News

Skole hanteer beweerde aanranding van hokkieseun met nodige erns

Hoërskool Eldoraigne en die Hoër Tegniese Skool Middelburg is steeds besig met hul ondersoeke na 'n ouer 'n persvrystelling uitgereik het wat beweer dat haar seun aangerand is na 'n hokkiewedstryd.

Beide Hoërskool Eldoraigne en die Hoër Tegniese Skool Middelburg het vanmiddag bevestig dat hulle die aanrandingsbewerings wat ‘n ouer van HTS Middelburg gemaak het, ernstig opneem.

Die kind se ma het in ‘n persvrystelling aan die Observer Sondag gesê dat haar seun ernstig beseer is en behandeling ontvang het na die NWU hokkiefinaal by Eldoraigne se sportvelde.

Mnr. Malem van Heerden, hoof van HTS Middelburg, het gesê dat die skool se dissiplinêre komitee reeds besig is met die ondersoek en al reeds die weergawes van die leerders ontvang het.

“Ons het ook van NWU se direksie die instruksie ontvang dat beide die leerders wat rooikaarte ontvang het nie verder hokkie kan speel voordat die ondersoeke nie afgehandel is nie.”

Hy het aangedui dat hy en mnr. Retief van Eldoraigne ook gister telefonies gekommunikeer het, “en ek kan met sekerheid noem dat hulle die saak ook met die nodige erns hanteer.

Die beheerliggaam van Hoërskool Eldoraigne het vanmiddag ‘n persverklaring uitgereik na aanleiding van die Observer se navrae.

Dit lui as volg:

“Ondersoek na voorval op 18 April 2026.

“Hoërskool Eldoraigne is bewus van die mediaverklaring wat uitgereik is deur die ouers van ’n leerder van HTS Middelburg rakende ’n voorval van beweerde aanranding wat na afloop van die NWU-hokkiefinaal op Saterdag, 18 April 2026,plaasgevind het.

Die voorval is ook onafhanklik aan die Skool gerapporteer deur die skool se personeel wat aan diens was op die dag.

Die Skool se bestuur en die Beheerliggaam beskou hierdie voorval in ’n uiters ernstige lig.

Die skool beklemtoon die volgende punte:

* Formele ondersoek: ’n Omvattende interne ondersoek is reeds oor dienaweek van stapel gestuur. Die Hoof van Dissipline van die Skool is tans besig om alle beskikbare inligting te versamel, insluitend verklarings van personeel, ooggetuies, die beskikbare beeldmateriaal en enige ander relevante feite en/of omstandighede.

Ons verwag dat die ondersoek teen die einde van die week voltooi sal wees. Die uitslag van die ondersoek sal bepaal wat verder gebeur.

* Dissiplinêre kodes: Hoërskool Eldoraigne handhaaf ’n beleid van zero-toleransie teenoor enige vorm van geweld of wangedrag.

Indien daar bevind word dat enige van ons leerders die Skool se gedragskode oortree het, sal die nodige streng dissiplinêre stappe onverwyld geneem word in ooreenstemming met die skool se gedragskode en die Suid-Afrikaanse Skolewet.

* Samewerking: Ons sal ten volle saamwerk met die relevante onderwysowerhede.

Ons Skool is ook in kontak met die hoof van HTS Middelburg aangaande die voorval en hou die organiseerders van die reeks ook op hoogte van verwikkelinge.

Respek vir proses en vertroulikheid: Aangesien die voorval minderjariges betrek en daar sprake is van ’n regsproses, kan die Skool nie op hierdie stadium verdere kommentaar oor die meriete of die spesifieke
besonderhede van die voorval lewer nie.

In ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Skolewet, ander relevante wetgewing rakende die beskerming van minderjargiges en wetgewing op die beskerming van persoonlike inligting (POPIA), is dissiplinêre verrigtinge teen minderjarige leerders streng vertroulik.

Die uitkoms van die ondersoek en ‘n moontlike dissiplinêre proses en/of enige ander stappe sal wel gekommunikeer word aan die skoolhoof van HTS Middelburg.

Hoërskool Eldoraigne is verbind tot die bevordering van goeie sportmanskap en ’n veilige omgewing vir alle leerders en besoekers aan ons Skool, sowel op en van die veld af. Ons is vasbeslote om hierdie aangeleentheid met die nodige deursigtigheid en integriteit te hanteer. wat

Die Skool neem kennis van die kommentaar op sosiale media rakende die voorval, sommige waarvan ongelukkig total onwaar en selfs lasterlik is teenoor die minderjarige leerder(s) betrokke en die Skool.

Die Skool gaan nie op hierdie stadium kommentaar lewer op enige van die sosiale media plasings nie.”

  • Die ouer is gevra vir meer besonderhede rakende die strafsaak wat by die polisie geopen is. Sy het egter gesê dat hul prokureur hulle geadviseur het om nie op hierdie stadium nog enige verdere inligting te verskaf nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button