Die hoë petrolprys wat op ons wag Woensdag, 1 April, is geen gekkegrap nie, tog het dit ’n grap geword.
Van paartjies wat by ’n vulstasie uiteet, omdat dit ’n duur plek is, tot perde wat ingespan word vir vervoer en meisies wat vir geliefdes vra watter duur parfuum hulle aanhet en dan is die antwoord “Hoë oktaan 95”.
Ja-nee Suid-Afrikaners sit ’n lag in elke moeilike dag.

Wie kan nog al die Covid grappies onthou?
In een van die mees vernietigende tye in menseheugenis het Suid-Afrikaners elke dag gegiggel vir een of ander meme of video.

’n Land wat Koos van der Merwe en Ou Maaik opgelewer het, moet seker ’n goeie humorsin hê?
Om nie te praat van die strokiesprente van Wim Bosman nie. Sy Louis die Laeveld Leeu het elke week ’n lag in Middelburg Observer lesers se dag gesit.

Later was dit Lou Henning se “Ou Maaik” wat ons lesers se donker dae bietjie meer draaglik gemaak het.
Wanneer die petrolpomp jou Woensdag moedeloos glug-glu-glug, onthou dat die pyn ligter gemaak kan word deur te lag.
Positiewe emosies wat angs verminder
Professor Tharina Guse, Departementshoof van die Departement Sielkunde by die Universiteit Pretoria sê: “Wanneer ons lag, ontlok dit positiewe emosies wat angs verminder en afstand gee van die negatiewe gebeure. Deur saam te lag, versterk ons sosiale kohesie en interpersoonlike verhoudinge. Ons voel dus nie so alleen in die krisis nie – juis daarom sien ons soveel memes en grappies wanneer daar gebeure is wat ons almal raak, soos die petrolprys.”
Moet daarom nie hierdie week dink die ou by die petrolpomp langs jou, het nie al sy varkies op hok, wanneer hy uit sy maag lag nie…lag saam…dalk voel jy beter…
