News

Suid-Afrikaanse spiesgooi kampioen vermoor – suster wou geregtigheid sien

Breinkanker eis geliefde Nicoline Maree nadat dokters haar maande gee om te leef

Dood sonder dat sy ooit gesien het dat daar geregtigheid is vir haar Suid-Afrikaanse spiesgooi kampioen suster.
Die gewese Suid-Afrikaanse spiesgooi kampioen, Alta Maree (65), is in Februarie 2018 op Clewer, naby eMalahleni, vermoor en in ’n vlak graf begrawe.
Haar suster Nicoline (68) was, soos sy, oudleerlinge van Hoërskool Generaal Hertzog.
Nicoline was self ’n top spiesgooier en lid van die skool se leerlingraad. Sy het in 1976 gematrikuleer.

Verdwyn

Alta het op 19 Februarie 2018 by haar huis in Clewer verdwyn en op 24 Februarie is die oorskot van ’n vrou op die plaas van Smit Boerdery gekry, deur werkers wat besig was om ’n draadheining te herstel. Die plaas behoort aan mnr. Gert Smit.
Haar identiteitsdokument is langs die Ogiespad opgetel.

Waarskynlik oorval

Die meeste van die persoon in die vlak graf se liggaamsdele, waaronder al haar vingers, was verwyder, wat daarop dui dat dit ’n mutimoord was.
Maree is waarskynlik in haar huis op Clewer oorval, terwyl sy besig was om reg te maak vir aandete. Haar bord met eetgerei is later op ’n tafel gekry.

Deure was oop

Haar swaer, mnr. Willie Nel, is gebel om te gaan ondersoek instel, nadat Maree se bakkie buite haar kleinhoewe op Clewer gekry is, met stukkende vensters. Die huis se deure was oop. Drie gereedskapkaste en verskeie vuurwapens, waaronder ’n .22 rewolwer, .38 rewolwer en .22 geweer, is uit die huis vermis. Sy is waarskynlik op 23 Februarie 2018 ontvoer.
Mnr. Nel, het haar waardevolle atletiek medaljes in ’n boks gekry.

Oorskot wel die van Maree

Twee jaar later het DNS toetse bewys dat die oorskot wel die van Maree was.
’n Gedenkdiens is vir haar in die Witbank Suid NG Kerk in Plumerstraat gehou.

“Besonderse atleet”

Suid-Afrika se spiesgooi ghoeroe, Terseus Liebenberg, het destyds aan die Middelburg Observer gesê Maree was ‘n “besonderse atleet” wat haar beste afstand op 15 April 1972 in Pretoria gegooi het, ’n 54,02 meter.
Sy was junior en senior Suid-Afrikaanse kampioen en het in 1970, ’71, ’72 en ’73 die Suid-Afrikaanse spiesgooi kampioenskappe gewen.

Nooit getroud

Maree het haar na skool as dieselmotorwerktuigkundige gekwalifiseer en is nooit getroud nie.
Nicoline het gesê dat ’n sangoma in verband met haar suster se dood aangekeer is, maar hy is in die tronk vermoor. Hierdie feite kon nie onafhanklik bevestig word nie.

Young person wearing traditional beaded attire and headband, holding a wooden staff. The background features wooden paneling. The expression is serious.
Dennis Sipho Motubatse (34) is ook gearresteer en het uitwysings vir die polisie gedoen, voordat hy in die Witbank Landdroshof op borgtog vrygelaat is en verdwyn het. FOTO: Verskaf.

Hy het verdwyn

Dennis Sipho Motubatse (34) is ook gearresteer en het uitwysings vir die polisie gedoen, voordat hy in die Witbank Landdroshof op borgtog vrygelaat is en verdwyn het.

Geen geregtigheid

’n Paar maande gelede het Nicoline laat weet dat sy met my oor Alta se moord wil praat.
Sy het gewroeg met die feit dat daar nie geregtigheid vir haar suster was nie.
En toe sterf sy op 25 Maart 2026, nadat sy op 5 Maart 2026 haar 68ste verjaardag gevier het.

Nicoline Maree het geregtigheid vir haar suster, Alta, gesoek. FOTO: Verskaf.

Net ‘n paar maande oorgehad

Haar vriendin van die afgelope 30 jaar, Corrie Kruger, sê dat sy in Desember, net voor Kersfees, ’n beroerte gehad het.
In Januarie is breinkanker tydens ’n skandering opgespoor en dokters het gesê sy het net maande oor om te leef.
En nou is sy dood, sonder om geregtigheid te sien, en sonder dat ek ooit sou weet waaroor sy wou praat.
Nicoline het vanaf eMalahleni verhuis na Richardsbaai ’n klompie jare gelede en die laaste paar maande op Chrissiesmeer gewoon.
Haar wens was dat sy veras word.

“Safe Sailing Nicoline Maree”

Die bekende Witbankse musikant, Tommy Sinclair, van Tommy’s Restaurant, het uit Amerika gesê:
Safe Sailing Nicoline Maree (Stretch)… Thank you for the good times and the memories. If you see the rest of the band, tell him I said hi kid.
She was a back up singer in the Elusive Dream Show Band a wonderful voice and good guitar player.

Die Suid-Afrikaanse Polisie is genader vir kommentaar maar het nie reageer nie.
Sersant Constance Beryl Prinsloo, wat destyds by die saak betrokke was, kon nie bereik word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button