Wéér ‘n vlaag van hekmotordiefstalle in Kanonkop en Dennesig
Die hekmotordiewe het hul visier ingestel op Dennesig en Kanonkop en het die gemeenskapspolisiëringsforum die afgelope week hul patrollies drasties verskerp.
Die hekmotordiewe het binne die bestek van ‘n naweek 16 hekmotors in Kanonkop en Dennesig gesteel!
Die boewe het tussen 6-8 Februarie op dié uitbreidings in Middelburg toegesak en letterlik ’n sak vol hekmotors gesteel.
Die gemeenskapspolisiërsforum (GPF) het ná die vlaag van diefstalle in hierdie tyd hul sigbaarheid in die twee areas verskerp met meer patrollies. Die statistieke het merkbaar afgeneem met drie hekmotors wat tussen 9-16 Februarie uitgeruk is.
* In die afgelope bykans drie jaar is daar letterlike hordes hekmotors gesteel. In al die gevalle waar kringtelevisiemateriaal aan die Observer beskikbaar gestel is, kon duidelik gesien word hoe vinnig die diewe die hekmotor buite aksie stel van buite af, die hek oopgeskuif word en die hekmotor dan met brute krag uit die grond geruk word. Videomateriaal het gewys hulle skrik ook glad nie vir alarms of honde nie.
Die bende daag altyd op en vertrek met ’n voertuig wat sover moontlik uit die sig van die kameras parkeer.
- Talle Middelburgers wonder steeds of ‘n paar van die hekmotors wat die Witbank Polisie op 12 Januarie teruggekry het, nie dalk hier in Middelburg gesteel is nie. Die Witbank Polisie het tydens ‘n roetinepatrollie ‘n voertuig probeer stop, maar die insittendes het uitgespring en weggehardloop. Met nadere ondersoek is daar 10 gesteelde hekmotors in die voertuig gevind. Dit was alles ‘Centurion’ hekmotors.

