS MARTHINUS JACOBUS BEETGE WAT STERF VAN SY WONDE (FOTO: TIAN SCHUTTE – GEMINI AI VERBETER)

Die gevangenis word nou afgevoer en moes, onafhanklik van ouderdom stap, tot kamp opgeslaan is vir die nag. Die burgers is die nag twee-twee rug aan rug vasgebind. Na ontbyt moes hulle verder marsjeer, vir twee verdere dae, met skamele etes. Ds Burger verwys na die Joiners, wat almal Middelburgers was en al die gevangenes geken het, met hul gespot het en geen ondersteuning gebied het nie. Hy noem dat hy hom tot ‘n Joiner-offisier, wat hom baie goed geken het, gewend het vir hulp en geen reaksie gekry het nie. Hierdie ervaring sou jare na die oorlog nog ‘n skeur in die Middelburg gemeenskap bly.

Teen Saterdag 22 Februarie 1902 het hulle Panstasie, oos van Middelburg – ongeveer 40 km vanaf Bothasberg – bereik. Van hier is hulle in perde-spoorweg trokke na Middelburg stasie vervoer vanwaar hulle moes loop na die dorpsaal op Kerkplein, waar die Joiners hul geïdentifiseer het. Ds Burger beskryf hoe die dorp inwoners langs die strate gestaan het en hul bemoedig het en die Joiners hulle gehoon het.

Die gewonde burgers word in No 17 Stationary Hospital in Middelburg opgeneem, waar Japie Schabort en Marthinus de Jager oorlede is. Johannes Nicolaas Hermanus Grobler is na een van die General Hospitals in Pretoria oorgeplaas, waar hy in Augustus 1902 ontslaan is.

A row of white tents and a red brick building sit under a clear blue sky, surrounded by trees and an open grassy field. Two barrels are in the foreground.
NO 17 STATIONARY HOSPITAL IN MIDDELBURG, WAAR JAPIE SCHABORT EN MARTHINUS DE JAGER OORLEDE IS. GEBOU REGS IS DIE OU GEREFORMEERDE KERK (WAT NIE DEEL VAN DIE HOSPITAAL WAS NIE) (FOTO: LAVER VERSAMELING)

Ds Burger beskryf aandoenlik hoe hy die Sondagmôre die Witkerk se klok hoor lui en die gemeente hoor sing, maar as gevangene aangehou word saam met die ander burgers. Dieselfde dag is die Middelburgers terug na die stasie gemarsjeer en na Pretoria per trein vervoer en vandaar via Durban na Indië as krygsgevangenes. Die Middelburgers keer vanaf Augustus 1902 geleidelik terug van die Krygsgevangenekampe. Die anomalie tussen die Joiners en die gevange burgers, veral die wat geliefdes verloor het, sou vir jare in Middelburg voortduur waar inwoners mekaar nie gegroet het nie en ondermeer sekere besighede geboikot is omdat dit aan Joiners behoort het!

A black and white photo of nine men in suits and ties, sitting outdoors under a canvas tent. They appear formal and serious. Hats rest on the ground in front.
MIDDELBURG KOMMANDO LEDE AS KRYGSGEVANGENES SAAM MET DS. BURGER IN BHIMTAL, INDIË (FOTO: AJV BURGER)

Deur die verraad van mede Middelburgers is die Britte gelei na die Kommando se kamp en lei dit tot die gevangeneming en dood van ‘n groot deel van die Middelburg Kommando.

QR code with a pattern of black squares on a white background. The bottom right corner displays the text "TQRCG". No other identifiable elements.
Die volledige dokument deur Tian Schutte met meer inligting, detail plekname en name van persone wat gewond of gevange geneem is, is beskikbaar deur die QR-kode te skandeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button