News

Middelburg Erfenis: Die week in Middelburg se geskiedenis 27 April

Carolus Trichard

Sy lewe lank trek hy rond om onder Britse Imperialisme uit te kom, en sterf ironies terwyl die Britse vlag oor Middelburg wapper!
Op 25 April 1901, midde in die Anglo-Boereoorlog, sterf Carolus Trichard, ’n wyd berese reisiger, volks-patriarg en seun van die Voortrekker-leier Louis Trichard, in Middelburg. 29-dae later sterf ook sy eggenote.
Hul woonhuis is steeds ‘n treffende erfenisbaken in Middelburg.
(Verskeie spellings bestaan in die rekords en argiefstukke vir die van Trechardt, Trichard en Trichardt. Die boedel dui spelling Trichardt aan terwyl die grafskrif Trichard aandui.)


Die Groot Trek

Louis Tregardt (1783-1838) (let op spelling van sy van, later gespel “Trichard” begin in 1834 sy plase in die Oos-Rietrivier verkoop en begin geleidelik na die binneland beweeg. Hy sluit hom in Gealekaland by sy oudste seun Carolus (Carel) Johannes Tregardt (1811-1901) aan wat reeds vroeër na die gebied getrek het en ten tye 23 jaar oud was. Carolus Johannes Tregardt is op 3 September 1811 op Boschberg, tans Somerset-Oos of Bruintjieshoogte gebore. Hy tree op as wamaker en ambagsman van Louis Tregardt se latere trekgeselskap

Foto 1: Carolus (Carel) Johannes Tregardt (1811-1901)

In September 1835 beweeg die Tregardt-geselskap van ongeveer sewe gesinne na die binneland oor die Oranje Rivier by die huidige Aliwal-Noord. Die geselskap beweeg wes van die huidige Middelburg verby, tot aan die Soutpansberg. Drie van Louis Tregardt se jonger kinders sterf hier.

In Augustus 1837 beweeg die geselskap, insluitend Carolus, na Lorenzo Marques (Maputo) in die huidige Mosambiek. Hier sterf Louis se vrou Martha Elizabeth Susanna (Bouwer) (1796-1838), Carolus se vrou Hendrina Cornelia Trichard (Bouwer) (1795?-1838) en Carolus se kind Louis Gustavus (Gustaf) Triegaardt (alternatiewe spelling) van malaria. Louis Tregardt self ook sterf op 25 Oktober 1838 in Lorenzo Marques.

Ontdekkingsreise

Carolus vertrek in Junie 1838 voor sy vader se dood, noordwaarts met ’n Portugese kusvaarder Estella de Demão vir verkenning vir ’n moontlike vestiging. Hy bereik Inhambane, Sofala en Kilimane (Qulimane). By elke hawe onderneem hy verkenningstogte na die binneland. Hy verken die area om die huidige Harare, wat ’n gunstige indruk op hom maak. Alhoewel beweer word dat hy die Zimbabwe ruïnes bereik het, bestaan geen bewys daarvoor nie. Die bewering dat hy die Victoria Waterval bereik het voor Livingstone is onwaarskynlik as gevolg van tydsduur. Hy het egter wel die Cabora Bassa stroomversnellings bereik. Hy reis verder tot by die groot mere area, Zanzibar, en al langs die Abessynse (Etiopië) kus op tot by Kaap Guardafui en Jibuti aan die Rooi See.

In Julie 1839 keer hy terug na Lorenzo Marques. Met sy terugkoms vind hy dat sy vader, eggenote en kinders aan malaria oorlede is en die oorblywende lede van die trek met die Maseppa na Port Natal gebring is. In die tweede helfte van Oktober 1839 het hy ’n reis op versoek van die Goewerneur na Madagaskar, onderneem om vee te koop en daarna ’n tweede reis langs die Oos-Kus van Afrika. In 1840 keer hy terug na Lorenzo Marques en reis suidwaarts tot in eSwatini. Hy ontmoet Sobhuza I (1815-1836) wat verantwoordelik was vir die moord op die verslane Dingaan. Dié toon aan hom die lyk van Dingaan wat onbegrawe op ’n skotskar lê (die feite word bevraagteken en die moord was waarskynlik eers op 15 Maart 1840). Hy reis te voet en perd verder totdat hy in Mei 1840 by die kamp van Willem Landman in Natal aankom.

In 1840 is hy op 29-jarige ouderdom in Pietermaritzburg weer getroud met Zacharia Geertruida Erasmus, dogter van kmdt. Stephanus Petrus Erasmus. Hy neem in Mei 1842 deel aan die slag van Congella teen die Britte, wat lei tot die oorgawe van die Volksraad op 5 Julie 1842. Sy oudste seun, uit die tweede huwelik, Louis is in 1842 in Natal gebore.

Foto 3: Zacharia Geertruida Trichard (Erasmus)

Hy verlaat in 1845 Natal en gaan woon by Ohrigstad, daarna op Rosekrans (Rose Krans) naby Krugerspos, daarna in Potchefstroom en teen 1871 Standerton. Uit die huwelik is vier seuns en vier dogters gebore. (Ondermeer Stephanus Petrus Erasmus Trichard op 23 Januarie 1847, wat Kommandant van die ZAR Staatsartillerie sou word).

Foto 4: Rosekrans se opstal – Carolus Trichard se plaas naby Krugerpos (Orichstad) (Foto: TAB – KI gekleur)

Vestiging in Middelburg

foto 5: Trichard woning in Walter Sisulu Straat (Foto: T Ligthelm 2017)

In 1896 verhuis Carolus en sy eggenote Zacharia na Middelburg na ’n woning oorkant die Witkerk (Erf 305 die huidige “Trichard huis”).

Foto 6: Kaart deel van Transportakte (Foto: Aktekantoor

Hulle verhuis na Middelburg omrede sy kinders hier woon. Die oudste oorlewende seun, Louis, is in 1900 gelys as die eienaar van die plaas Bankplaas buite Middelburg terwyl Stephanus PE Trichard reeds in 1894 twee erwe in Middelburg koop (Akte 952/1894). (Volgens Carolus se boedel besit hy die plase Keerom 473 en Vlaklaagte 477 asook ’n woning op erf 514 in Middelburg – in huidige Viljoenstraat).

Foto 7: Kommandant-Generaal Piet J Joubert en Carolus Trichard in Middelburg in 1891 (Foto: TAB – KI Gekleur)

In 1895 op 84-jarige ouderdom reis Carolus met van sy kinders en kleinkinders, vanaf Middelburg, met die pas voltooide spoorweg na Delagoabaai, en besoek die klein kerkhof van die Trichard-trek in Maputo, waar sy vader en moeder begrawe is.

Foto 8: Die Trichard-Begraafplaas en monument in Maputo (Foto: Theo Ligthelm)
Foto 9: Voordeur tot die huis (Foto: T Ligthelm 2017)

Met die inname van Middelburg op 27 Julie 1900, is verskeie huise in die dorp deur die Britse gesag gekommandeer as wonings vir offisiere. Carolus se woning is nie gekommandeer nie, alhoewel die Britte hom besoek om sy geweer en bandelier af te neem. Hy sit die bandelier om sy lyf neem sy Mauser en daag die woedende Britse offisier uit om hom te skiet. Carolus (toe 89 jaar) en sy eggenote Zacharia Geertruida (toe 77 jaar) bly in die woning gedurende die Britse besetting.

Carolus Trichard sterf op 25 April 1901 in die huis en word in Middelburg se Ou Begraafplaas begrawe. Sy eggenote Zacharia Geertruida sterf 29 dae later op 20 Mei 1901, ook waarskynlik in die huis.

Die huis was in die naam van sy seun Stephanus PE Trichard geregistreer, want die huis word glad nie in die boedel van Carolus gelys as ’n bate nie. Die kaart van Middelburg dui ook die woning aan as die woning van kol (sic) S Trichard en Karel Trichard.

Foto 10: : Boedel van Carolus Johannes Trichard (Foto: T Ligthelm )
Foto 11: Grafte van Carolus Johannes Trichard en Zacharia Geertruida Trichard in die Middelburg-Wes Begraafplaas (Foto’s: Rudi van Wyk)

In 1905 verhuis Stephanus PE Trichard na Kenia, maar die woning bly steeds in sy naam geregistreer. In Oktober 1907 sterf hy tydens ’n jagekspedisie in Kenia, waarskynlik aan ’n hartaanval. Die huis word in 1908 op beslag gelê deur Standard Bank as ’n bate in die insolvente boedel van SPE Trichard en per veiling verkoop.

Foto 11: Grafte van Carolus Johannes Trichard en Zacharia Geertruida Trichard in die Middelburg-Wes Begraafplaas (Foto’s: Rudi van Wyk)

Trichard Woning

Die huis word in 1962 die eiendom van Joyce Dorothy Wheeler (1919-2005) vir 29 jaar tot 1991. (Moontlik was dit voor hierdie tyd die eiendom van haar vader, William John Wheeler (1887-1964).
Die huis verwissel daarna in 1991 vinnig van eienaar van Joyce Wheeler na Barend & Judy Badenhorst en dan na Ella Prinsloo ook 1991, tot ’n beslote koöperasie Flamer in 1992, die huidige eienaar.
Die huis het oor ’n periode dramaties verval, maar dit is gerestoureer as ’n praktyk-spreekkamer vir ’n geneesheer.

Foto 13: Die woning van Carolus Trichard in Walter Sisulu straat (Foto: Rudi van Wyk)

’n Kleurryke ontdekkingsreisiger, wat verskeie gesin tragedies ervaar het, die vermoorde Dingaan gesien het en midde in die Anglo-Boereoorlog in Middelburg sterf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button