Kinders kyk weer pa se moordenaars in die oë
Bykans 23 jaar nadat hul pa vermoor is in sy winkel, moes sy drie kinders sy moordenaars vandag weer in die oë kyk.
Die kinders van Lappies Labuschagné (65) wat bykans 23 jaar gelede in sy winkel deur aanvallers doodgeskiet is, het vandag weer geveg daarteen dat een van sy moordenaars parool kry.
Lappies (Riaan) Labuschagné, Magda-Marie Brits en Ezanne Boardman het gemengde gevoelens oor wat gebeur het vandag.
Hulle het laat verlede week verneem dat die paroolraad ‘n aanbeveling gemaak het oor Herold Mabuso, een van hul pa se moordenaars.
Hulle het die paroolraad se aanbeveling dat Mabuso parool kry, vir die soveelste keer beveg.
Magda-Marie het ‘n lêer saamgestel vir die paroolraad met redes waarom Mabuso nie parool moet kry nie. Sy het egter die res van die verrigtinge geswyg en geluister na die vrae en antwoorde wat verskaf is.
Ezanne en Lappies het talle vrae gestel en agtergekom dat Mabuso steeds probeer om die sisteem te manipuleer en steeds geen berou getoon het nie.
“Jan en Thabo, het gesmile, terwyl Harold geen emosie getoon het nie!” Thabo Makowane, Mabuso en Jan Magashwa, is in Augustus 2005 deur regter Claassen gevonnis. Makowane en Magashwa is elk 58 jaar gevangenisstraf opgelê en Mabuso het 66 jaar tronkstraf gekry.
Die kinders is dit eens dat die ervaring vandag weer traumaties en emosioneel uitputtend was. “As jy daar instap, herleef jy weer daardie aand…die gebeure. Jy moet geestelik en emosioneel voorbereid wees, maar as ons daar instap, dan stap ons met die innerklike krag wat God ons gee. Dit hou ons staande en gee ons na meer as 22 jaar nog die krag om aan te hou baklei,” is gesê.
Hulle noem dat die paroolraad verskoning gemaak het dat hulle nie by die vorige paroolraad aanbevelingsverhoor ingesluit was nie, en is hulle dankbaar dat hulle vandag die geleentheid gehad het om weer Mabuso se parool teen te staan.
Hulle was ook verstom toe hulle verneem dat Makowane se paroolaansoekverhoor in Mei verlede jaar al was en dat Magashwa se aansoek in Meimaand voorkom.

Elzanne meld dat sy vandag so ver gegaan het deur te sê dat sy hulle as mense vergewe, maar nie die daad nie. “Ek sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie.”
Hulle is daarop gewys dat die wetgewing nou voorsiening maak dat lewenslank 25 jaar is, maar hulle het vas gestaan by regter Claassen se vonnis van 66 jaar vir Mabuso.
“Ons soek geregtigheid, ons wl nie hê die sisteem moet die gemeenskap fail om moordenaars vry te laat nie. As ons net een lewe kan red deur hom agter tralies te hou, het ons in ons doel geslaag. Ons baklei nie net vir onsself en ons pa nie, ons baklei vir almal.”
• Op een van die honderde kruise by die Witkruismonument staan Lappies Labuschagné se naam ook – ‘n stille getuienis van die wreedheid waarmee sy lewe gesteel is.

• Magda-Marie het die jaar toe sy kleinseuns sy Witkruis ontvang het, hul hartseer verwoord in ‘n skrywe oor waarvoor die Witkruismonument staan.

