Kinders veg weer dat pa se moordenaars nie parool kry
Vandag moet drie kinders weer veg dat hul pa se moordenaar nie parool moet kry nie.
Al het ‘n regter die mans wat Lappies Labuschagné (65) op 10 September 2003 koelbloedig doodgeskiet het, vir 66 jaar tronk toe gestuur, het die paroolraad nou weer aanbeveel dat een van hulle uitgaan op parool.

Magda-Marie Brits, sy naamgenoot seun Lappies en Ezanne Boardman moet vandag wéér gaan pleit dat Herold Mabuso nie parool kry nie.
Op haar Facebookblad het Magda-Marie vanoggend geskryf: “Dink en hou ons as familie in jul gebede assseblief. Ons drie kinders gaan weer baklei teen parool by Witbank Gevangenis (Korrektiewe Dienste). Here staan ons by vandag….en laat reg seëvier. Plaas asb U Engele in ‘n laer om ons, en hou ons veilig. Pappa…weer is die een vir paps…en elkeen wat in dieselfde posisie staan, al spaar ons net een persoon se lewe deur te baklei dat hulle agter tralies bly…dan het ons in ons doel geslaag.”

Die kinders is verlede week laat weet dat die Korrektiewe Dienste se paroolraad weer aanbeveel het dat Mabuso vrygelaat word op parool. Dit was asof sy kinders en kleinkinders se harte vir die soveelste keer uitgeruk word.
Hul pa is in sy Disselboom Winkel op Tonteldoos doodgeskiet het. Sy kinders het in ‘n vorige skrywe aan die Observer gemeld dat hul pa, ‘tereggestel’ is, want hul pa is van agter af deur die kop geskiet.
Daar was net R191.20 in die kasregister.
Regter Claassen het Mabuso 66 jaar tronk toe gestuur.
In hul geveg teen parool in 2024 het Ezanne gesê, dat hulle “hulpeloos en verward” voel. Magda-Marie se hartseer woorde was dat hulle voel asof hulle hul pa gefaal het. Lappies het vertel hoe hulle met die vorige paroolaansoeke die drie moordenaars, Mabuso, Thabo Makowane en Jan Magasha uitgevang het dat hulle steeds leuens vertel oor wat presies die dag van hul pa se moord gebeur het.
Ezanne, ’n forensiese ondersoeker, het voorheen vir die korrektiewe paroolraad gesê dat sy uit die aard van haar werk in die meeste gevalle gevind het dat hierdie misdadigers wanneer hulle uitgaan op parool, net weer dieselfde misdade pleeg.
‘Oom Lappies’ soos baie mense hom geken het, was baie geliefd in die Tonteldoos gemeenskap. Sy kinders het hom ‘n pilaar en raadgewer in die gemeenskap genoem en ook met die vorige onderhoud gesê dat hul ma, Bettie, haar doodgetreur het na sy moord.

Hulle is dit eens dat hulle glo aan vergewing, maar het dit voorheen as volg verwoord: “Vergewing kom egter as daar berou is en hulle het tot nou toe, géén berou getoon nie. Dis tog waaroor gevangenisstraf gaan om die daad te straf! Ons is ontneem van die voorreg om die pa en oupa wat ons gehad het, by ons te kan hê.”