Die Airlink Pumas het die naweek weer kuikenmoord gepleeg, teen die Luiperds in die SA Beker.
Die Pumas het die Luiperds Vrydagaand met 85-0 in Nelspruit geklop.
Griekwas het hul sesde agtereenvolgende oorwinning behaal, toe hulle die Oostelike Provinsie met 52-9 in Gqeberha verslaan het, die Valke het die Griffons met 68-36 in Welkom geklop, die Sanlam Boland Kavaliers vir Grens met 74-5 in Wellington, en die Cheetahs die Dotsure SWD Arende met 26-17.
Griekwas is bo aan die punteleer met 30 ligapunte, gevolg deur die verdedigende kampioene Pumas drie punte agter in die tweede plek met 27.
Die Cheetahs is derde met 23 punte, een voor die vierde geplaasde SWD (22). Boland is tans net buite die uitspeelrondtes met 20 punte, gevolg deur die Valke (14), Griffons (11), OP en Luiperds (7 elk) en die oorwinninglose Grens (0).
Die komende naweek word die derde laaste rondte ligawedstryde gespeel. OP skop die naweekprogram af wanneer hulle Vrydag om 17:00 hul Oos-Kaapse bure Grens ontvang. Daardie wedstryd word gevolg deur nog ’n Vrydagaandwedstryd in Potchefstroom, tussen die Luiperds en Boland (18:30).
In die drie Saterdag-ontmoetings, wat almal om 15:00 begin, ontmoet SWD die Griffons in George, die Valke onthaal die Cheetahs in Kempton Park, en dan die groot een in Kimberley tussen Griekwas en die Pumas.
Die vier topspanne na die enkele rondte wedstryde kwalifiseer vir die halfeindrondte en outomatiese bevordering tot die Carling Curriebeker.
Die naweek se kragmeting tusen die Pumas en Griekwas sal waarskynlik bepaal watter span eindig bo aan die punteleer.
Die voorste drie spanne is Griekwas, Pumas en die Cheetahs met die Boland en SWD wat sake uitspook om die vierde plek.
Die Vrystaters onder Frans Steyn speel al beter rugby en is besig om ’n bedreiging te word vir die Pumas.
Boland het na ’n belowende begin al meer uitgesak en baklei nou om oorlewing.
