Skitter senter skeur milt na harde duikslag
Seisoen verby vir een van Rooi Bulle se yster agterspelers.
Die bobaas senter van HTS Middelburg se eerste rugbyspan, Jacques Greyling, se seisoen is verby.
Hy is gister beseer tydens die NWU Pukreeks se halfeind wedstryd teen EG Jansen van Boksburg.
Hy is lank langs HTS Middelburg se A-veld behandel, maar het later opgestaan, om na sy span toe te stap, aan die oostelike kant van die hoofpawiljoen.
Nadat die eindfluitjie geblaas het, het hy oorgestap in die rigting van die hoofpawiljoen waar hy inmekaar gesak het.
Noodhulppersoneel het hom ondersteun en hy is na die Life Midmed Hospitaal geneem, waar toetse gewys het dat sy milt geskeur is.

Volgens Google is die milt ’n vuisgrootte orgaan in die boonste linkergedeelte van die buik, net onder die ribbes.” Dit funksioneer as ’n kritieke deel van die immuunstelsel deur bloed te filter, ou bloedselle te vernietig, yster te herwin en witbloedselle te stoor, wat infeksies beveg. Dit werk ook as ’n bloedreservoir”.
Dit blyk asof sy sentermaat, Nathan Jansen van Vuuren, se nekbesering dalk minder ernstig is.
Daar word egter nog gewag vir ’n finale diagnose of hy, en wanneer hy weer kan speel.
Van Vuuren is by ’n losskrum vanuit onkant posisie met die skouer geloop, waarna hy neergeslaan en dadelik begin kla het oor pyn in sy nek.

Hy is met ’n draagbaar van die veld gehelp en ook na Life Midmed se Ongevalle afdeling afgevoer.
Die speler wat hom geloop het is met ’n rooi kaart van die veld gestuur.
HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg speel Saterdag teen mekaar wanneer die NWU Pukreeks se finale by Hoërskool Kempton Park aangebied word.
Hoërskool Middelburg het gister met 40 elk gelykop gespeel teen Ben Vorster van Tzaneen, maar dring deur omdat hulle die eerste en die meeste drieë gedruk het.
