Middelburg se Meneer Christiaan Gouws, rugbyhoof van Hoërskool Middelburg, is dié week op die gewilde kykNET-program, Toks en Tjops.
Dis sportpraat, lekker stories en ’n losie wat lééf, vanaand om 20:00, op Dstv, kykNET, kanaal 144.
Boonop, gaan Chef Vaatjie seker maak dat geen magies raas nie.

Gouws gesels
Gouws bring nie net insig oor skolerugby nie, maar ook ’n vars, eerlike perspektief oor die spel.
Hy praat reguit oor die uitdagings wat plattelandse skole tref, van kleiner getalle tot die feit dat stadskole aggressief spelers werf.
“Ons het nie die getalle van skole soos Monument of Waterkloof nie, maar wat ons het, is hart.” sê Gouws oor Middies se rugby vooruitsigte vir die Noordvaal-beker.
Hy weet waarvan hy praat. Hy het in Bethlehem grootgeword en sy skoolloopbaan by Grey College voltooi.
In die verlede het hy by verskeie skole afgerig, van Cradock tot Pretoria en Johannesburg, voordat hy by Hoërskool Helpmekaar was.
Nou is hy terug in ’n nuwe rol by Middies, getooi in groen en goud, gereed om te bou.
Virseker Noordvaal Beker
Die tyd vir praat is verstreke, want die Virseker Noordvaal Beker, is hier.
Op Saterdag, 25 April skop die eerste wedstryde in die Plaat-, Bowl- en Wes-afdelings af. Met meer as 220 skole wat deelneem, bly dit die grootste en oudste skolerugbykompetisie in Suid-Afrika. ’n Trotse tradisie wat reeds in 1920 ontstaan het.

Die kompetisie bring spanne van ses unies bymekaar:
- Pumas
- Limpopo Bulls
- Blue Bulls
- Lions
- Leopards
- Valke
Middelburg mag maar
Daar is egter goeie nuus vir die dorp. HTS Middelburg is die 2025, SDC Noordvaal Plaat-afdeling kampioene in die eerstespan-kategorie. Dit bewys dat plaaslike talent steeds met harde werk en leiding, kán wen.
Vir Hoërskool Middelburg wag ’n groot uitdaging. Ná verlede seisoen se skuif, betree hulle nou, die taai Beker-afdeling, waar elke wedstryd tel en geen span sommer opgee nie.
Kyk net die seisoen!
Met Gouws nou aan die stuur van Middies-rugby, en sy span wat voorberei vir die land se top skolerugby, is die vraag eenvoudig, “Is jy reg vir dié seisoen?”
Sy antwoord; “Kyk jý vanaand Toks en Tjops?”

