KYK: Ondersteuning stroom in vir beseerde rugbyspeler
Rugbyklub hoofafrigter: “Die Here sal met jou wees”.
Net ’n ouer sal weet watter pyn dit is wanneer jou belowende rugbyspeler seun ernstig beseer word.
’n Onbeskryflike pyn, want jy kan nie sy seer beter maak nie.
Jy is ’n magtelose toeskouer.
Daar is duisende vrae in jou kop.
Veral: “Waarom?”.
“Waarom nou?”
Daar is Cravenweek, beurse, ’n toekoms in rugby.
En nou is dit verby, na net een duikslag.

As daar een man is wat daardie gevoel verstaan, is dit Middelburg Rugbyklub hoofafrigter, Henk Wessels.
Sy seun, Jannik, is ses jaar gelede in Sondagsrivierstraat in Aerorand raakgery, toe hy ’n leerling aan HTS Middelburg was. Hy was net 17 jaar oud, in graad elf, en ’n blink boksloopbaan het voor hom gelê.
’n Amarok, het ’n ander voertuig verbygesteek en het Jannik langs die pad getref.
Hy is uit sy skoene gery, het van sy tande verloor tydens die ongeluk, skedelbreuk opgedoen, sy linkerduim gebreek en het ’n linkervoetbesering gehad.
’n Operasie is gedoen om die effense bloeding op sy brein te dreineer.
Sy duim was op twee plekke gebreek.
“As hy penne in die vinger kry, sal hy nie weer kan boks nie,” het hy destyds gesê.
’n Paar jaar later en na groot vasbyt, was hy terug in die kryt.
Nou het Wessels (senior) in ’n hartroerende boodskap die beseerde Jacques Greyling inspireer om nie te gaan lê nie, maar sy besering net as tydelike terugslag te sien.
“Ek hou jou al die laaste twee jaar dop. Ek is jammer wat met jou gebeur het. Jy is ’n masjien wat ’n hele span besig hou,” het hy gesê.
“Hoe gaan mens jou optel? Mens verstaan nie jou seer nie, maar weet die Here het ’n doel met alles.”

Wessels het gesê hy sal vir Greyling bid en hy weet die HTS Middelburg senter sal sterker hieruit kom.
Shelton de Villiers van die Bulldogs sewes span het Greyling ook sterkte toegewens.
Die skitter Rooi Bul senter se milt is geskeur tydens ’n duikslag gister tydens die wedstryd teen EG Jansen van Boksburg. HTS Middelburg het met 46-31 gewen.
Die besering is so ernstig dat Greyling nie weer die jaar mag rugby speel nie.
