News

Cardiff en Glasgow afrigters se lang pad van Witbank na Bloem én Benetton

Corniel van Zyl en Franco Smith het by Pumas se bestes geleer.

Hulle het saam gespeel, saam afgerig en nou is hulle teenstanders in die Verenigde Rugby Kampioenskap.
Franco Smith en Corniel van Zyl het nog iets in gemeen; hulle is deur een van die beste Puma afrigters ooit, Chris Grobler, gebrei.

Dat hulle vandag as afrigters van die Glasgow Warriors en Cardiff presteer, is nie ’n verrassing nie.
Grobler het in 1991 die Direkteurstrofee gewen as afrigter van HTS Middelburg.

Nadat die Springbok keurder, James Stoffberg, die Suidoos-Transvaal span vir vier jaar afgerig het, het Grobler saam met HTS Middelburg se adjunkhoof, Poerie van Rooyen, in 1999 die leisels oorgeneem.

Die jaar daarna rig hy en Blikkies Groenewald die span af.

Corniel van Zyl heel regs toe hy vir die Pumas gespeel het. Heel links is die voorry Danie Saaiman. FOTO: Tobie van den Bergh.

In 2001 begin ’n suksesvolle paar jaar saam met die Bok senter, Danie Gerber. Chris Buitendach het ook daardie jaar gehelp en die volgende jaar die Blou Bulle losvoorspeler, Pote Fourie.

Vanaf 2003 tot 2007 het Grobler en Gerber verskeie hoogtepunte met die span behaal, waaronder die verowering van die Sailbeker teen ’n sterk Blou Bulle span.

Die gebore Nelspruiter, Van Zyl, word vanaf 2002 tot 2004 deur Grobler en Gerber afgerig. Hy speel 53 wedstryde vir die Pumas.

Smith draf vanaf 2001 tot 2002 19 keer vir die Pumas uit.

Franco Smith rig die Glasgow Warriors af en het ook vir die Springbokke gespeel. FOTO: Verskaf.

Die twee oud Pumas se rugbyloopbaan volg daarna byna die selfde pad, met albei wat by die Vrystaat ’n draai maak en later Benetton en die Italiaanse nasionale span.

Smith is ’n voormalige Springbok losskakel wat nege wedstryde vir sy land tussen 1996 en 1999 gespeel het.

Hy het ook vir Griekwas en Blou Bulle uitgedraf, sowel as Newport, Bologna en Benetton Treviso.

Smith het kort na sy aftrede begin afrig, eers as agterspeler-afrigter vir die Vrystaat Cheetahs, voordat hy in 2007 na Italië teruggekeer het as hoofafrigter van Benetton. In Treviso het hy twee nasionale kampioenskap titels gewen.

Hy het in 2014 na die Cheetahs teruggekeer en hulle na twee Curriebeker-titels in 2016 en 2019 gelei.
As afrigter van die Glasgow Warriors in die Verenigde Rugby Kampioenskap klop hulle die Vodacom Bulls in 2024 in Pretoria in die eindstryd van die kompetisie.

Sam Gerber wat deesdae by plaaslike hoërskole rugby betrokke is saam met sy oom, Danie Gerber. Die Springbok senter en Chris Grobler was ’n uitstekende afrigters kombinasie. FOTO: Tobie van den Bergh.

Van Zyl het in 2005 vir die Cheetahs uitgedraf.

Hy het 48 verskynings in die Curriebeker vir die span gemaak, voordat hy in 2007 na Italië verhuis, om vir Benetton te speel.

Terwyl hy by Benetton was, het Van Zyl Italië A verteenwoordig, voordat hy die 2011 Italië Wêreldbeker-groep haal.

Hy het in vier van Italië se Wêreldbeker-wedstryde gespeel.

Van Zyl het in 2015 uit professionele rugby getree en die laaste van sy 160 wedstryde vir Benetton gespeel, voordat hy vir een laaste keer by die Cheetahs aangesluit het.

Na sy aftrede het hy by die Cheetahs begin afrig saam met die einste Franco Smith.
En nou is hy aangestel as Cardiff hoofafrigter.

Die span het die naweek ’n dramatiese oorwinning oor Scarlets behaal.

Met Glasgow bo aan die punteleer en Cardiff sewende, is die twee afrigters op ’n baan waar hulle dalk later die seisoen kan bots.

Dit sal die klimaks wees in ’n loopbaan wat hulle op ver paaie gelei het: Witbank, Bloemfontein, Italië en nou die Verenigde Rugby Kampioenskap.

Gaan die slot koning kraai of die losskakel?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button